Goeie nuus: Klein olifantjie maak ‘n groot verskil

Olifant-houtborsspeldjie

Die handgemaakte borsspeldjie gaan help om die Rory Hensman Olifant-navorsingseenheid te finansier. Foto: Verskaf.

Adventures with Elephants, ʼn reservaat vir wees-olifante in Bela-Bela, Limpopo, het onlangs ʼn klein handgemaakte houtborsspeldjie van ʼn olifant bekendgestel om geld in te samel vir navorsing by die Rory Hensman Olifant-Navorsingseenheid (RHERU).

Die navorsingseenheid is einde verlede jaar gestig ter herdenking aan Rory Hensman wat bekend gestaan het as Suid-Afrika se eie olifant-fluisteraar. Rory het in 1988 sy eerste twee wees-olifantjies ná ʼn noodsaaklike wilduitdunprojek in die Zambezi-vallei in Zimbabwe gekry, waarna hy al meer probleem- en wees-olifante gekry het om te versorg.

Hy het veral bekendheid verwerf omdat hy daarin kon slaag om Afrika-olifante, berug daarvoor dat hulle nie maklik opleibaar is nie, mak te maak en op te lei om verskeie takies op ʼn plaas te doen, soos om vee op te pas, te help met die nagaan van plaasheinings en die uitvoer van teenstroperypatrollies.

Die Hensman-gesin is in 2002 van hul plaas in Zimbabwe verwyder, waarna hulle hulle in Suid-Afrika kom vestig het met ʼn trop van 12 olifante en die Adventures with Elephants-reservaat geopen het.

Rory-Hensman-die-olifantfluisteraar

Rory Hensman was Suid-Afrika se eie olifantfluisteraar wat Afrika-olifante mak gemaak en opgelei het. Foto: Rory Hensman se Facebookblad.

Die navorsing wat tans by RHERU gedoen word, fokus op die anatomie, bio-opsporing van olifante, kommunikasie, konflikoplossing in gevalle waar mense inbreuk maak op olifante se natuurlike habitat en die welsyn van die tamaaie soogdier. Die handgemaakte houtborsspeldjie sal help om die navorsingsprojek te finansier.

RHERU is ook betrokke by die Internasionale Olifantstigting se konferensie wat in Sri Lanka in Oktober vanjaar gehou sal word. Die navorsingseenheid sal die teen-stropery-, tegnologie- en konflikoplossingsafdeling aanbied. Die span by RHERU beskou die uitnodiging om die afdelings by die konferensie aan te bied as ʼn pluimpie en erkenning vir hul harde werk oor die jare.

Lesers wat belangstel om die navorsingseenheid en die konferensie te ondersteun kan ʼn olifant-borsspeldjie teen R90 aankoop. Die borsspeldjie is beskikbaar by die Adventures with Elephants-reservaat of kan aanlyn bestel word by www.adventureswithelephants.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.