Kelnerin se droom bewaarheid danksy FB-plasing

Dié foto van Evoni Williams wat op Facebook geplaas is, is meer as 73 000 keer gedeel. Foto: Laura Wolf/Facebook

ʼn Jong kelnerin se droom om by ʼn universiteit te studeer is bewaarheid danksy ʼn foto wat op Facebook geplaas is waarop ʼn vreemdeling die kelnerin se goeie daad teenoor ʼn bejaarde man vasgevang het.

CBS News berig Evoni “Nini” Williams (18) werk as kelnerin by die Waffle House in La Marque, ʼn stad suid van Houston in die Amerikaanse deelstaat Texas. Williams spaar die geld wat sy hier verdien om eendag aan ʼn universiteit te kan studeer.

Ongeveer ʼn maand gelede het Laura Wolf ʼn foto van Williams op Facebook geplaas. Op die foto kan gesien word hoe Williams ʼn bejaarde man se kos vir hom in kleiner stukkies sny. Volgens Wolf het die man, wat van ʼn suurstoftenk gebruik maak, aan Williams gesê hy het ʼn probleem met sy hande en sukkel om sy kos te sny. Williams het sonder om te huiwer aangebied om dit vir hom te doen.

Wolf se plasing is sedertdien meer as 73 000 keer gedeel en meer as 147 000 mense het op die plasing gereageer.

Wolf het nie vir Williams geken nie, maar sosialemediagebruikers het spoedig die jong vrou herken en geïdentifiseer.

ABC News berig die Texas Southern University het van Williams se goeie daad te hore gekom en haar ʼn beurs ter waarde van $16 000 aangebied om by die universiteit te kom studeer. Boonop is ʼn skarefinansieringsinisiatief vir Williams van stapel gestuur en reeds $1 727 (sowat R20 000) ingesamel om haar te help.

Bobby Hocking, die burgemeester van La Marque, het ook die moeite gedoen om Williams te besoek.

Williams het in ʼn onderhoud met Khou-TV gesê sy is verbaas oor die positiewe reaksie wat haar goeie daad gekry het. “Die man het vir my gesê sy hande werk nie so goed nie. Hy het iemand nodig gehad om sy kos vir hom te sny en ek het dit gedoen. Dit is iets wat ek op enige ander dag ook sou gedoen het.”

Williams beplan om sakebestuur aan die Texas Southern University te studeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.