Kinderhuisgroep besoek Voortrekkermonument

Kinders van die Jakaranda-kinderhuis in Pretoria het die Voortrekkermonument vir die eerste keer besoek. (Foto: Verskaf)

ʼn Groep van 11 kinders van die Jakaranda-kinderhuis het Donderdagoggend vir die eerste keer die Voortrekkermonument besoek. Die groep was net te opgewonde om die monument, as kultuurtuiste van Afrikanererfenis, te sien.

“Jis, maar dis groot,” het dit uit die kinders se monde gerol toe hulle vir die eerste keer die monument binnegegaan het.

Op die toer het die groep seuns en meisies aandagtig geluister na toergids Godfrey Zakhe se vertelling van die Groot Trek en die Voortrekkers se geskiedenis. Die meeste van die kinders het egter nie daarvan gehou om die 299 trappe uit te klim nie, het hulle skertsend gesê.

Die Wet op Kinderbeskerming vereis dat geen van die kinders geïdentifiseer word nie.

“Dit was die lekkerste om bo-op te staan en af te kyk [op die Senotaaf], asook om gewig te verloor van al die trappe wat ek moes klim,” het ʼn 16-jarige skertsend gesê.

Hy was ook in vervoering oor hoe groot die Familiebybels is wat in die monument uitgestal word.

ʼn 13-jarige seun sê die grootte van die monument het hom gefassineer.

“Die wapens en die speelgoed wat hulle gebruik het, was vir my die interessantste. Ek dink nie ek sou ʼn Voortrekker kon gewees het nie, want dit was baie tough,” sê die seun.

Daar is darem een mannetjie wat die oefening geniet het.

“Die trappe was die lekkerste, want dit vat lank om dit te klim. As ek ʼn Voortrekker was, sou dit die lekkerste gewees het om die kar [ossewa] te bestuur,” sê die agtjarige.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Hoekom kan ‘n Afrikaaner nie die toergids gewees her nie. Dit is ‘n kultuur gebou met kultuur geskiedenis. Ek glo nie daar is ‘n Afrikaaner by die plek oorkant die VTM om daardie geskiedenis te vertel nie. Hoekom moet ons altyd o, so poltities korrek wees? Sê maar ook net.
Ek is bly die kinders kon die VTM besoek en die ervaring geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.