Kerk rol moue op en vul slaggate in Ermelo

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Ongeveer 30 gemeentelede van die Hervormde Kerk in Ermelo het saamgespan om slaggate in dié dorp se strate te vul.

Dr Piet van Zyl, predikant by die kerk, is die persoon wat die idee aan die gemeente voorgestel het.

”Ons dorp lyk beroerd wat slaggate betref en die munisipaliteit maak net hier en daar ʼn gaatjie toe.” Volgens hom het die gemeente hom verbaas aangekyk, maar toe ingestem om te help. “Op dié manier kan ons ʼn groot verskil in die dorp maak. Ons taak is om ʼn verskil te maak, en nie net tussen die mure van die kerk nie.”

Daar is toestemming by die munisipaliteit gekry en so het die manne (en dames) begin werk.

Die projek het op 6 Junie begin en gemeentelede het vir die volgende vier Saterdae hul tyd en energie opgeoffer om slaggate in die dorp te herstel. “Op daai stadium het ek geweet hier is ouens wat die pad tussen Bethal en Morgenzon bou wat vir ons 150 sakkies teer sal skenk om mee te begin.”

Daar is intussen nog sakkies teer geskenk, maar dit was gou opgebruik. “Ons maak so ongeveer 100 -150 gate per Saterdag toe wat wissel van gate wat ʼn graaf teer vat en ander wat nege sakkies teer vat.”

Om projekte aan te pak, is niks nuut vir hierdie gemeente nie. Verlede jaar is 35 ton se kos ingesamel vir mense in Rustenburg asook R80 000 is vir dié mense wat noodbehoewend was.

Die slaggatprojek is vir nou eers op die langebaan geskuif  want die gemeente maak reg vir ʼn groot basaar. Die projek sal op 8 Augustus weer in volle gang wees.

Volgens van Zyl is die ondersteuning en die positiwiteit in die dorp ongelooflik, “Een van die NG gemeentes het R5000 in ons rekening oorbetaal en hulle wil ook graag betrokke raak. Die VLU het vanoggend R1 000 aan my oorhandig. Iemand het nog elke Saterdag ʼn bydrae gelewer. Die Wimpy het een Saterdag vir ons koffie gegee, iemand het al vir ons sop en broodjies gebring en verlede Saterdag het iemand pannekoek gebak.”

Die gemeente het ʼn brief van die uitvoerende burgemeester gekry wat hulle bedank vir die goeie werk en hul mooi gesindheid.

Skakel gerus vir dr. Piet van Zyl as jy ook graag ‘n bydra wil lewer by 017 811 2434.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pixie ·

Mooi so en wel gedaan ek is trots op julle manne en dames. Kan ek hom help? Ek is nou wel 66 jaar oud maar sal kom SUPERVISE. Lief vir julle.

Maryna ·

Net die teenwoordigheid sal vir hulle goed wees. U kan altyd broodjies maak en vir hulle iets gee om te drink. :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.