Kilimanjaro leer jou die lewe is ’n reis

(Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Zelda Maloney se droom om eendag Kilimanjaro te klim, is in 2009 gebore en twaalf jaar later is dié droom treetjie vir treetjie bewaarheid. Die lewe is ʼn reis, dit neem jou na plekke toe – fisies, geestelik en liggaamlik.

In 2009 het Zelda en ʼn klompie jongmense die Visrivier gaan stap en dis tydens dié staptog dat die droom om Kilimanjaro aan te durf die lig gesien het. “Daar in Ai-Ais het ek gesê ek gaan die hoogste berg in Afrika klim, en ek was baie opgewonde.” Twaalf jaar het verbygegaan voordat dié droom ʼn realiteit geword het.

“In 2021 het my dogter, Kayleen, haar dertigste verjaarsdag gevier en ek het haar gevra of sy saam met my Kilimanjaro gaan klim. Sy het ingestem en ek het plek bespreek by Next Expeditions in Tanzanië.” Zelda vertel dit was ʼn wonderlike ervaring om in hul mooi omgewing te begin oefen. Die Outeniekwa- en Tierkopberg en George-piek was van die roetes wat hul gestap het.

“Op die ouderdom van 52 het ek met die Here oor die Kilimanjaro-plan gepraat, gewonder of ek dit sal maak. Tog het ek ʼn vrede gekry en toe ek hoor ons gids se naam is Benjamin, was dit amper soos ʼn gerusstellende bevestiging. Benjamin is een van Jakob se seuns en ek lees in Deuteronomium 33:12 in die New Spirit-Filled Life Bible hoe Benjamin gesê het: ‘The beloved of the Lord shall dwell in safety by Him who shelters him all the day long; And he shall dwell between his shoulders.’

Met ʼn kinderlike geloof het ek geweet dat wanneer ek nie meer kan nie, Hy my sal dra.”

Kilimanjaro, die 5 895 meter hoë berg het op Zelda-hulle gewag. Benjamin het verduidelik dat die sesdag- Machame-roete vir hulle die beste is. Luister na jou gids en glo in jouself. “It is a mountain of possibilities; anyone can do it!” Ná drie maande se voorbereiding het hul na Tanzanië vertrek.

Die aand voor hul vertrek het hul vir oulaas hul rugsakke nagegaan om seker te maak dat hul alles het en met ʼn bang-opgewondenheid gaan slaap.

Op die Machame-roete slaap jy ses dae op die berg en die sewende dag is jy terug in die hotel. Die roete is geografies die mooiste en ʼn mens kry baie tyd om te akklimatiseer.

Op 15 Augustus 2021 het hulle saam met dertien portiere na die voet van die berg vertrek. “In die bussie het die portiere opgewonde gesels, want met COVID het hulle lanklaas mense gehad wat Kilimanjaro wou klim. Ons ontmoet ook ons tweede gids, Emmani. In my hart dink ek dis nogal naby aan Emmanuel, en nog ʼn gerusstellende gedagte en ʼn bevestiging: Die Here is met ons!”

Die eerste dag begin hulle in die reënwoud en ongeveer sewe ure se stap volg tot by die Machame-kamp op 3 000 meter. Emmani het voor gestap, elke tree met noukeurige beplanning. Hulle het hom gevolg en gedoen presies soos hy doen. “So het sewe ure verbygegaan; opdraande met opgewondenheid en dankbaarheid wat in ons are bruis. My verwondering en bewondering vir die mooi omgewing en wat ek besig is om te doen, oorskadu alles.”

(Foto: Verskaf)

By die kamp is hul tentjies reeds opgeslaan met heerlike kosgeure wat hulle begroet. Suurstofvlakke en bloeddruk word geneem en Benjamin is tevrede.

“Ek lê in my tweemantentjie en wil myself knyp, ek kan nie glo ek is hier nie! Die volgende oggend word ons wakker gemaak met soet tee of warmsjokolade in die bed. Ek kry my bakkie warm water en na ʼn heerlike ontbyt val ons in die pad.”

Vandag is dit ʼn steil klim tot by die Shira-kamp. “Dit reën saggies en ek vat my stapstokke stewig vas en begin klim. Die plantegroei verander soos wat ons stap. Namate ons hoër gaan, raak dit al hoe kouer. Ons sien plante wat net op Kilimanjaro groei, hoor die rivier en in die verte sien ons ons tente.”

