Kansel wink vir verlamde rugbyspeler ná botsing

Ulrich en Michaela (Foto: NLS Photography)

Ulrich Bester, die rugbyspeler wat in 2016 verlam gelaat is ná ʼn gru-botsing in Brits, Noordwes, het nuwe lewe gekry te danke aan sy toekomstige vrou, Michaela Dressler (21). Dié twee sal eersdaags trou aan mekaar beloof.

Maroela Media het vroeër berig Bester was voor die ongeluk ʼn kranige rugbyspeler wat vir Hartbeespoort se rugbyklub, asook vir die Pukke en Luiperds uitgedraf het.

Die 28-jarige Bester het tydens die ongeluk sy nek op twee plekke gebreek, wat hom verlam en sonder gevoel van sy skouers af ondertoe gelaat het.

Bester vertel dat hy aan die begin van verlede jaar vir Dressler ontmoet het, en dat hy byna onmiddellik geweet het dat hy die res van sy lewe saam met haar wil deurbring.

“Ek het so drie maande in ons verhouding in dit in my kop uitgemaak dat ek met haar gaan trou,” vertel hy. “Ek het so sterk gevoel oor die manier waarop sy my behandel het en hoe sy my laat voel. Sy het my weer normaal laat voel.”

Ulrich en Michaela (Foto: NLS Photography)

Die paartjie het in Junie verlede jaar verloof geraak en trou vanjaar op 7 September in Hekpoort.

Bester en Dressler het hul onderskeie ram en- hennepartytjies die afgelope naweek gehad. Bester het die dag saam met sy vriende en strooijonkers deurgebring, en later het die mans en vroue almal bymekaar gekom vir ʼn braai by hulle huis.

Bester sê dit gaan goed met sy gemoed en gesondheid, en dat Dressler, wat deesdae sy persoonlike assistent is, hom ʼn meer positiewe uitkyk op die lewe gee.

“Sy het dadelik ingespring om my te help. Sy staan nie terug vir enigiets nie. Vandat sy in my lewe is, het alles verbeter. Ek is nou meer positief, ek doen meer en kom meer uit die huis. Oor die algemeen geniet ek die lewe meer saam met haar,” sê hy.

Ulrich en Michaela (Foto: NLS Photography)

Hoewel Bester nie in staat gaan wees om te staan vir hul eerste dans nie, sê hy hulle gaan wel een hê.

“Ek gaan maar net die eerste dans in my rolstoel doen, Michaela sal op my skoot sit. Maar dít moet ons nog bietjie oefen,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boskind ·

Ulrich en Michaela mag jul seën op seën ervaar en ontvang uit Vader se hand en baie geluk!!!!

Veer ·

Ek stem Boskind! Mag julle lank en gelukkig getroud wees! Julle is ‘n pragtige paartjie, mag julle huwelik net geseënd wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.