Kankerstryder verras met vioolkonsert in tuin

Ria (links) saam met haar gesin; Marion, Megan, Chris en Luca (Foto: Verskaf)

Vandat sy kan onthou, wou sy die viool bemeester. Daardie gly van die strykstok op die snare is vir haar soos wanneer jy in ’n heerlike suurlemoenmeringuetert byt en die meringue begin wegsmelt in jou mond.

Ria Reynolds (49) sê ʼn viool laat haar voel asof haar hele lyf wegsmelt. Sy was nog altyd, en is steeds, absoluut gaande daaroor.

Reynolds, wat in Centurion woon, is in 2019 met borskanker gediagnoseer. Sy het ʼn mastektomie ondergaan en ontvang tans chemo-behandeling. In die nasionale staat van afsondering kan Reynolds nêrens heen gaan nie omdat haar immuunstelsel nou besonder swak is.

Reynolds se vriendin Elmarie de Jongh het dit daarom goedgedink om te reël dat iemand vir Reynolds by haar huis met ʼn elektriese viool gaan vermaak.

De Jongh het haar dogter se musiekjuffrou, Rosa Anderson Loots, wat ʼn wye kontaknetwerk in die musiekwêreld het, gevra om hulle uit te help.

Anderson Loots het toe ʼn plasing op Facebook gemaak om te hoor of iemand vir Reynolds in haar tuin sal gaan viool speel. Binne etlike ure het mense aangebied om te help. Reeds die volgende dag het die violis Johan Scheppel in Reynolds se tuin vir haar op die elektriese viool gespeel.

“Johan het hier aangekom en alles van klassieke musiek tot rock ʼn’ roll gespeel. Dit was ongelooflik. Ek het my eie vioolkonsert by my huis gehad!” sê Reynolds.

Scheppel, wat al op talle internasionale verhoë voor prinse en presidente vertonings gelewer het, sê dit was vir hom heerlik om weer ʼn slag die elektriese viool te kan speel, aangesien hy nie tydens afsondering vir enigiemand kon optree nie.

“Dit was so lekker om net te speel sonder enige agenda. Dis nie vir werk nie, dis net vir die liefde van musiek. En as jy iemand se dag daarmee kan maak, is dit soveel beter,” sê hy.

Reynolds sê die res van haar gesin het ook die vioolspel geniet.

“Dit was awesome. Selfs my kinders was in vervoering en my man, wat nie eintlik van klassieke musiek hou nie, het ook hoendervleis gekry. Dit het gevoel of die musiek so deur jou liggaam vloei.”

Sy vertel sy het onderneem om eindelik te leer viool speel ná hierdie tuiskonsert.

“My hele lewe lank het ek gesê ek wil leer viool speel voor die dag dat ek doodgaan. Ek het as kind geleer kitaar en klavier speel, maar nooit by viool uitgekom nie. Ek dink my ouers was maar bang vir die geraas wat die oefening sal maak,” skerts sy. “Maar ʼn elektriese viool is so sag dat dit niemand se ore seermaak nie.”

Wanneer Reynolds haar elektriese viool kry, gaan Scheppel haar aanlyn klasgee sodat sy haar droom kan bewaarheid.

De Jongh sê dit was vir haar lekker om in hierdie tyd iets spesiaals vir haar vriendin te doen omdat Reynolds altyd so baie van haarself aan ander gee.

“Sy [Ria] is een van daai mense wat altyd ander help. Sy is die tannie wat altyd ʼn ekstra broodjie sal inpak sodat almal iets het om te eet,” sê De Jongh.

Reynolds sê dit was vir haar die mooiste gebaar dat iemand aan iets gedink het wat haar gelukkig sal maak.

“Ek kan dit nie in woorde beskryf nie. Dit was my droom. Dit was die wonderlikste geskenk wat ek kon kry in dié stadium van my lewe; ek het dit nodig gehad. Dit gee jou sommer weer nuwe lewe,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marcello ·

Dit is so bevredigend om vir iemand anders iets spesiaal te doen gedurende so moeilike tyd. Welgedaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.