Karooseun skuur skouers met bekendes

Henry by die veld voor die aanvang van die T20-Krieketwêreldbeker in Dubai. (Foto: Verskaf)

Deur Elize Perrin

Dit is nie elkeen van ons wat die voorreg het om met bekendes soos Demi Lovato, Ricky Martin, Buzz Aldrin of Keaton Jennings skouers te kan skuur nie. Vir Henry Steenkamp, Karooseun van Victoria-Wes, is dit deel van sy werk. Henry is reeds meer as agt jaar by Emirates as geleentheidsbeplanner en borgskapspesialis betrokke.

ʼn Kinkel in die loopbaankabel

Alhoewel Henry sy BCom (Bestuursrekeningkunde) aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het, het hy gou besef dat dit hom nie werklik opgewonde maak nie.

“Gedurende my tyd in Stellenbosch het ons naweke by troues en funksies gewerk vir ekstra sakgeld,” vertel hy. “Met sekere funksies het ek ook by die beplanning betrokke geraak, wat daartoe gelei het dat ek in 2009 by ʼn klein spysenier-en-geleentheidsonderneming in Dubai kom werk het. Ek was drie en ʼn half jaar die geleentheids- en logistieke bestuurder by die onderneming.”

Hierna het die geleentheid by Emirates op sy pad gekom.

“’n Vriendin het my van die pos vertel en ek het aansoek gedoen,” sê hy. “Omdat ek soveel verskillende tipe funksies op my kerfstok gehad het, wou Emirates my dadelik hê.”

Die werksgeleentheid het die wêreld vir Henry oopgemaak.

“Toe ek Dubai toe gekom het, was dit my eerste internasionale vlug. Nou was ek al in omtrent dertig verskillende lande.”

Natuurlik is dit ʼn baie bevredigende deel van die werk. Met die werksposisie is hy by geleenthede soos ATP-tennistoernooie, F1-wedrenne, Dubai-sewesrugby asook die afgelope T20-Krieketwêreldbeker betrokke.

Verder is die funksies volgens hom redelik eksklusief en is die gaste meestal tot nie meer as vyfhonderd nie beperk.

Die goeie en slegte

Henry en die sanger Ricky Martin. (Foto: Verskaf)

Ongelukkig het Covid ook hier skade gedoen. Die werkspan is halveer sodat slegs sewe personeellede tans oor is. Die span vorm egter deel van ʼn groter afdeling wat korporatiewe kommunikasie, bemarking en die handelsmerk insluit. Die span wat voorheen uit driehonderd personeellede bestaan het, het ook met die helfte gekrimp.

Elke beroep het sy uitdagings.

“Vir so ʼn groot handelsmerk is daar nie plek vir mislukking nie,” sê hy. “Die druk is baie groot dat alles honderd persent reg moet verloop. Die korporatiewe wêreld is baie uitdagend, maar die eindresultaat laat ʼn mens altyd trots voel oor jou werk.”

Een van sy lekkerkry oomblikke was in 2019 tydens die Rugbywêreldbekertoernooi. Henry was by die borgskap vir die toernooi betrokke en het die voorreg gehad om tydens die kwarteindronde tussen die Springbokke en Japan op die middellyn te staan en te sien hoe die Bokke Japan uitskakel.

“Wat ʼn belewenis,” sê hy.

Natuurlik is daar ook dae wanneer dinge ʼn bietjie anders verloop as beplan; daardie oeps-oomblikke. Henry en sy span het gelukkig reeds gou geleer om sulke situasies te hanteer.

Hy vertel dat hulle ’n funksie in Conakry in Wes-Afrika moes aanbied. Die vliegtuig wat die handelsmerkitems en blomme moes bring, is gekanselleer. Dit was net die begin. Van die plaaslike inwoners het reg langs die funksie op hul tromme gespeel wat die funksie se agtergrondmusiek totaal oorweldig het.

“Ons het toe maar ons musiek afgeskakel en die groep betaal om aan te hou speel tot aan die einde van die verwelkoming en ontvangs van die gaste,” vertel hy. “So het ons toe ʼn funksie met onbeplande tradisionele klanke, plastiekblomme en geen handelsmerkitems nie. Ek hoop maar die gaste het gedink dit was alles so beplan. Hulle het darem niks gesê nie en die aand baie geniet.”

Kersfees in die vreemde

Hier is Henry by die Webb Ellis-trofee; die beker wat alle rugbyspanne begeer. Dit was tydens die 2018 Sewesrugbytoernooi waartydens gaste foto’s van hulself met die beker kon neem. (Foto: Verskaf)

Soos die meeste Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, mis Henry sy vriende, familie, taal en natuurlik braaivleis.

“Ek mis die reuk van ʼn regte braaivleisvuur,” sê hy. “Hier ‘BBQ’ ons maar mos met gas.”

Met Kersfees bly hy egter getrou aan sy wortels en verkies steeds skaapboud. Gebakte aartappels, groente, wyn en vriende voltooi die prentjie.

“As dit by Kersfees kom, is ek ook maar ʼn gewone siel,” sê hy.

“Gedurende Desember maak almal beurte om mekaar oor te nooi,” vertel hy. “So het jy omtrent elke week twee of drie Kersetes. Die winkels is vanaf begin November propvol versierings en kersbome. Dit voel vir twee maande soos Kersfees.”

Wonder jy oor ʼn wenk of twee om ʼn rustige Kersete vir familie te beplan, blyk dit dat die basiese reëls vir alle geleenthede geld.

“Beplan vooruit,” sê Henry. “Maak seker jy het ʼn checklist en gaan dit drie keer deur. As dit gedoen is, hardloop die funksie vanself en kan jy net op die onverwagse gebeure fokus; elke funksie het maar ʼn paar daarvan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.