Kersdag in die Rooikruis-kinderhospitaal

Regina Pieters het met Maroela Media gesels oor hoe ‘n Kersdag in ‘n kinderhospitaal gevier word. (Foto: Verskaf)

Soms is mens so gelukkig om verlof of ’n afdag met Kersfees te hê. Maar verpleegpersoneel wat op Kersdag werk, moet dit vir hulself en die pasiëntjies lekker maak, vertel ’n 59-jarige verpleegsuster van die Rooikruis-kinderhospitaal aan Sarie Marais-Nell

Reeds 33 jaar lank meld suster Regina Pieters by die Rooikruis-kinderhospitaal aan vir diens, en stap sy eers verby die Peter Pan-standbeeld wat reg voor dié hospitaal in Rondebosch, Kaapstad staan. Tussen die hospitaal se 300 beddens het sy as jong verpleegster met ’n skok besef dat sogenaamde “grootmenssiektes” inderdaad by kinders aangetref en hier behandel moet word.

“Ek was baie verbaas om te sien jong kinders kan ook hoë bloeddruk kry of ’n nuwe orgaan benodig. Ek het so swaar gekry in die onkologiesaal; baie kere het ek gewonder of die diagnose dalk verkeerd is, want hoe kan ’n klein babatjie dan kanker kry?

“Hier sien ons hoe ouers sukkel en stoei om alles rakende hul kindjie se siekte te hanteer; hoe kankerbehandelings ’n kind laat sieker voel. Ons doen ons bes vir elke kind, ons ondersteun die ouers so goed as moontlik.

“Ek het die hele hospitaal vol gewerk, behalwe in die teater. Intensief, buitepasiënte, brandwonde, pulmonologie …”

Deesdae werk Regina in die saal waar oorplantings gedoen word; waar ernstige siek kinders vir ’n nuwe nier of lewer wag; waar jong lewens dikwels aan ’n draadjie hang.

“Mens raak so geheg aan die kinders, ons bou ’n goeie, hegte band met die ouers. Wanneer ouers baie behoeftig is, gryp ons gereeld in, help hulle met geld of middele – ons kan tog nie wegkyk nie.”

Dis juis hierdie hegte band met pasiënt en ouers wat ’n sterfte so traumaties maak.

“Dis so hartseer wanneer ’n kind sterf. Eers raak ons vir hulle lief, en wanneer mens die agteruitgang sien, volg die besef dat die pasiënt nie gesond gaan raak nie.”

Kindersiektes wyk nie omdat dit Kersfees word nie.

“Inteendeel,” sê Regina. “Dokters evalueer sorgvuldig of ’n kind dalk huis toe kan gaan vir Kersdag, maar die siekstes moet inbly. Soms kry een of meer kinders met ’n meer stabiele toestand ’n vergunning en kan hulle vir ’n halwe Kersdag huis toe gaan. Dan kom hulle terug met sterre in die oë omdat hulle tuis was met die familie rondom hulle. En oor hul geskenkies.”

Weens Covid-19 gaan die Rooikruis-kinderhospitaal vanjaar vir die heel eerste keer geen Kersvader hê nie.

“Organisasies soos kerke, klubs, die Moslemgemeenskap en radio-omroepers kom graag rondom Kersfees hierheen en bederf die kinders en personeel uit hul skoene. Weens veiligheidsredes sal dit vanjaar anders wees, maar die personeel werk hard daaraan om Kersfees vir hulself en hul pasiënte aangenaam te maak.

“Ons sorg altyd vir ’n lekker ete (elke saal op hul eie). Die kombuispersoneel doen ekstra moeite met die spyskaart, ons speel Kersmusiek in die gange – ons wil graag die Kersatmosfeer in die hospitaal behou.”

Daar is geen begroting vir Kersuitgawes nie, daarom steek personeellede hul hande diep in eie sak en versier hul sale vrolik; trek leë boksies feestelik oor en sit dit onder die Kersboom. En Kersoggend kry kinders in die hospitaal ’n geskenkie – ’n pop of karretjie, ’n bederfdingetjie.

“Die hartseerste Kersfees wat ek aan diens gehad het, was die jaar toe ’n 13-jarige pasiënt vooraf vir ons die saal help mooimaak het met Kerstooisels. Sy was só vol vreugde; almal het gepraat oor hoe gelukkig sy was. Toe sterf sy sewe dae later, net voor Kersdag. Ons harte was baie swaar.

“Maar soms kry ons die grootste Kersgeskenk denkbaar: ’n nuwe orgaan vir ’n siek kind. Soms wag kinders baie lank hier by ons vir ’n orgaan. Twee dae nadat ’n kind met ’n gesonde nier of lewer uit die teater kom, kan mens sien die ogies raak helder, hul kleur verbeter. Wat ’n groot geskenk vir die pasiënt én vir ons!”

Dink sy genoeg mense is bewus van die nood vir orgaanskenking?

“Ons probeer ons bes met bewusmaking. Wanneer families en woonbuurte bewus raak van iemand na aan hulle wat organe benodig, raak hulle dikwels vir die eerste keer hierby betrokke. Soms samel bure geld in vir die ouers om te help met ekstra uitgawes.”

Regina Pieters is gebore en getoë op Middelburg in die Oos-Kaap. Haar verpleegopleiding het in Middelburg se Wilhelm Stahl-hospitaal begin, al was sy gekeur vir onderwysopleiding. Sedert sy getrou en Kaap toe verhuis het, is die Rooikruis-kinderhospitaal haar werkplek. Sy het twee keer tussendeur gaan studeer – eers aan die Universiteit van Kaapstad vir ’n pediatrie-spesialiskursus, daarna gemeenskapsgesondheid by die destydse Wes-Kaapse Verpleegkollege.

Suster Pieters werk nie vanjaar op Kersdag nie omdat sy deesdae ’n bestuurspos beklee.

“Ná 40 jaar diens het my man onlangs uit die departement korrektiewe dienste (DKD) getree. Ons het albei skofte gewerk en ons twee dogters moes skool toe gery word – dink net hoe moes ons gedurig koördineer en planne maak! Ek het graag nagdiens gewerk sodat ek darem meer kere die teenwoordigheid tuis kon hê,” vertel die suster met die rustige geaardheid en sagte hart; die trotse ouma van ’n kleinseun.

“2020 is die Jaar van Verpleegsters; daar sou internasionaal fees gevier word, maar weens die koronavirus werk ons almal toe eerder nog harder. Selfs in die kinderhospitaal moes ons ’n aparte Covid-19-saal inrig. Ek dink elke verpleegster verdien vanjaar ’n baie spesiale Kersfees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.