Kankervegtertjie (3) blommemeisie vir beenmurgskenker

Hayden Hatfield Ryals en klein Skye. (Foto: Facebook)

Hayden Hatfield Ryals en klein Skye. (Foto: Facebook)

Toe Hayden Hatfield Ryals van Alabama in die VSA ʼn oproep kry dat sy ʼn geskikte beenmurgskenker is vir ʼn babadogtertjie van Kalifornië wat met kanker gediagnoseer is, het Ryals geweet sy moet haar help.

Nou, ʼn paar jaar later, het dié klein dogtertjie haar skenker op ʼn spesiale manier bedank deur haar blommemeisie te wees by haar troue.

Ryals het in 2015 as student haarself beskikbaar gestel as beenmurgskenker, maar vertel dat sy nie gedink het sy sal ooit ʼn geskikte skenker wees nie. “Dit was die maklikste ding [om myself beskikbaar te stel],” het Ryals volgens CBS News aan die Dothan Eagle gesê. “ʼn Eenvoudige DNS-monster word geneem en in ʼn koevert weggestuur. Ek het gedink dat daar slegs ʼn een-uit-ʼn-miljoen kans sal wees dat ek iemand kan help.”

In 2016 het sy ʼn oproep ontvang van die koördineerder by Be The Match, volgens hul webwerf die grootste en mees diverse beenmurgregister ter wêreld. Die koördineerder het vir Ryals (nou 26) gesê sy is ʼn geskikte skenkingskandidaat vir ʼn dogtertjie, Skye Savren-McCormick, wat gediagnoseer is met leukemie.

“Ek het gesukkel vir ʼn rukkie. Ek het van studierigting verander. Ek het gesukkel om my voete te vind en het gevoel asof ek doelloos is. Hoe langer ek met die koördineerder gesels het, hoe meer het ek begin wonder of dié nie my doel is nie.”

Savren-McCormick is net voor haar eerste verjaardag in Maart 2016 met leukemie gediagnoseer. Ryals se skenking het Savren-McCormick gehelp om haar weg na genesing te baan, maar daar was verskeie komplikasies en sy het in 2017 ʼn tweede oorplanting van ʼn skenker ontvang.

Todd, Skye en Talia Savren-McCormick. (Foto: Facebook)

Todd, Skye en Talia Savren-McCormick. (Foto: Facebook)

Terwyl Savren-McCormick teen leukemie geveg het, het Ryals gereeld gewonder oor dié dogtertjie aan wie sy beenmurg geskenk het, berig WHIO-TV. Be The Match vereis dat skenkers en pasiënte ʼn jaar moet wag voordat hulle mekaar kontak. Ryals het dus ʼn jaar later na Savren-McCormick se ma, Talia, uitgereik.

Kort voor lank het Ryals gevra of die driejarige Savren-McCormick sal dien as die blommemeisie op haar troue. Savren-McCormick het, nadat dokters haar die groen lig gegee het, saam met haar ouers van Kalifornië gereis om die troue in Alabama by te woon.

Savren-McCormick het die vrou wat haar lewe help red het vir die eerste keer ontmoet tydens die trourepetisie, berig ABC News. “Ek het na haar toe gestap en op my knieë geval en al wat ek kon doen was glimlag,” het Ryals vertel.

Kort daarna het Savren-McCormick blomblare in die paadjie vir die bruid gestrooi terwyl sy ʼn spesiale geskenk van die Ryals, ʼn armband van pêrels wat gegraveer is met haar naam, gedra het.

Die twee gesinne sê hulle sien uit daarna om mekaar binnekort weer te sien. “Hulle gaan vir altyd deel wees van ons lewens,” het Talia Savren-McCormick aan ABC News gesê. “Hulle het ons kind se lewe gered.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hallelujah ·

Amen – ‘n traanoomblik aan my kant. Dis pragtig. Ek sluk nog teen die trane

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.