Karen Zoid: ‘Liefde, geloof en vergifnis’ ná dwelmpad

Karen Zoid (Foto: Facebook via Karen Zoid)

Karen Zoid (Foto: Facebook via Karen Zoid)

ʼn Ope brief wat die gewilde rocksanger en televisieaanbieder Karen Zoid op Facebook met aanhangers gedeel het, word wyd op sosiale media versprei.

Die sanger vertel in die ope brief dat sy Woensdag (13 Julie) een jaar lank nie meer rook nie.

Zoid het egter die hartsnare behoorlik geroer toe sy dié herdenking as ʼn huldeblyk opgedra het aan ʼn oorlede vriendin.

“Soos baie van julle reeds weet, was ek ʼn dwelmverslaafde in my tienerjare. Ons het my ma aan die dood afgestaan toe ek nege jaar oud was, en ek kon bloot nie die verlies verwerk nie. Geeneen van my vriende het verwag dat ek die ouderdom van 20 sou haal nie, en ek het ook nie. Teen die tyd dat ek 20 was, het ek reeds vier keer ʼn oordosis geneem,” het sy geskryf.

Sy vertel hoewel sy nou ʼn totaal ander persoon is, word sy tog soms herinner aan daardie jare wanneer sy weer mense uit die verlede raakloop.

Dit is veral haar oorlede vriendin, Almarie, se ma wat haar tot stilstand ruk. Almarie is glo oorlede weens ʼn oordosis aan “speed balling” – ʼn term wat gebruik word vir iemand wat heroïen en kokaïen gelyktydig gebruik.

“Sy was pas klaar met rehabilitasie, heeltemal ‘skoon’, en het besluit om vir oulaas dwelms saam met haar vriende te doen. Sy wou nie doodgaan nie en het met al die seer vrede gemaak, dit was net ʼn ongeluk,” het sy geskryf.

Zoid vertel dat sy egter die vriendin se ma jare later in 2004 raakgeloop het, omdat sy ook in die kunste gewerk het. “[Toe ek haar sien] het skaamte deur my hele lyf gestroom. Sy het geweet wie ek was, en wie ek regtig was. Ek was ʼn dwelmverslaafde. Een van die ‘verkeerde’ vriende wat dwelms saam met haar dogter gedoen het.”

Almarie se ma se warmte teenoor haar, bly haar steeds vandag by. “Sy het my arm vasgevat en gesê ‘ek is trots op jou’. Sy het my hand in hare gesit, en dit weer gesê. Ons het gedruk, en gehuil – ons was vry gewees.”

Die sanger sê sy probeer steeds ʼn aktiewe rol in Almarie se ma se lewe speel.

“Dit is hoekom ek vanaand die een-jaar-herdenking as ʼn huldeblyk aan Almarie wil opdra. Waar daar liefde, geloof en vergifnis is, is daar meer hoop as waarvan enigiemand ooit sou kon droom. Dit maak nie saak wat jou negatiewe gewoontes of swakheid is, of wat jou pyn is nie, daar is altyd ʼn uitweg. Moet nooit opgee nie – nooit nie.”

Die inskrywing is in minder as 24 uur meer as 12 000 keer ge-“like” en meer as 4 500 keer gedeel.

Lees die volledige ope brief op haar Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dawie ·

Sterkte op die pad vorentoe. Glo in jouself en weet jy kan enigiets oorwin. Asjy die dag nie meer dink aan rook nie dan weet jy dat jy die gewoonte finaal gebreek het.

fransie ·

Sonder Jesus kan ons nie. Al wat oorbly is Geloof, Hoop en Liefde waarvan Liefde die belangrikste is. So n Mooi getuie.

Marcel ·

Baie dankie vir jou brief, Karen Zoid. Dwelmverslawing is ‘n hel wat baie mense nooit sal verstaan nie. Oordeel is altyd maklik, totdat dit nie jouself of jou gesin, of familie getref het nie, sal jy nooit weet hoe dit voel nie. Sterkte aan almal wat geraak word deur dwelm verslawing. Dankie vir jou bemoedigende woorde, en eerlikheid.

Suzy ·

Wonderlike getuienis Karen jy is n ster . Dis hoekom jy so blink want jy het die Here in jou lewe . Jou woorde raak my hart wens my seun kan dit lees .

marianne ·

Karen jy het guts om jou verhaal te VERTEL. Jou leer was hel – jy was letterlik in die hel self!!!
Mag jy van krag tot krag gaan en ‘n voorbeeld wees vir almal wat op een of ander manier ‘n verslaafde is.
JY KAN LEWEND EN SKOON ANDER KANT UIT KOM!
Jou seunskind kan trots wees op sy ma wat erken sy het ook foute gemaak. En het berou!!!
Good luck ou girl – jy rock!!!!

Moeder ·

Karen jy is n ster. Ek is ook n ma van 2 seuns wat op drugs was. Vir Baie jare geworstel en gebid. Was deur hel. Baie dankie vir jou eerlike oopmaak.

elize ·

Karen baie sterkte vir die toekoms.mag jou pad net met liefde.vreugde.vrede en baie sukses besaai wees. Jy is pragtig.jy is n dogter waarop jou moeder baie trots sou wees. Dankie vir jou musiek. Alles wat mooi is vorentoe.

Loretta van Wyk ·

Karen mense raak nie uitgepraat oor jou nie. Die slim mense se altyd jou lewe moet getuig van verandering. Mens kyk net na jou program en jy sien en ervaar die mooi van jou diep binne jou. Dankie vir jou getuienis en dat jy bereid is om te praat oor jou seer en verkeerde dinge dit gee mense hoop wat voel ek beteken niks meer vir die samelewing nie. Ons love jou . Seen vir jou op die pad vorentoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.