Klein dingetjies wat ʼn verskil maak

Argieffoto (Foto: martaposemuckel/Pixabay)

Mense is geneig om te dink dat hulle maar liefs moet terugstaan as ‘n verskil gemaak moet word, want hulle het niks groots om ‘n verskil te kan maak nie. Min besef hulle egter dat dit juis die klein, dikwels onbenullige dingetjies is, wat ‘n groot verskil kan maak.

Om met klein dingetjies vir iemand, in sy leefwêreld ‘n verskil te maak, is soos om saad te saai en dalk nooit die oes te sien nie. Want sien, hulle wat saai om ‘n verskil te maak, saai onopsigtelik, onselfsugtig, uit hulle harte uit. Nie om met die oes hulleself te verryk nie, maar juis om ander se lewens te verryk.

‘n Goeie vriend het een aand toe ons om ‘n vuurtjie sit en mymer het, ‘n waar ding gesê: “My maat, as ek vanaand my kop op die kussing neerlê en ek besef ek het vandag nie ‘n verskil in my leefwêreld of vir my medemens gemaak het nie, het ek ‘n dag van my lewe gemors!” Die waarheid van sy woorde kan nie oorbeklemtoon word nie.

Toe ek gister hier voor ons blyplek in my kar sit en wag, en dit waaroor ek nou skryf, deur my gedagtes gemaal het, het ek iets besonders, vreemds raakgesien: ‘n Dame, nie meer jonk nie, het in die straat geloop en rommel opgetel. Ek het oorgestap na haar toe, myself aan haar voorgestel en vir haar dankie gesê dat sy rommel optel. Sy het my vas in die oë gekyk en toe verduidelik: “Meneer, ek bly net hier onder en die hele dorp se goed waai hierheen. Ek kan dit nie vat dat ons omgewing so lyk nie. En nou tel ek maar die gemors op. Almal sê ek is mal. Ek gaan nog siektes optel. Hulle is kwaad vir my want nou gaan die munisipaliteit dit nog minder doen. Meneer, wie gaan dit doen as ek dit nie doen nie?”

Ek het aangebied om te help om van die sak rommel ontslae te raak. “Nee meneer, ek sorteer die goed en besorg dit aan mense wat daarmee ‘n geldjie kan maak. Sommige mense wíl en kán ‘n verskil maak!

‘n Mens hoef nie ver te gaan soek om dierbare mense wat ‘n verskil maak, raak te sien nie. Hulle is om ons – ook hier in Ou Meule Tehuis. Hulle is óm ons, ook hier in ons dorp – oral in ons leefwêreld. Dit gaan oor liefde, omgee, deernis, begrip, raaksien, luister, verstaan, uitreik … om nie net in iemand se skoene te staan nie, maar om onder iemand se vel in te kruip. Vir wie, aan wie en hoe? My hart sal dit vir my aandui.

Ek sien hulle hier in Ou Meule. Almal onse Riversdal se mense. Versorg liefdevol uit hulle eie sakke uit. Sorg vir persoonlike behoeftetjies. Lees, luister, lag en troos. Voer dié wat nie meer self kan eet nie. En as die laaste asempie uitgeblaas word, is hulle harte dikwels die seerste. Soms ook die enigste harte wat seer is … Ek wonder of hulle nie sigbare engele is nie.

Nadat oom Piet sy vrou aan die dood afgestaan het, het hy vinnig verswak totdat hy sy intrek in die sorgeenheid moes neem. Daar het hy begin om sy bedlêende bure te besoek. Die meeste het nie regtig geweet waar hulle is, of waarom hulle daar is nie. Waarskynlik wis party nie eens wié hulle is nie. Hy het oor ‘n tante gebuk, met haar gepraat maar sonder enige reaksie, behalwe toe hy haar hand saggies gedruk het. Sy wou nie sy hand laat los nie. Tot sy dood toe het hy elke dag, woordeloos, haar hand gaan hou totdat sy aan die slaap geraak het. Vir haar het oom Piet ‘n verskil gemaak.

