Kinders se magies én harte vol danksy Affies-projek

‘n Hoërskoolleerder van Affies tydens een van die uitstappies (Foto: Verskaf)

Nadat die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria in 2014 ʼn besoek aan die Laerskool Generaal Nicolaas Smit afgelê het, het dié skool ʼn liefdadigheidsprojek begin wat vier jaar later steeds op ʼn daaglikse basis kos aan 365 behoeftige kinders voorsien – en nou is dié skool met ʼn ATKV-prys vereer.

Marlene du Toit, koördineerder van die Affies-360-projek, vertel dié projek is begin nadat die skool bewus geraak het van die behoeftigheid van leerders in Generaal Nicolaas Smit.

Du Toit sê dr. Pierre Edwards, Affies se skoolhoof, het saam met ʼn groep ander hoofde van die omgewing dié skool op uitnodiging besoek – juis met die oog daarop om te sien in watter moeilike omstandighede sommige van dié jong leerders daagliks leef.

Sy vertel die 360-projek is kort na dié besoek begin en het aanvanklik een ete per dag aan sowat 250 leerders voorsien.

“Dis ʼn projek wat ons begin het omdat die behoefte van die leerders by die skool ons werklik aangeraak het,” sê sy. “Ons het geweet ons moet iets doen om die kinders te help – en om daaglikse etes te voorsien was iets wat ʼn daadwerklike verskil in die lewe van honderde jongmense sou maak.”

Die etes is aanvanklik deur Gerrie Kriel, die Affies-koshuis se voedseldiensbestuurder, voorberei, maar dié projek het later só uit sy nate gebars, dat daar besluit is om die gemeenskap ook te betrek.

Die kleuterskoolgroep van die Laerskool Generaal Nicolaas Smit (Foto: Verskaf)

Toe word daar soos een man besluit: Dié projek moet nóg groter, en nóg meer mense moet daarby betrek word.

“Ons het vinnig besef dat dit nie ʼn permanente oplossing kon wees dat Gerrie daagliks die kos voorberei en na die skool neem nie. Hy het uit eie inisiatief vroue uit die gemeenskap genader wat in daardie stadium werkloos was, hulle opgelei hoe om die disse voor te berei en hulle is toe werk gegee om daagliks die disse vir die kinders voor te berei,” vertel sy.

Intussen het Affies ʼn ten volle toegeruste kombuis op die laerskoolgronde opgerig én die drie vroue wat daagliks die kos voorberei, word maandeliks ʼn salaris betaal. Kriel koop op ʼn weeklikse basis die bestanddele vir die disse, waarna dit by die laerskool afgelaai word.

Du Toit meen hoewel die volhoubaarheid van die projek aanvanklik ʼn bekommernis was, het talle oud-Affies, ouers, die gemeenskap en selfs leerders in die skool betrokke geraak om van projek-360 ʼn sukses te maak.

“Ons het aan verskillende maniere gedink om die projek te finansier,” sê sy. “Ons hou een maal per jaar ʼn gholfdag waarvan al die fondse vir die projek gaan en ons het ouers en oud-Affies wat op ʼn weeklikse basis ʼn skenking vir die projek maak. Boonop het ons ouers en onderwysers ingekoop in die projek. Dr. Edwards het blikkies oral op die skoolterrein laat sit waarin die seuns daagliks ʼn R2 of meer kan skenk. Ons onderwysers het ook oulike metodes – as die kinders stout is of hulle selfone in die klaskamer gebruik, moet hulle ʼn geldjie in die blikkie gooi wat ook na die projek gaan,” vertel sy.

Van links: Deirdre le Hanie (besturende direkteur van die ATKV), dr. Pierre Edwards (hoof van AHS), Viljoen van Zyl (hoofseun van AHS), Marlene du Toit (projekleier by AHS) en mnr. Gerrie Kriel (voedseldiensbestuurder van die koshuis van die Afrikaanse Hoër Seunskool) (Foto: Verskaf)

Dié projek is onlangs as die wenner van die ATKV-Handevat-kompetisie aangewys. Die 360-projek én die Laerskool Generaal Nicolaas Smit is met R30 000 beloon – fondse wat volgens die skool weer in die 360-projek ingeploeg gaan word.

Du Toit meen hoewel die skool trots is op dié erkenning, is dit die impak van die projek op die kinders se lewe wat die skool werklik trots maak.

“Daar is ʼn duidelike en daadwerklike verskil in die lewe van die kinders. Buiten dat die kinders daagliks ʼn gebalanseerde ete ontvang, is daar talle ander positiewe aspekte aan die projek. Volgens Chris Sealie, skoolhoof van Generaal Nicolaas Smit, het skoolbywoning in die laaste paar jaar ontsettend baie verbeter. Waar die skool in die verlede baie slegte skoolbywoning op ʼn Vrydag gehad het, is die skoolbanke deesdae vol, want niemand mis hamburger-dag nie. Verder is die moraal ook baie gelig en die kinders se konsentrasie is baie beter nadat hulle ʼn gesonde ete gehad het. Ons is trots om by so iets betrokke te wees wat werklik ʼn verskil maak.”

Enigiemand wat by die projek betrokke wil raak, kan die Afrikaanse Hoër Seunskool bel by 012 344 3805 of ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Helene ·

So hartverwarmende storie na al die ander slegte nuus oor grondgrype ens! So trots om Afrikaans te wees! Affies is voorwaar ‘n skool om op trots te wees!

JJ ·

Gee daardie skool(Affies en almal betrokke) n BELLS. Niks is mooier as n kinder gesiggie wat lag nie. Wel gedaan

Rob ·

Dit maak my sowaar trots as ‘n oud-Affie. Dit gee ‘n ekstra betekenis aan die skoolleuse “Laat daar lig wees”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.