Kersliggies Oppi-Plaas net buite Boschkop nou in volle swang

(Foto: Verskaf)

Kersliggies Oppi-Plaas, aangebied deur Oppi-Plaas Mark en Legends MX, vind daagliks tot 5 Desember buite Boschkop, Pretoria, plaas.

Die hekke open weekdae om 14:00 en sluit om 22:00. Oor naweke open die hekke om 08:00 en sluit om 22:00. Toegang is slegs R10 per persoon en alle toegangsgeld word aan die Help Net-fonds geskenk om kinders wat in ʼn plek van veiligheid geplaas is, te help versorg.

Jacques J Hollywood het besoekers Dinsdagaand vermaak terwyl die span van die Volle Evangelie Kerk in Cullinan Donderdagaand musiek maak. Thabang hou Vrydagaand konsert terwyl besoekers Saterdag van vroeg af kan kom loer na die vliegtuie wat deel vorm van Steady Climb en Pilot Insure se Fly-In. Die Flying Lions vorm ook deel van die program en van 14:00 hou Lo’Cal hul strandpartytjie. Die laaste geleentheid om die liggies te sien is op Sondag 5 Desember.

Daar is iets vir die hele gesin. Van vermaak in die vorm van knortjorre, ponieritte en speletjies vir die kinders, tot kosstalletjies, Kersgeskenke en musiek. Van 3 Desember kan besoekers ook met kamele deur die terrein ry om die liggies uit ʼn ander perspektief te besigtig. Met die aankondiging dat die land op vlak 1 van die inperkingsmaatreëls bly, kan besoekers lekker sit en eet en ʼn drankie by Melodramatic se Gin-bar of die volle gelisensieerde restaurant koop. Kersliggies Oppi-Plaas is ʼn geleentheid om kosbare familietyd saam te geniet, om plaaslike entrepreneurs en die kunste te ondersteun en om ʼn verskil in die lewe van kwesbare kinders te maak.

Een van Promise Mapfumo se staalstandbeelde. (Foto: Verskaf)

Kersliggies Oppi-Plaas het ten spyte van die nat weer steeds ʼn fantastiese openingsnaweek gehad.

Huwelied in Aksie by Kersliggies Oppi-Plaas. (Foto: Verskaf)

Gaskunstenaar Johan Anker en vyf plaaslike kerke het aan Saterdag se Kersprogram deelgeneem. Die program was propvol – van dansitems, Kersmusiek en ʼn poppekas vir die kinders tot boodskappe van hoop soos gelewer deur die leraars van Rayton Christian Church, NG Kerk Rayton en Lewende Woord Cullinan. Die talentvolle sangpaar Cornè en Heidi Danhauser van Huwelied het Sondagaand vir besoekers konsert gehou terwyl hulle die pragtige liggies bewonder het.

Besoekers het van so ver as Kemptonpark gery en is nie teleurgestel nie. Die tuin en damme in en om die huis en lapa by Legends MX is in ʼn feestelike, tog vredevolle liggieparadys verander. Daar is ook sowat tien staalbeelde deur die beeldhouer Promise Mapfuno van Thembisa, wat oortrek is met liggies, wat deel vorm van die uitstalling. Alle beelde wat deel vorm van Kersliggies Oppi-Plaas kan direk by die kunstenaar gekoop word.

Kersliggies Oppi-Plaas word op Legends MX se terrein op die R515, so 15 km voor Rayton, gehou. Soek gerus Oppi-Plaas Mark of Legends MX op jou padkaarttoepassing of besoek Oppi-Plaas se webwerf vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.