Kapenaars woeker dié naweek vir dierewelsyn

Foto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Daar is verskeie dierewelsynsorganisasies- en geleenthede waarby diereliefhebbers betrokke kan raak.

Op Saterdag 14 Maart vind die derde Bark in the Park-geleentheid by die Green Point Park Eco Square in Kaapstad plaas.

Die geld wat ingesamel word tydens hierdie geleentheid word aangewend om katte en honde op Elim naby Bredasdorp in die Wes-Kaap te steriliseer.

Die geleentheid skop af om 09:00 met pilates in die park wat aangebied word deur Core Fitness in Seepunt. Om 10:00 sal die digter Kansas Bamba van Voices for African Wildlife die geleentheid open met ʼn gedig waarna die stalletjies sal open.

Om 11:00 is daar ʼn honderatsheidvertoning en om 13:00 ʼn hondeskou. Die kletsrymer Jack Parow sal die prysuitdeling behartig.

Eienaars kan ook vir hul troeteldiere ʼn mikroskyfie kry teen slegs ʼn R100. ʼn Professionele fotograaf sal ook gereed staan om ʼn besonderse foto van jou en jou troeteldiere te neem.

Kapenaars en hul viervoetige vriende word genooi om op Sondag 15 Maart deel te neem aan die Paws on the Promenade-pretstap ten bate van die Mdzanande-dierekliniek in Khayelitsha in samewerking Vondi’s Holistic Pet Nutrition.

Die vertrekpunt is die Mouillepunt-vuurtoring en die roete van 5 km beteken stappers draai by die swembad in Seepunt. Daar sal korter omdraaipunte beskikbaar wees vir ouer, moeë of beseerde diere of mense.

Volgens Marcelle du Plessis, fondsinsameling- en kommunikasiebestuurder en organiseerder van die geleentheid, het altesaam 539 mense en 352 honde verlede jaar aan die Paws on the Promenade-pretstap deelgeneem.

“Met ʼn begroting van slegs R3 500 het ons R48 400 ingesamel. Ons hoop om selfs nog meer geld met vanjaar se geleentheid in te samel,” het Du Plessis gesê.

“Mense raak baie kreatief en trek hulself en hul honde aan in verskillende kostuums. Daar sal Dalmasiërs in tutus, Daschunds in worsbroodjie-kostuums en Pomeranians met strikdasse wees.”

Paul Jacobson, eienaar van Vondi’s Holistic Pet Nutrition, het gesê dit is vanjaar die vyfde jaar wat sy maatskappy hande vat met Mdzananda om die geleentheid moontlik te maak.

“Die roete is een van die mees skilderagtige roetes in Kaapstad en is dit ʼn ewe wonderlike pretstap vir honde en hul eienaars. Ons ondersteun Mdzananda oor hul ongelooflike professionaliteit en die impak wat hulle maak in die gemeenskap van Khayelitsha, waar hul troeteldiereienaars opvoed oor die behandeling van siek diere.”

ʼn Klein aantal hawelose honde sal ook beskikbaar wees vir aanneming tydens die geleentheid. Vir meer inligting of om betrokke te raak, stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek die Facebook-blad. Vrywilligers is ook welkom. Kaartjies kos R50 per persoon, R50 per hond en R25 per kind jonger as 12. Kaartjies is beskikbaar deur Quicket.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.