Kinderbeskermingsweek: Dit begin by ’n groen strikkie

(Foto: Caleb Woods/Unsplash)

Van ʼn eenvoudige aksie soos om ʼn groen strikkie te dra tot ʼn groot internasionale projek om kinders se veiligheid aanlyn te bevorder.

Dít is van die veldtogte waarby die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) vanjaar betrokke is as deel van Nasionale Kinderbeskermingsweek wat van Sondag 30 Mei tot Sondag 6 Junie duur.

“Kinders is te dikwels in die nuus weens tragiese voorvalle wat hul welstand en selfs hul lewe bedreig. Fisieke veiligheid, kuberveiligheid, boeliegedrag, huishoudelike geweld en die gesondheid van ons leerders bly ernstige uitdagings,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas.

Deacon sê Fedsas se benadering tot die bevordering van kinderveiligheid berus op die bewusmaking en die toerus van skoolgemeenskappe.

“Vanjaar daag ons skoolgemeenskappe uit om Suid-Afrika gedurende Kinderbeskermingsweek groen te verf. Kinders, ouers, voogde, onderwysers, almal wat op die een of ander wyse betrokke is by kinders of ʼn skoolgemeenskap word uitgedaag om volgende week ʼn groen strikkie te dra.”

Deacon sê die doel van die strikkie is om mense aan die praat te kry. “Deur bloot te antwoord dat jy Kinderbeskermingsweek ondersteun, plant jy ʼn saadjie vir verdere bewustheid en gesprekvoering.”

Skole kan voorts ook hul eie projekte beplan om verdere bewusmaking te doen. Onderwys en skole gaan tog eintlik oor ons kinders, meen Fedsas.

Jo Black. (Foto: Willem Botha)

Twee gratis webinare vorm ook deel van Fedsas se veldtog:

  • Op 2 Junie 2021 neem die sanger Jo Black aan ʼn webinaar deel. Die webinaar fokus op Black se Everyday Heroes-veldtog en ʼn app wat kinders in staat stel om boeliegedrag op ʼn veilige manier aan te meld.
  • Op 3 Junie 2021 bied Fedsas ʼn webinaar aan oor die internasionale veldtog #share2protect. Fedsas, Be In Touch, ʼn organisasie wat fokus op die digitale welstand van gesinne, en Media Monitoring Africa span saam met Yoti, ʼn Britse platform wat sagteware ontwikkel om identiteitsverifikasie op die internet te verbeter ten einde kinders sodoende te beskerm teen kubergevare. Deelname aan hierdie projek bied ook aan skole ʼn geleentheid om geld in te samel. Skole kan tot R20 000 verdien én help om kinders aanlyn veilig te hou.

“Fedsas ondersteun ook die departement van maatskaplike ontwikkeling se inisiatiewe vir kinderbeskerming, wat onder meer toegang tot hulplyne en maatskaplike werkers bied,” sê Deacon.

Fedsas se visie is nog altyd gehalte-onderrig in skole. “Dit is slegs moontlik as kinders veilig is. Dit is volwassenes se plig om toe te sien dat ons toegerus is om ons kinders te beskerm en dit is ook waarom Fedsas al hierdie veldtogte en inisiatiewe ondersteun.”

Vir meer inligting oor Fedsas se webinare, besoek dié organisasie se webwerf by www.fedsas.org.za of volg die organisasie op sosiale media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.