Kathu Voortrekkers skenk rolstoel danksy proppie-projek

Susan van der Bergh, projekleier en lid van Kathu Voortrekkers, is besig om proppies te weeg (Foto: Verskaf)

Wie sou kon dink dat ʼn mens proppies skenk en ʼn rolstoel in ruil daarvoor kry?

Dít is presies hoe Kathu se Voortrekkers daarin geslaag het om vir Albert van Vuuren wat verlede jaar in ʼn motorfietsongeluk beseer is, ʼn splinternuwe rolstoel te skenk.

“Dit was my inisiatief om die proppie-projek van stapel te stuur,” vertel Susan van der Bergh, projekleier en lid van Kathu Voortrekkers. “Die plastiekproppies word versamel en vir R1 per kilogram verkoop. Die geld wat ingesamel word, word dan bymekaar gegooi om die rolstoel te koop.” Van der Bergh vertel dat dit ʼn gemeenskapsprojek is en dat die skenking van ʼn rolstoel as ʼn bewys van dankbaarheid dien.

Plastiekproppies wat vir die projek ingesamel is (Foto: Verskaf)

Sy vertel ook dat die projek ʼn samehorigheidsgevoel onder die jeug laat opvlam het. Die jeug het smiddae in die strate rondgery op soek na proppies. Sy het deurlopend gesorg vir motivering en kleiner belonings in die vorm van geskenke.

Die projek is in Maart vanjaar begin en in November is die rolstoel aan Dries en Rina van Vuuren, Albert se ouers, oorhandig.

“Een-en-dertig jeuglede het aan die projek deelgeneem,” vertel Van der Bergh, “Verskeie mense uit die gemeenskap, onder andere die Goue Gerwe, Kathu se bejaardes, het ook ʼn bydrae gelewer.”

Josua van Vuuren het altesaam 120 kg se proppies gedurende die tydperk ingesamel. Hy het óók die rolstoel aan die Van Vuurens oorhandig.

Op 10 November is ʼn nuwe projek van stapel gestuur en ook daar is reeds ʼn rolstoel geskenk.

Josua van Vuuren, wat die meeste proppies ingesamel het, oorhandig die nuwe rolstoel aan Dries en Rina van Vuuren, Albert se ouers (Foto: Verskaf)

“Mnr. Hammies van Niekerk van Laerskool Kathu het ná die oorhandiging nog ʼn rolstoel namens die skool geskenk,” vertel Van der Bergh dankbaar.

“Ons wil graag ʼn versoek aan mense rig om hul plastiekproppies op ʼn Vrydagmiddag om 16:00 by die Voortrekker-terrein af te laai. Ons daag ook die ander Voortrekker-kommando’s en dorpe uit om aan die proppie-projek deel te neem.”

Lede van die publiek wat graag ʼn bydrae wil lewer, kan hul proppies elke Vrydagmiddag gedurende die skoolkwartaal gaan aflaai. Die sentrum is tydens skoolvakansies gesluit en die projek duur tot Oktober 2020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Maria ·

Baie dankie vir julle hulp ondersteuning omgee. Mag Here julle seen!

Susna ·

Dankie vir die nuusberig. Al my proppies is versamel en aan my kleinkinders se skool gelewer vir die projek. Nou weet ek ook waarom ek nie een proppie in die asblik gegooi het nie. Hierdie Ouma het net instuksies gekry. Groete.

Anoniem ·

Ja ek gooi ook nie my proppies weg nie. Dit word ook geskenk aan ‘n persoon wat proppies versamel vir ‘nrolstoelprojek.

Hannetjie ·

Ek het 2 sakke proppies. Kan iemand dit by my kom haal. Ek is in Kempton Park.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.