Ek het nou die dag gesien hoe ‘n tante vir ‘n buurvrou dankie gesê het vir ‘n sny varsgebakte brood en botter. Die emosie het, uit haar hart uit, deur haar oë gevloei. “Jy weet, dit is vandag Peter se eerste verjaardag na sy dood. Ek het vanmôre vir niks kans gesien nie. Nie eens om brekfis te maak nie en toe stuur jy vir my ‘n sny brood en botter. Jy het aan my gedink en nou sien ek kans vir die dag. Vir haar het ‘n buurvrou wat omgee, ‘n verskil gemaak.

Dierbare tante Naomi, stewig op pad na haar honderdtal, nie uit nie, maar amper blind, roep my nou die dag. Sy voel al langs my arm af tot sy my hand vasvat. Sy praat sag, so asof sy pleit: “Jong, wil jy nie asseblief saam met my plaas toe ry en gaan help vye pluk nie. Jy weet mos ek kan nie meer goed sien nie. Ek wil vir die oumense in die siekeboeg lekker ryp vye uitdeel. Foeitog, hulle kry ook mos lus vir ‘n ou lekkertetjie.” Vir hulpelose, dowe, swaksiende en ja, lankvergete oumensies, maak tante Naomi ‘n verskil.

Tydens die dag vir bejaardes was daar ‘n straatoptog na ‘n saamtrek by die burgersentrum. Hier voor Ou Meule was versierde sleepwaens en dié wat kon en die wat opgehelp is, het op bankies hulle sit gekry. Ander het gestap en ‘n klompie is in rolstoele gestoot. Ek en my liewe vrou het agter twee rolstoele stelling ingeneem. In my rolstoel was ‘n vel-en-been bondeltjie mens.

Sy het met haar tenger handjie iets beduie en ek het afgebuig om te hoor of sy dalk iets wou sê. “Wie is jy?” wou sy weet. Ek het haar vraag beantwoord en gevra wie sy is. “Ek is Elna. Hoekom is ons hier?” wou sy weet. Ek het verduidelik en gesê dat ek haar, vir ‘n funksie, deur die strate burgersentrum toe en terug gaan stoot. “Ek is innig dankbaar,” het sy gesê, “ek word volgende jaar 100 en ek het nie gedink ek sal weer op straat kom nie. Net jammer ek kan omtrent niks meer sien nie.” Woorde het skielik opgeraak.

Sy het weer met die handjie beduie en ek het haar hand gevat en afgebuk om te hoor: “Hoekom doen jy dit? En hoekom vir my?” wou sy weet. Ek het verduidelik dat ek dit graag vir my ma sou wou doen. Sy het my hand bewerig gedruk en gevra of sy my kan seën. “Here, dankie vir hierdie vreemde man wat hom vandag oor my ontferm. Seën hom asseblief met die keur van u seëninge.” Dit was vir my onbeskryflik kosbaar. As ek vandag my seëninge tel, glo ek baie van hulle is die gevolg van die seën wat ‘n brose ou mensie oor my uitgespreek het. Sy het vir my ‘n verskil gemaak.

Mense wat die grootste verskille maak is hulle wat dit regkry, sonder om dit aan die groot klok te hang. Hulle wil nie gesien word nie, maar hulle kan nie misgekyk word nie. Die meeste is maar net altyd daar om ‘n verskil te maak. Dit gaan daaroor om verantwoordelikheid vir mekaar te aanvaar. Dit wat hulle gee en doen het nie ‘n prys nie – kan nie gekoop word nie want dit kom uit die hart uit. Dit gaan oor raaksien – die vermoë om te luister, te begryp – om te verstaan, om empatie te toon. En om dan van harte te gee en te doen wat hart en verstand vir ‘n mens sê om te doen.

Dit was vanoggend diep treffend. In vandag se oordenking herinner ou dominee Mike Smuts met verwysing na Jesus se woorde by Sy wederkoms (Matteus 25:34-40) aan die volgende: Jesus gebruik die geleentheid om die mense te leer dat, in soverre hulle iets aan die geringste mense doen, is dit asof hulle dit aan Hóm self doen. As ons aan ander goed doen, is dit asof ons aan Jesus self goed doen. Maar as ons ander nie help nie, sal Jesus eendag vir ons vra waarom ons Hóm nie gehelp het nie.

Dankie, vriend Piet. Jou opmerking by die nagvuurtjie het my lewe verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae