KKNK stel pandemiebundel bekend

Argieffoto (Foto:
Steve Johnson/Unsplash)

Maskers en mure, die eerste Afrikaanse digbundel met die Covid-19-pandemie as tema, word vandag (11 Junie) op Oudtshoorn bekendgestel. Die geleentheid sal ook om 18:45 regstreeks op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se webwerf te sien wees.

“Die span kan voorwaar trots wees op ʼn interessante versameling stemme wat werklik die tydsgees vasvang,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “Dit is vir die fees ʼn besondere voorreg om by die publikasie van hierdie bundel betrokke te wees.”

Volgens Theart is dit vir die KKNK as fees, maar ook vir die borge en donateurs belangrik om projekte soos dié te ondersteun, veral wanneer dit ’n bydrae lewer tot die taal en kultuur en ook tot ʼn geskiedkundige nalatenskap.

Die bundel is deur digters Daniel Hugo en Francois de Jongh saamgestel en word deur Turksvy-publikasies uitgegee. Die projek is voltooi in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en met ondersteuning van die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV), die Jannie Mouton-stigting en Absa.

Maskers en mure is ’n bloemlesing gedigte wat spesifiek saamgestel is om hierdie tydperk in die wêreldgeskiedenis vas te vang. Gepubliseerde én onbekende digters kon werk voorlê: Meer as 500 bydraes is van ongepubliseerde digters ontvang, asook sowat 80 deur gevestigde digters soos Frazer Barry, Hans du Plessis, Diana Ferrus, Jaco Jacobs, Ronelda S Kamfer, Koos Kombuis, Maretha Maartens, Bibi Slippers, Johan Jack Smith en Nathan Trantraal. Uiteindelik is die werk van 142 digters in die bundel opgeneem.

Volgens Hugo was die reaksie oorweldigend. “Nadat die eerste versoek om bydraes aangekondig is, het dit daagliks ʼn volgehoue stroom inskrywings van oor die hele land opgelewer. Mense van alle ouderdomme en beroepe het ingeskryf. Dit was duidelik dat almal die afgelope jaar van inperking op hul eie, unieke manier ervaar het,” sê hy.

“Niemand kyk deur presies dieselfde oë na die pandemie en die maande van afsondering nie. Elkeen het dit op hul eie manier probeer verwerk – met óf ontsteltenis, óf optimisme, óf berusting, óf humor.

“Ek glo die skryf van gedigte is ook ʼn manier om te verstaan wat met die wêreld gebeur het. Ons leef almal agter maskers en mure, het min sosiale kontak en daar is ʼn streep deur ons daaglikse, doodgewone doen en late getrek. In dié vreemde grendeltyd het ons almal ʼn behoefte daaraan om uiting aan emosies te gee. Ons het ook die behoefte om aan ons ervarings van hierdie vreesaanjaende tyd ʼn duursame, kreatiewe gestalte te verleen – sodat ons nooit mag vergeet van die stryd waarin die mens en die wêreld die afgelope meer as 12 maande gewikkel is nie.”

Maskers en mure word bestempel as ʼn unieke literêre en historiese dokument. Na die regstreekse bekendstelling van die bundel sal dit in die KKNK se e-winkel beskikbaar wees. Kl!ek- en ATKV-lede ontvang 10% afslag op hul aankope.

Vir meer inligting hieroor, bel Daleen Witbooi by 044 203 8600 of stuur ʼn e-pos na [email protected] om meer te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.