Kapenaars kan ook Silwerskermfeesflieks by Tygervallei kyk

“Beurtkrag” (Foto: Facebook)

kykNET se tiende Silwerskermfees skop vandag (23 Maart) as ’n hibriede fees af wat gelyktydig by die Bay Hotel in Kampsbaai en op die Silwerskermfeeswebwerf plaasvind.

Die goeie nuus vir Kaapse fliekvlooie wat verkies om rolprente op die grootskerm te sien, is dat vier van die Silwerskermspeelprente ook by die Ster-Kinekor Tygervallei tydens die fees sal wys.

Dié rolprente is Beurtkrag, Stiekyt, die aksiefliek Indemnity, en Suid-Afrika se eerste ekologiese guwelfliek, Gaia, wat almal hul Suid-Afrikaanse première by die fees maak. Boonop gaan die sterre van sommige van hierdie premières vooraf by van die Ster-Kinekor Tygervallei-vertonings gesig wys.

Die glanspaartjie Ivan Botha en Donnalee Roberts, wat nie net die hoofrolle in die verhoudingsdrama Beurtkrag speel nie, maar ook die rolprent vervaardig het, sal op Vrydag 25 Maart by dié Ster-Kinekor-teater wees om fliekgangers te ontmoet. Beurtkrag handel oor ’n paartjie wat gekonfronteer word met die bagasie van hul verlede wanneer hulle saam intrek.

“Stiekyt” (Foto: Verskaf)

Daarna, ook op 25 Maart, maak Paul du Toit en Illse Roos ’n draai by die Ster-Kinekor Tygervallei wanneer Stiekyt wys. Dié riller, wat toevallig in ’n fopdosserklub afspeel, is die verhaal van ’n akteur wat eers sy vrou se misnoeë oor sy nuwe werk moet hanteer en dan met die geheimsinnige moord op ’n kollega gekonfronteer word. Die rolverdeling sluit bekende akteurs in soos Cintaine Schutte, Jacques Bessenger, Albert Pretorius en Llandi Beeslaer, asook die televisie-aanbieder en kosskrywer Herman Lensing.

Hier is die volledige Silwerskermfeesprogram by die Ster-Kinekor Tygervallei:

  • Woensdag 23 Maart om 19:30 – Beurtkrag
  • Donderdag 24 Maart om 19:30 – Indemnity
  • Vrydag 25 Maart om 17:00 – Beurtkrag ** (Ivan Botha en Donnalee Roberts woon dié vertoning by.)
  • Vrydag 25 Maart om 20:00 – Stiekyt  ** (Paul du Toit en Illse Roos woon dié vertoning by.)
  • Saterdag 26 Maart om 17:00 – Indemnity
  • Saterdag 26 Maart om 20:00 – Gaia

Besoek die Ster-Kinekor-webwerf vir meer inligting oor die kaartjiepryse en ouderdomsbeperkings van dié films.

  • Koop kaartjies hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.