Karooseun tussen die grootvoete

Theo Olivier en een van sy helpers in die veld, (Foto: Verskaf)

Geskryf deur: Elize Perrin

ʼn Plaasseun uit die Karoo het eers sy spore in die skaapkraal agtergelaat om die pad verder saam met die grootvoete te stap. Theo Olivier het aan Maroela Media vertel van die hoogtepunte van ʼn lewe tussen die olifante.

Eerste treë

Theo Olivier het in 2003 die stof van die skoolbanke afgeskud en nuwe wêrelde aan die Grootfontein-landboukollege op Middelburg in die Oos-Kaap gaan verken. Met sy landboudiploma in sy sak het hy in 2007 as plaasbestuurder by Buffelsdrift Game Lodge buite Oudtshoorn aangesluit. Sy dagtaak het die voeding van wilde diere en die instandhouding van paaie en heinings ingesluit. Hier het hy sy eerste treë saam met die grootvoete gegee met die versorging van drie olifante. Die opleiding en veiligheid van olifanthanteerders was ook sy verantwoordelikheid.

Die olifante was ʼn groot aanrekkingskrag by die lodge en het vir die volgende groot stap in sy loopbaan gesorg.

“Die direkteure het my in 2011 gevra om die Oudtshoorn Olifant Maatskappy te stig,” vertel hy. “Ek het die aanbod aanvaar om maatskappybestuurder te word en het ses weke in die Knysna Olifantpark deurgebring vir bykomende opleiding. So het ek meer ervaring opgedoen met die hantering van verskillende grote olifante, sowel as die versorging, welsyn, gesondheid en veiligheid van die hanteerders en olifante.”

Terug by Buffelsdrift moes hy ook omsien na die ontwikkeling van toeriste-ervarings. Volgens Theo het die onderneming vinnig gegroei en baie internasionale vrywilligers en studente gelok.

Op ʼn drafstap

Theo Olivier by een van die olifantkalfies. (Foto: Verskaf)

Ná ses jaar by Buffelsdrift en Oudtshoorn Olifant Maatskappy het Theo se pad as bestuurder na Elephants of Eden, ʼn sustersfasiliteit, gelei. Hier is ʼn teelkudde van nege olifante gehuisves. Ná ses maande is die onderneming verkoop, waarna die olifante verskuif is en sy pos verval het.

“Ek het ʼn aanbod vir ʼn bestuursposisie by ʼn aangrensende fasiliteit van die hand gewys omdat ek gevoel het dat ek myself nie verder kan ontwikkel nie en was op soek na nuwe uitdagings.”

In Junie 2014 het Theo die landsgrens oorgesteek na Zambië waar hy as vrylatings-fasiliteitsbestuurder by die olifantwesie-projek aangestel is. Dit vorm deel van die nie-regeringsorganisasie Wildbewaarders Internasionaal.

“Ons red, rehabiliteer en sorg dat olifante vry is in die natuur,” sê hy. “Dis ook nie net uitsluitlik olifante nie. Ons neem enige diere in wat rehabilitasie nodig het.”

Die internasionale federasie vir dierewelsyn (IFAW), die David Shepard-welsynstigting (DSWF) en die Olsen-dieretrust (OAT) is die projek se vernaamste skenkers. Die projek moet dus fokus op beleid en prosedures wat geskoei is op goeie wetenskap en navorsing.

“Ek is verantwoordelik vir die welsyn van 22 olifante wat kontak met veeartse en behandeling insluit. Die insameling van data en opstel van verslae vir donateurs en die publiek is ook deel van my taak.”

Tans is Theo die projekbestuurder vir ʼn projek in die Lusaka Nasionale Park waar hulle ʼn opvoedingsentrum bou en ook die olifante van die Lillayi Olifant Bewaringsfasiliteite na genoemde park verskuif.

Die Olivierspan vol op spoed

Theo se vrou, Lisa, stap saam met hom die pad. Sy is die projekhoof van navorsing en haar werk is van onskatbare waarde. Lisa spesialiseer in olifantgedrag met die oog op die rehabilitasieproses.