Aandete is heerlike warm komkommersop, hoender en plat brode met slaai en vars vrugte. “Vandag kan my lyf voel ek het gestap. Dit is koud en ek kruip vinnig in my donsslaapsak in. Nog ʼn wonderlike dag verby.”

Dag drie breek aan met ʼn sewe ure lange stap tot by Baranco-kamp. By Lava Tower (4 630 meter) sien hul vir die eerste maal Kilimanjaro met sy wit sneeupiek. Bengi sê vandag gaan ʼn lang en moeilike stap wees. “Indien ons sou siek raak, is dit vandag. Die terrein verander drasties na ʼn woestynagtige alpe-omgewing. Ek het vir my musiek saamgeneem en met my oorfone pak ek die stap aan. Ons stap lank en aanhoudend en klim hoër en hoër. Ons drink baie water en teen middagete voel my kop effens wollerig, maar nie te erg nie. Teen laatmiddag bereik ons die hoogste punt vir die dag. Ons spandeer ʼn uur daar om gewoond te raak aan die lugdruk en stap dan verder.” ʼn Uur voor die kamp loop ʼn portier ons tegemoet, neem ons rugsakke en stap vooruit. By die kamp eet hulle, bespreek die volgende dag en kruip dan in vir die nag.

Dag vier is dit Barranco tot Karanga-kamp. “Voor ons by Karanga-kamp kom, moet ons eers die Barranco Muur aandurf. Ons kom vroeg by Barafu-kamp aan om te rus, want vanaand net voor 12 begin ons die finale klim na Uhuru-piek. Dit is baie koud.”

(Foto: Verskaf)

Teen middernag, met kopliggies beman, pak hul die moeilikste stap aan. Daar is net genoeg lig om die pad te verlig vir die volgende tree. Dit is koud, die waterpypie van jou kameelsak vries, hulle stap en klim steil. “Hier is dit jy en die berg, opgee of omdraai is nie ʼn opsie nie. Benjamin moedig my aan en sy ondersteuning beteken baie. Ons stop om bietjie te rus en drink warm tee. Die son kom op en dit is asemsnak mooi. Ek is diep dankbaar. Wat ʼn oomblik in tyd is dit nie.”

Die laaste stuk is moeilik en wanneer jy die bordjie Stella sien, is jy 150 meter van bo. Die wind waai en van die ander stappers wat terugkom van Uhuru is vol sneeu en windverwaaid. “Toe ek die Uhuru-piek bordjie sien, spoel dankbaarheid soos golwe deur my. Ek het dit gemaak! Dit is doodstil en oopgetrek. Die blou lig, die kratervloer en gletser slaan my asem weg. Ek gaan sit op ʼn rots en buig my hoof. ‘Dankie, dankie, dankie, Abba Vader. U is goed vir my, altyd.’ Ek bid vir my mense, my land.” Hulle spandeer twintig minute daar, neem foto’s en geniet elke oomblik. Dan pak hul die moeilike afwaartse terugtog aan.

(Foto: Verskaf)

“My bene verander in jellie, Bengi haak by my in en ons draf teen die sanderige helling af. By die kamp wag die portiere ons in en is jolig toe hul hoor ons het die piek bereik. Dit is vir hulle baie belangrik dat ons dit maak. Ons moet eet en rus, want dit is nog drie ure se stap tot die volgende kamp.”

Daardie aand slaap hulle soos klippe en vroeg die volgende oggend pak hul die moeilike afdraande aan. Hulle stap deur ʼn ander deel van die reënwoud en die apies speel laf in die bome. “My gemoed is vol, ek is diep dankbaar, ek het die berg oorwin. Die luuksheid van warm stortwater wat oor my moeë lyf spoel, die gebruik van sjampoe en seep, skoon vars lakens en ʼn sagte bed laat my met dankbaarheid besef hoe dankbaar ek is vir dié ryke lewensveranderende ervaring wat op die tafels van my hart geskryf is; wat ek soos ʼn kosbare pêrel in my hart bewaar.”

Zelda vertel dat dit ʼn stap vol mooi was, maar met moeilike uitdagings. “Jy leer met blase stap, ses dae en 90 kilometer later, die ongelooflike verligting en dankbaarheid dat ek dit gemaak het. Ons lewe is ʼn reis en ons stap in geloof saam met die Grootste Gids van alle tye. Met elke tree is Hy daar. Elke dag is anders en ek het in Tanzanië geleer: Geniet vandag en wat die dag inhou. Selfs met die ouderdom, geniet die seisoen waar jy is; dit is deel van die avontuur wat “lewe” genoem word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.