Kersfeesvieringe te midde van vervolging

Die tienjarige Bijli van Bangladesj (Foto verskaf deur Geopende Deure)

ʼn Mens se kinderjare moet gevul wees met onskuld, om te ontdek, te lag en te speel. Die tienjarige Bijli* van Bangladesj se lewe skets egter ʼn ander prentjie, want sy word oral verstoot. Sy het geen maatjies by die skool nie en sy word geboelie en deur die ander kinders verwerp – net omdat sy Jesus volg.

Bijli teken op die skoolgrond ʼn prentjie van ʼn meisie, omring met glimlaggende kinders, met ’n stok op die grond. ʼn Paar meisies fluister onderlangs iets vir mekaar en kom na haar toe aangestap. Toe hulle vra wat sy doen, stotter sy: “Ek teken maar net.”

Een van die meisies trap op die tekening en laat die glimlaggende gesiggies in die stof verdwyn. ʼn Ander meisie stamp Bijli om en sê: “My ma sê julle gesin is ongelowiges (infidels).” Bijli val bo-op haar tekening, die meisies lag en hardloop weg.

ʼn Moeilike pad vol struikelblokke

Bijli en haar gesin is een van slegs ’n paar Christengesinne in hul dorpie van 50 huise. Haar oupa het ʼn kerkleier geword nadat hy Bybelopleiding deur ’n Geopende Deure-vennoot ontvang het. Sy besluit om die tradisionele Moslem-geloof prys te gee en Jesus te volg, maak die lewe egter moeilik vir die gesin.

Bijli se ma, Maya*, sê hulle word voortdurend deur die Moslem-meerderheid in die dorp verwerp en weggejaag omdat hulle Christene is. “Die isolasie en verwerping is veral moeilik vir Bijli en haar vyfjarige boetie, Mohon*. Al die ander kinders is Moslems. Hulle wil nie met my kinders speel nie en boelie hulle. Bijli is dikwels in trane wanneer sy van die skool af terugkom en vertel dan huilende dat die ander kinders haar slaan omdat ons Christene is.”

Kersvieringe saam met ander gelowiges

Die kinders kan sorgeloos saam speel en talle nuwe dinge leer by Geopende Deure se Kersfeesvieringe. (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Daarom is die Kersvieringe wat deur Geopende Deure se vennote gereël word, ʼn onvergeetlike ervaring vir Bijli en haar gesin. Altesaam 100 gesinne, wat almal gelowiges uit ʼn Moslem-agtergrond van afgeleë landelike gemeenskappe is, kon dié spesiale viering bywoon.

Hier kon Bijli weer voel hoe dit is om sorgvry te wees en met ander kinders te speel. Sy vertel: “Ek voel nie bang as een van die meisies na my toe stap en my nooi om te speel nie, want almal is gelowiges wat vir Jesus lief is. Dit was wonderlik om soveel ander gelowiges te ontmoet en Kersfees saam met hulle te vier. Dankie aan almal wat dit vir ons moontlik gemaak het om hierheen te kom.”

Jesus se verjaardag

Volgens Bijli se pa, Badol*, verhoed die beperkings en vrees vir vervolging hulle om Kersfees openlik in hul dorp te vier. “Dit is dus ʼn fantastiese ervaring om Geopende Deure se Kersfeesvieringe saam met ander Christene by te woon. Ons vier Jesus se verjaardag, sing gesange en speel saam speletjies. Die kinders het die geleentheid om baie nuwe dinge te leer – wat weens vervolging nie in ons dorp moontlik is nie.”

’n Paar dae later is Bijli terug by die skool en weer besig om met ʼn stok prentjies op die grond te teken. Sy is steeds op haar eie, maar teken hierdie keer ’n glimlaggende lang man met ’n baard langs haar. “Ek het by die Kersfeesvieringe geleer dat die Here altyd by my is en my nooit sal verlaat nie,” sê sy.

’n Kersgeskenk van hoop

Jy kan ook vandag help om die hoop van Kersfees en die geskenk van ’n veiliger toekoms aan vervolgde families soos Bijli s’n te gee. As jy vandag kies om vervolgde Christene te seën, sal jy help om in die langtermynbehoeftes van vervolgde families te voorsien. Dit sal hulle die beskerming, versorging en ondersteuning bied wat hulle nodig het om te floreer. Klik hier om vervolgde Christene te seën.

*Name weens veiligheidsredes verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.