Kla so reg

accident-1845988_1920Verbruikers het deesdae baie opsies wanneer hulle wil kla. Ombudsmanne vir verskillende bedrywe is ‘n goeie opsie, maar mens kan gewoonlik net by hulle kla indien jy “alle moontlike kanale” in die maatskappy waaroor jy kla, gebruik het en steeds nie tevrede is nie. Ina Opperman verduidelik hoe mens doeltreffend kan kla en watter kanale in ‘n maatskappy jy moet gebruik voordat jy aan ‘n ombudsman se deur kan gaan klop.
Verbruikers se reg om te kla en te verwag dat hul klagtes opgelos word, is twee van die belangrikste verbruikersregte, naamlik die reg om gehoor te word en die reg om regverdig vergoed te word. Wanneer jy op die regte manier kla, wys dit die maatskappy jy is ernstig en nie net ‘n klakous nie.

Hoe om te kla
• Dit is belangrik om altyd hoflik te wees wanneer jy kla, al maak mense jou warm onder die kraag. Niemand gaan jou in elk geval ernstig opneem as jy vloek en skree nie.
• Skryf die besonderhede van jou klagte neer voordat jy kla, sodat jy al jou feite agter mekaar het. Maak nota’s van al die besonderhede van jou klagte.
• Skryf alles neer wat jy doen om jou klagte op te los. Maak nota’s van die tyd en datum wat jy met iemand van die maatskappy gepraat het, hierdie persoon se naam, wat hy of sy gesê het en die beloftes wat gemaak is.
• Skryf ook die verwysingsnommer vir jou klagte neer en gebruik dit elke keer as jy navraag doen oor jou klagte.
• Maak dit van die begin af duidelik wat die maatskappy moet doen om jou klagte op te los. Wil jy die produk omgeruil of herstel hê, of wil jy jou geld terug hê?
• Hou ook rekord van jou uitgawes wat deur die klagte veroorsaak word.
By wie kla ons?
Kla by die regte mense. Dit help nie jy kla by die rakpakker omdat die melk nog op die rak is na die vervaldatum nie. By ‘n winkel kla jy altyd by die bestuurder van die afdeling om mee te begin, maar nie by die kassiere of vloerpersoneel nie. Jou volgende stap is om by die winkelbestuurder te kla, daarna by die streeksbestuurder en dan by die hoofkantoor. By die hoofkantoor kan jy kla by die klagtesentrum of die direkteur wat verantwoordelik is vir klagtes en dan by die hoof uitvoerende beampte.
As jy by ‘n klagtesentrum kla, sal jy eers met die klagtebeampte praat. As jou klagte nie binne ‘n redelike tyd opgelos word nie, vra om met die toesighouer te praat. Wanneer jou klagte steeds onopgelos bly, vra om met die bestuurder van die klagtesentrum te praat. Daarna kla jy by die direkteur wat verantwoordelik is vir die klagtesentrum en as dit nie help nie, kla by die hoof uitvoerende beampte. Indien jou klagte dan nog nie opgelos is nie, kan jy by die ombudsman kla.
Wanneer jou klagte ontstaan by ‘n klein onderneming, is dit beter om direk met die eienaar te praat om jou klagte op te los. Daarna kan jy reguit na die ombudsman of organisasie gaan om te kla.
Jy kan ook by die Nasionale Verbruikerskommissie of die naaste kantoor vir verbruikersake in jou provinsie, wat onder die provinsiale departement vir ekonomiese sake val, kla. Verskeie bedryfsorganisasies los ook klagtes op oor hul lede.
Ombudsmankantore:
Jy kan kla by die volgende ombudsmankantore, verbruikers- en bedryfsorganisasies:
• Nasionale Verbruikerstribunaal (www.thenct.org.za)
• Nasionale Verbruikerskommissie (www.thencc.gov.za)
• Nasionale Kredietreguleerder (www.nct.co.za)
• Mededingingstribunaal (www.compcom.co.za)
• Finansiëlediensteraad (www.fsb.co.za)
• Raad op Mediese Skemas (www.medicalschemes.com)
• Ombudsman vir Finansiële Advies en Tussengangers (www.faisombud.co.za)
• Nasionale Registrasieraad van Huisbouers (www.nhbrc.org)
• Raad vir Eiendomagentsake (www.ceab.org.za)
• Raad vir Gesondheidsberoepe (www.hpcsa.co.za)
• Spaar- en Beleggingsraad (www.asisa.co.za).
• Suid-Afrikaanse Versekeringsvereniging (www.saia.co.za)
• Owerheid vir Reklamestandaarde (www.asasa.org.za)
• Direktebemarkingsvereniging (www.dmasa.org)
• Wireless Application Service Providers Association (www.waspa.org.za)
• Bottled Water Association (www.sanbwa.org.za)
• Verbruikersgoedereraad (www.cgcsa.co.za)
• Kleinhandelvoertuigorganisasie (www.rmi.org.za)
• Uitsaaiklagtekommissie (www.bccsa.co.za)
• Raad vir Skuldinvorderaars (www.debtcol.co.za)
• Hospitaalvereniging (www.hasa.co.za)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Useless ·

Na ‘n jaar het die Hpcsa my nog nie geantwoord op ‘n klagte wat ek teen ‘n internis gehad het nie. Ombudsman vir Finansiele Advies en Tussengangers het NIKS fout gesien met die makelaar se manier van ‘n ding doen nie. Neewat Zahn ek is geneig om met jou saam te stem, jy loop in ‘n muur vas as jy enigsins ongelukkig is oor iets. As die verskaffer nie onmiddellik jou probleem oplos soos om ‘n gemufte brood om te ruil nie, het jy verder geen kans op oorwinning nie. Hulle rek dit so lank uit dat jy moed opgee. Ek dink dit is die taktiek.

G*tvol ·

By wie kla jy oor swak diens by departementele instansies?? Dept van Arbeid en/ of verkeersdepartemente???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.