“Haar rol is deurslaggewend in die bestuur van die olifante,” vertel Theo. “Wanneer daar fout met die olifante is, tel ons die probleme gou op.”

Hy verwys na ʼn geval waar ʼn afwyking in die gedrag van die olifantkoei, Kavala, opgemerk is.

“Daar is vasgestel dat Kavala ʼn bosluisdraende siekte onder lede het; iets wat ons net een keer van tevore raakgeloop het. Ongelukkig het dit in dié geval die olifant se lewe geëis. Met behulp van Lisa se kundigheid kon ons egter Kavala suksesvol behandel.”

Benoude oomblikke

Kamppersoneel met Lisa Olivier heel links en Theo (middel agter). (Foto: Verskaf)

Wilde diere kan ook sorg vir benoude oomblikke. Theo het self ʼn paar sulke oomblikke in die Kafue Nasionale Park beleef. Hy vertel dat ʼn paar wildbewaarders op pad terug was van ʼn lodge, nie ver van die kamp nie, toe hulle met ʼn kwaai olifantkoei te doen gekry het.

“Daar is ʼn gebied wat bekend staan as die olifantgang,” vertel hy. “Dis ʼn lang strook met bosse aan albei kante. Agter die bos aan die noordwestelike kant is die Nkala-rivier. Die olifante drink gewoonlik tussen 12:00 en 14:00 daar water. Wanneer hulle ʼn voertuig hoor, hardloop hulle na veiligheid aan die anderkant van die bos.”

Dit is in hierdie tyd wat Theo en sy kollegas op pad terug kamp toe was. ʼn Olifantkalf het oor die pad gestap en Theo het gedink dat hy die regte ding doen deur spoed te verminder om die kalf kans te gee om oor die pad te beweeg. Sy passasier het egter moeilikheid sien aankom en aan hom geskree om vinniger te ry. Die kalf se ma was in aantog. Theo het net betyds spoed vermeerder.

“Die olifantkoei was langs die voertuig,” vertel hy, “slurp gekrul, tande vorentoe en trompetterend. Ons het dit darem deurgemaak.”

Theo vertel dat die koei se tand die voertuig se kantspieëltjie rakelings gemis het.

“Ek het die kalf gelukkig gemis, maar as ek gestop het, was die voertuig waarskynlik op sy dak,” sê hy.

In ʼn opwindende beroep soos dié, is die hoogtepunte baie.

“Die een hoogtepunt wat ek altyd sal onthou, is toe ek in September 2019 vroedvrou moes speel vir ons oudste koei, Chamilandu,” sê hy.

Volgens Theo was die pa van die kalf ʼn wilde olifantbul wat so 22 maande tevore die kamp besoek het.

Die middag met die geboorte het Chamilandu kamp toe gekom; daar waar sy die veiligste gevoel het. Die geboorteproses het ongeveer 12:00 begin.

“Die olifanthanteerders was met ete en ek het hulle oor die radio geroep,” onthou Theo. “Die geboorte het net 20 minute geduur. Ek en die hoofhanteerder was langs Chamilandu toe haar kalf op die grond val en ek was die een wat die nageboorte verwyder het.”

So het die kalf, Mutaanzi David, sy eerste lewenslig aanskou.

“As sy in die bos by die ander koeie geboorte geskenk het, sou hulle doen wat ek moes doen,” sê hy.

“Vandag gaan dit baie goed met die tweejarige Mutaanzi David,” vertel Theo trots.

Vra jy Theo oor sy droom vir die pad vorentoe, noem hy dat hy graag deur ʼn holistiese benadering tot bewaring sou wou sien dat geen olifante in die toekoms wees gelaat word nie.

“Ek sal dan ongelukkig ook seker my kennis in olifantbestuurvaardighede en bewaring elders moet gebruik,” sê hy tong in die kies.

Vir nog meer inligting kan www.gamerangersinternational.org besoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.