Klasse by Akademia gaan ononderbroke voort

Die studente van Akademia op die Spens-stelsel in die afsonderingtydperk. (Foto: Verskaf.)

Akademia se onderrigleermodel laat nie toe dat die landwye afsondering studente se leerervaring beïnvloed nie. Studente gaan ononderbroke met die akademiese jaar voort – hoewel hulle dit nou net effens anders doen.

Die akademiese jaar bestaan gewoonlik uit kontaksessies waar studente fisiek by een van die 13 studiesentrums klas moet bywoon. ʼn Noodplan is egter gou ingestel sodat Akademia se 1 350 studente steeds voordeel daaruit kan trek om klasse tydens die afsonderingstyd by te woon.

“Akademia se model is van meet af so ontwikkel dat daar ʼn sterk fokus op gevorderde tegnologie is, en daarom het die oorskakeling na hierdie alternatiewe manier van onderrig redelik maklik gebeur,” meen Marthinus Visser, besturende direkteur.

Dosente neem kontaksessies in die gerief en veiligheid van hulle huise op. Hierdie klasopnames word dan op Akademia se aanlyn leerbestuurstelsel aan studente beskikbaar gestel. Dié akademiese ondersteuning en leermateriaal speel ʼn belangrike rol in die sukses van studente se akademiese jaar.

“Hoewel hierdie opnames nie noodwendig interaktief is soos wat klasse gewoonlik sou wees nie, verskaf dit steeds méér bykomende ondersteuning as om bloot ʼn aanlyn model te volg,” reken Visser. Studente kan steeds op hierdie platform saam met dosente en medestudente aan gespreksforums deelneem, waar hulle akademiese navrae rig en idees kan uitruil. Bykomende ondersteuning word ook aan studente gebied wat uitdagings met betrekking tot tegnologie of databeskikbaarheid ervaar.

“Om gehalte-onderrig en -opvoeding te lewer is ons prioriteit. Daarom doen ons personeellede alles in hulle vermoë om die akademiese reis van ons studente gedurende hierdie tydperk so gemaklik moontlik te maak. Ons wil graag hê dat elkeen van ons studente die akademiese jaar suksesvol moet voltooi,” sê Visser.

Volgens Visser het Akademia al heelwat korrespondensie ontvang van studente wat hulle dankbaarheid teenoor die instelling uitspreek. “Ons waardeer Akademia en hulle dosente vir die moeite wat hulle insit,” vertel Madeleine van der Merwe, ʼn eerstejaarstudent wat tans LLB studeer. “Ons het nou juis die tyd om oor en oor na die klasse te luister, en dit wat ons nie verstaan nie, kan ons vra en die dosente antwoord dadelik.”

Paul Maritz, tweedejaarstudent in BSocSci (politiek, filosofie en ekonomie), het ook sy ervaring van sy studie gedeel: “Ek is redelik ernstig ingeperk, maar danksy Die Spens – die studenteplatform – gaan alles letterlik normaalweg voort. Dis darem lekker. Dis darem eerstewêrelds …”

Die instelling beoog nie om die bestaande model met die alternatiewe manier van klas­aanbiedings permanent te vervang nie. “As gemeenskapsinstelling sal daar altyd plek wees vir interaktiewe kontaksessies waar studente en medestudente in die klaskamer kan ontmoet, netwerke kan bou en sinkroniese wisselwerking met hulle dosente sal hê. Sodra hierdie pandemie onder beheer is en ons weer met fisieke kontaksessies kan begin, sal ons voortgaan waar ons in Maart opgehou het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mauritz ·

Wys jou net wat gedoen kan word as die wil en die kundigheid bestaan.

Cleopatra69 ·

Hulle kan presies dieselfde doen met skole. Curriculum is mos dieselfde orals in die land

Willem ·

Dit is seker te moeilik om dit verstaan vir blade en angie.Alle opvoedkundige instansies kan dit doen maar kennis ontbreek by leiers

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.