Kinders moet gekoester voel om pandemie te kan deursien

Lianca Fourie, ‘n kinderberader van George, wil poog om ‘n 100 gratis sessies vir kinders aan te bied. (Foto: Verskaf)

Wat dryf ’n kinderberader om 100 konsultasies gratis te bespreek, al weet sy vyf maande vooruit dat sy duisende rande se onbetaalde werk gaan doen? Lianca Fourie van George in die Suid-Kaap is ’n geregistreerde berader wat spesialiseer in spelterapie. Sy vertel aan Sarie Marais-Nell hoe dringend kinders en gesinne nou ondersteuning benodig, en watter belangrike rol ouers kan vervul om pandemie-verwante stresfaktore binne hul huise te bekamp.  

“Omdat kinders van alle ouderdomme deesdae spanning en angs in hul ouers se gedrag opmerk sonder om dit ten volle te verstaan, begin hulle onbewustelik saamdra aan die gewig van hul ouers se laste,” verduidelik Lianca (34).

“Ons sien hoe tref werkloosheid die gesinne; dan volg agterstallige rekeninge en leë koskaste, soms ook verhuising na ’n kleiner plekkie – só baie kinders ly deesdae omdat hulle nie veilig en kalm voel nie.

“Kinders is soos sponse, hulle vang al die emosies in die huis op. Wanneer ’n sesjarige angstig raak oor haar ouers se dilemmas, flikker gevaarligte rooi. Wanneer ouers te min struktuur en sekuriteit tuis skep, sien ons hoe styg kinders se stresvlakke,” verduidelik Lianca, reeds 11 jaar ’n kinderberader in die Wes-Kaap.

“Geen mens kan ouers wat hul werk en inkomste verloor, verkwalik as hulle melankolies of paniekerig reageer nie. Verbrokkelde huwelike, die dood van  ’n ouer, grootouer en/of primêre versorger, veroorsaak ingrypende veranderinge in hul lewenstyl – gesinne en kinders trek tans baie swaar.

“Soms raak ouers só gefokus op oorlewingsaksies buite die huis, dat hul kinders daagliks alleen tuis bly. Dan vind kind-en-ouer-vervreemding plaas en ontbeer kinders die emosionele ondersteuning wat hulle so nodig het.

“Sommige kinders se angsvlakke was voor die pandemie reeds ongesond hoog. Nou raak dit buite beheer.”

Dis nie net gebrekkige fondse wat sekuriteite bedreig nie.

“Wanneer ouers noodgedwonge hul kinders bedags plaas by onveilige versorgers en kinders dan fisieke, verbale of seksuele mishandeling beleef – hoe kan ek dan terapie beëindig voordat die kind buite emosionele nood is?”

Dis juis Lianca se einddoel – om kinders te help ontwikkel tot emosioneel gesonde jong volwassenes – wat haar laat besluit het om vyf van haar bestaande kliënte aan te hou begelei, al kan daardie gesinne nie betaal nie.

“Die ouers gaan probeer geld insamel, maar ons kon nie waag om die terapie te onderbreek nie.”

Toe Lianca die realiteit besef – dat sy oor die volgende vyf maande gaan werk vir R50 000 wat sy nie gaan sien nie – het sy ’n BackaBuddyforum geskep om borgskappe te soek.

“Slegs veertien van die 100 sessies is reeds geborg.”

Terapeute kan nie alle kinders gratis help nie – hoe gemaak met honderde ander kinders met soortgelyke probleme?

“Dis belangrik dat ouers voorkomend werk,” glo Lianca. “Wanneer ouers struktuur en veiligheid tuis skep; van hul huise veilige hawens maak, kan die huis maar klein en die klere tweedehands wees. Kinders moet eerstens veilig voel voor hulle emosioneel kan ontwikkel; en dit geld kinders van alle ouderdomme.

“Dis normaal om gestres en vreesagtig te raak in hierdie tye. Ek glo volwassenes – ouers, grootouers en onderwysers – moet elkeen vir ’n rukkie stilstaan en ásemhaal; en onthou om vir jouself goed te wees.

