‘Klein Elvis’ laat sosiale media gons

(Skermgreep uit die video)

Met 200 000 kyke in minder as ’n week, wat boonop reeds 6 000 keer op Facebook gedeel is, het die agtjarige Joshua Ziervogel, ’n leerder aan die Laerskool Van Riebeeckpark in Kempton Park, omtrent sosiale media aan die gons.

As deel van Laerskool Van Riebeeckpark se junior revue, met die tema Riebies Diner, is dié bekkige knapie duidelik baie tuis op die verhoog. Sy vertolking van Juicy Wiggle het gehore die afgelope paar maande telkens op hul voete en die videogreep waarin hy verskyn, versprei soos ’n veldbrand op sosiale media.

Die video is oorspronklik deur Frans Swart van Lefra Produksies op Facebook gedeel met die woorde: “Die enetjie het die show gesteel vanaand. Te blerrie cute (sic).”

Die Riebies se junior revue het vanjaar nie net deurgedring na die finale rondte van die Kaleidoscope-revuekompetisie in die Opera van die Staatsteater in Pretoria op 7 September nie, maar is ook die enigste juniorgroep wat tot die finale rondte van Lefra Produksies se revuekompetisie by Carnival City se Big Top Arena op 12 September deurgedring het. Die groep het vroeër vanjaar ook koning gekraai by die Kempton Park Eisteddfod.

Laerskool Van Riebeeckpark is bekend vir sy uitstekende revuegroepe onder die bekwame leiding van Julie Ruthven. Sy hanteer ook die choreografie van Hoërskool Jeugland se revuegroep, wat ook tot die Kaleidoscope- en Lefra-finaal deurgedring het.

Die Riebies se senior revue, met hul tema Lights, camera, action, het op hul beurt die semifinale rondte van Lefra se revuekompetisie gehaal en ook tot die finale rondte van die Kaleidoscope-revuekompetisie in die Staatsteater deurgedring. Die groepe is voorts genooi om op 1 September aan die Tshwane Kunstefees deel te neem.

Volgens Vivian Botha, hoof van Laerskool Van Riebeeckpark, is die skool geweldig trots op Joshua en die skool se twee uitnemende revuegroepe. “Van graad 1- tot graad 7-leerders kry deur revue die geleentheid om op groot verhoë en voor groot gehore die vermaaklikheidswêreld te beleef. Dikwels word die saadjie reeds hier geplant vir ’n loopbaan later. Een só ’n voorbeeld is een van ons oudleerders, die aktrise en motiveringspreker Leandi du Randt-Bosch.

“Behalwe die ongelooflike geleentheid om te kan sing en dans, gee dit die kinders se selfbeeld ’n enorme hupstoot. Skielik blom ’n skaam kind en dít is applous wat geld nie kan koop nie,” het Botha gesê.

Klik hier om die video te sien as dit nie direk in jou webblaaier speel nie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elsje ·

Lefra doen so baie vir Afrikaans. Dankie Lefra en Frans Swart dat julle so mooi na ons Afrikaanse kinders kyk.

Elsje ·

Dankie Lefra vir alles wat julle en Frans Swart vir ons Afrikaanse kinders doen

Piet Pille ·

Julie Ruthven jy is ‘n groot kenner op die gebied.Geluk aan julle almal

Essa ·

Die hele groepie is sterre! Puik! Komplimente aan hulle en die juffrou en al die rolspelers!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.