Klein kankerlyertjie verower landwyd harte

v.l.n.r Peet sr., Chané, Peet, Maryke en hul oudste seun, Anton (Foto: Verskaf)

Die Vrystaatse kankerlyertjie wat vroeër dié maand harte verower het toe hy saam met Springbokkaptein Siya Kolisi op die veld uitgedraf het vir dié span se toets teen Engeland, sê hy weet presies waarom die Springbokke verlede naweek ʼn nederlaag op Nuweland beleef het: hy was nie teenwoordig nie.

Dit was die sewejarige Peet Pretorius van Odendaalsrus in die Vrystaat se gróótste droom om Kolisi, sy held, te ontmoet, vertel sy ma, Maryke. Min het sy geweet dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) binnekort met die liefdadigheidsorganisasie Reach for Dream in verbinding sou tree en dié groot droom tydens die Bokke se tweede toets bewaarheid sou word.

“Hy babbel steeds daaroor; hy sal nie sommer ophou om daaroor te praat nie. Hy is nog altyd ʼn ongelooflike groot rugbyman; dis maar in sy bloed,” vertel Maryke Woensdag aan Maroela Media.

Die opgewondenheid oor dié oomblik, wat soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het, was nog nie eens verby nie toe word nóg ʼn droom van die klein vegtertjie bewaarheid.

Peet saam met Siya Kolisi (Foto: Verskaf)

Dié week het vragmotors van Interdaf, ʼn vervoermaatskappy in Welkom, Eagle Towing en Goliatskraal hul lorries vir die dag uit hul vloot gehaal om Peet spesiaal by sy huis te gaan verras. “Ons het die hele storie vir hom tot Maandag ʼn verrassing gehou,” vertel Maryke.

“Die ses vragmotors het hier by die huis opgedaag en toeters begin blaas. Hy kon dit nie glo nie. Dit was ʼn wonderlike ervaring – hy het die geleentheid gekry om in elke vragmotor te ry. Hy het selfs ʼn baadjie, ʼn mussie én ʼn afstandbeheerde motor gekry; hy kon sy geluk nie glo nie.”

Peet is dié jaar op die herstelpad nadat hy al in 2016 begin kla het van erge pyne in sy bene. Hoewel hy destyds by ʼn pediater en drie verskillende dokters was, is daar nooit spore van kanker in sy bloedstroom opgemerk nie. Dis eers toe Peet in April verlede jaar een oggend met erge swelling aan sy elmboog wakker geword het dat dokters besef het daar is groot fout.

Aanvanklik is eers vermoed dat hy septiese artritis het, maar ʼn ortopeed het later bevestig dat hy wel leukemie het. Dít het die gesin se wêreld in duie laat stort, vertel sy.

Peet saam met Maryke en die manne van Interdaf en Goliatskraal (Foto: Verskaf)

“Ons het uitgevind hy het kanker die dag voordat ons see toe sou gaan,” vertel sy. “Alles het om ons ineengesak. Ons het al ons planne gekanselleer en was vir die volgende paar weke in en uit die hospitaal. Die Here is groot; hy is ʼn maand daarna kankervry verklaar en sou vir die volgende paar jaar chemoterapiebehandeling moes ontvang, maar is later met Philadelphia-chromosome gediagnoseer – ʼn toestand wat die kankerselle laat verdubbel het. Ons het geweet ʼn beenmurgoorplanting is die enigste opsie.”

Peet se sussie, Chané (11), is positief as beenmurgskenker getoets en hy het in Augustus verlede jaar ʼn suksesvolle beenmurgoorplanting ondergaan. Hoewel sy liggaam vroeër vanjaar tekens van verwerping getoon het, is hy reeds weer op die herstelpad danksy intensiewe kortisoonbehandeling wat hom volgens Pretorius nagenoeg 12 kg in een maand laat aansit het.

Peet saam met die manne van Interdaf en Goliatskraal (Foto: Verskaf)

“Hy het gegaan van vel-en-been tot my klein pokkeltjie,” vertel sy. “En ons sou dit glad nie anders wou hê nie; ons soek net ʼn gesonde en gelukkige klein seuntjie.”

Die Pretorius-gesin, wat Peet een keer per week na Bloemfontein neem vir lewer-, nier- en bloedtoetse, het nié ʼn mediese fonds nie en struikel onder honderdduisende rande se mediese onkoste wat in die afgelope jaar aangegaan is.

Die Facebook-blad, Dapper Vegtertjie Peet Pretorius se storie, is gestig om geld vir Peet se mediese onkoste in te samel en sosialemediagebruikers op die hoogte te hou van sy vordering. Besonderhede oor ʼn trustfonds is op dié blad beskikbaar. Andersins kan Nieuwmann van Rooyen-prokureurs in Welkom ook direk genader word.

Peet met sy afstandbeheerde vragmotortjie (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tollies ·

Bly Positief, hou aan veg God se hand is sterker as jou swakke hand.

Gesiggie ·

Peet ou seun, Jesus sal jou gesond maak, aan Mamma en Pappa en Sus.. hou moed … die Engele sal jul bewaar. En jul sal die geleentheid kry om Peet see toe te vat …sodat jul saam as n gesin net kan ontspan en als kan geniet. Sterkte hoop om weer n opvolg van Peet se toestand te kan lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.