Klein Juandré tuis ná operasie; lang pad lê voor

Klein Jaundré Gouws (Foto: Verskaf)

Die tweejarige Jaundré Gouws van Vereeniging in Gauteng, wie se ouers vroeër vanjaar gehoor het dat hy sy oog moet laat verwyder nadat oogkanker by hom gediagnoseer is, sterk tuis aan ná ʼn suksesvolle operasie.

Maroela Media het vroeër berig die verpletterde Gouws-gesin het hulle tot die publiek gewend om te pleit vir geldskenkings vir dié lewensnoodsaaklike operasie wat hy moes ondergaan voordat die kanker na die res van sy liggaam versprei.

Janine Gouws, klein Jaundré se ma, het aan Maroela Media vertel hoewel die operasie langer geduur het as wat die dokters aanvanklik beplan het, is hy byna weer “sy ou self”.

“Ons was skaars by die huis nadat hy ontslaan is, toe begin hy saam met sy ander boeties en sussies speel. Hy is ongelooflik sterk en het nog net een of twee keer oor pyn gekla. Dit is regtig wonderlik om te sien hoe normaal hy aangaan met sy lewe, ʼn mens sal byna nie sê hy het so ʼn ernstige operasie ondergaan nie,” vertel sy.

Gouws sê die dokters het ʼn gedeelte van die oog en die senuwee vir toetse gestuur om seker te maak dat die kanker nie na die res van die liggaam versprei het nie.

“Hoewel die aanvanklike toetse gewys het dat die kanker net in sy oog was, wil die dokters maar doodseker maak dat dit nie intussen versprei het nie. Indien dit wel versprei het, sal hy vir chemoterapie-behandeling moet gaan. Ek kan nie dink dat ons deur sulke diep waters moet gaan en dan die wonderlike geskenk van ʼn tweede kans kry wanneer weldoeners geld skenk, net om weer hierdeur te moet gaan nie. Maar die Here het altyd ʼn plan – Hy weet wat die beste is, daarom sal ons kyk wat gebeur.”

Volgens dokters kan die herstelproses vir sy oog enigiets tussen drie maande en ʼn jaar neem. Nadat klein Juandré van dié operasie herstel het, sal hy weer ʼn tweede keer onder die operasiemes moet gaan om die oogbank op te bou sodat hy uiteindelik die kunsoog kan kry. Die tweejarige dra vir tyd en wyl ʼn mediese balletjie in sy oog om te verseker dat dit nie toegroei nie.

Klein Jaundré Gouws (Foto: Verskaf)

“Alles hang nou af van die uitslae. As daardie uitslae terugkom en daar is nie ʼn teken van kanker nie, lê ʼn normale lewe weer vir hom voor. Hy sal kan lag en speel soos ander tweejariges doen. As die kanker versprei het, sal ons daardie pad saamstap en sterker aan die ander kant uitkom.”

Die gesin doen steeds ʼn beroep op weldoeners vir geldskenkings om die tweede operasie later vanjaar te kan betaal. Gouws sê dit is bydraes uit die hart soos dié wat verseker dat haar kind nou tuis saam met sy gesin kan wees.

“Ons is dankbaar vir elke enkele bydrae. Dit help regtig om ʼn jong kind se lewe te verander – een wat nie gevra het om dié pad te stap nie.”

Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, kontak die Child Medi-organisasie by [email protected] of bel Amor Schoeman by 062 266 0486. Besoek ook die Child Medi-webwerfof Facebook-blad.

Klein Jaundré Gouws (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Melodie Veldhuizen ·

My hart breek vir die ouers en hul pragtige seuntjie. Uit ondervinding weet ek dis baie moeilik om met die uitdaging van siggestremdheid saam te leef. As dit boonop gepaardgaan met die moontlikheid van ander komplikasies soos kanker is dit veel erger. Ten minste het julle die insig aan die dag gelê om die mediese wetenskap te vertrou. Ja, wonderwerke gebeur, maar soms gebeur dit juis deur die hande van bekwame dokters. Mag Jaundre kankervry wees en spoedig herstel sodat hy ook soos kinders van sy oudedom sorgvry en pynloos die toekoms tegemoet kan gaan.

Oumie ·

Ag, dapper liefie-grootman… Sterkte aan sy Pappa en Mamma.

Ella ·

My kleinkind het dieselfde diagnose op 3 maande gehad en sy regterogie.is verwyder toe hy n jaar oud was. Hy het ook n mediese oogbal en dra n kunsogie. Hy het goed aangepas en is nou 4 jaar oud. Hy word jaarlikse ondersoek. Sterkte vir.julle.

Theresa B ·

Dapper klein mannetjie. Dis hartverskeurend maar die Here het ‘n plan met alles en daar lê nog wonderlike groot dinge vir jou in die toekoms voor. Sterkte aan mamma en papa en ook vir jou klein Superman!!

Elria Pretorius ·

My seuntjie het presies dieselfde gehad. Hy was 3 toe sy ogie verwyder is. Hy is nou 11. Doen alle sport moontlik en gaan aan soos ‘n normale ku d van sy ouderdom. Moet nog elke 2de jaar ‘n ogie laat maak waarvan die medies nie betaal nie. So, ek weet waardeer die ouers gaan. Baie sterkte met alles.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.