“Pandemiedruk maak dat ons gejaagd raak, want almal moet harder werk om ’n inkomste te verseker. Maar dis belangrik dat ons eerstens stilraak en ons situasie goed evalueer. Dink oor die emosies wat jy beleef, en gee aandag daaraan. Vra hulp by kenners of goeie vriende as dinge oorweldigend raak. Eers as jy jou eie stres en emosies kon deurwerk, kan jy groei en jou nuwe uitdagings aanpak.

“Maak lysies van jou grootste bekommernisse en hoe om dit te hanteer. Bedink haalbare gesinsdoelwitte wat julle saam kan nastreef – byvoorbeeld die instel van  ’n oggend- en aandroetine vir jou en jou kinders, taakverdeling sodat elke familielid bydra tot die orde tuis, en die instel van ontspanne oomblikke tydens aandete.

“Oorhaastige besluite is selde slim besluite. Gesels met jou gesinslede voordat julle saam die pad vorentoe aanpak.

“Sommige ouers verval in ’n slagoffermentaliteit en verloor alle struktuur en roetine tuis. Terwyl kinders al minder voorspelbaarheid by skool- en sportbyeenkomste kry, is dit noodsaaklik dat kinders gekoester voel binne ’n geordende patroon tuis. ’n Veilige roetine en struktuur help kinders om kognitief, emosioneel en sosiaal te ontwikkel.

“Gesels gerus binne die gesin met mekaar oor jul verliese, besluit saam hoe om mekaar daardeur te help. Hou dit ouderdomstoepaslik – mens kan meer detail vir tieners deurgee as vir jonger kinders. Maar moet nooit jou kind se skouers die draplek van al jou spanning maak nie.

“Wanneer ouers  ’n groei-ingesteldheid ontwikkel in stede van ’n wat-nóú-weerhouding, sal kinders daardie vermoëns by hul ouers raaksien en aanleer. Só leer hulle emosionele intelligensie aan.

“Ons hét die mag om ons eie lewensverhaal te kan bepaal. Feitlik álle negatiewe dinge in hierdie lewe kan omgeswaai word tot iets positiefs,” verklaar Lianca in haar entoesiastiese geselsstyl.

Wat bekommer Lianca die meeste? “Kinders wat buite hul gewone karakter eensaam is en hulself onttrek, en diegene wat negatiewe gedagtes oor hulself koester en dit uitspreek. Kinders wie se dagsorg onveilig is. Jong kinders wat hulle uitermate oor hul ouers bekommer.”

Lianca se wenke:

“Terwyl kinders meer dikwels moet tuisbly, is dit nóú die tyd vir beter huisgewoontes. Maak pret van dinge soos ’n nuwe interieur, al verskuif julle net meubels of verf ’n muur of kas; maak ’n groente- of kruietuin (dalk  ’n vensterbanktuin); ouderdomstoepaslike speletjies, huiskonserte, buitelugkuiers en Zoom-speletjiesaande omdat sosialisering met tydgenote belangrik bly. Raak kreatief om kinders se skermtyd te verminder – te veel televisie- en selfoontyd veroorsaak weer ander probleme.

“Ouers en onderwysers moet soms goed wees vir hulself, en vir kort rukkies ontsnap van al die eise. Doen iets wat jou laat goed voel oor jouself: Sport, stap of enige buitelugaktiwiteit, vrywilligerwerk by die kerk, welsyns- of diereorganisasie, doen iets kreatiefs met jou hande, speel of luister na musiek,  pak ’n aanlynfotografiekursus aan – enigiets om jou balans te herstel.”

Lianca se lewe as omgeemens is reeds jare lank sigbaar. Sy en haar gesin is gereeld betrokke by verskeie uitreike in kerkverband, onder meer ’n diensjaar in die Transkei. Tydens die 2017-brande in Knysna en omstreke het sy en haar man ook ingespring en praktiese strukture help skep om brandslagoffers en brandbestryders te ondersteun.

Deel van: Goeie nuus, Mense, Ouerskap

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.