Kleur of skeer jou hare ten bate van Kansa

(Foto:
Angiola Harry/ Unsplash)

Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se jaarlikse Shavathon vind vanjaar op Saterdag 26 Februarie in inkopiesentrums reg oor Suid-Afrika plaas.

“Ons is baie opgewonde om ons ‘Wees jou unieke self – Wees kleurvol’-veldtog van stapel te stuur. Om jou hare te laat skeer of in verskeie kleure te laat spuit kos slegs R50 vir volwassenes en R25 vir kinders jonger as 12 jaar. Ons weet dat almal deur moeilike tye gaan en het die pryse al sedert die begin van Shavathon konstant gehou,” het Maria Scholtz, Kansa se hoof van volhoubaarheid, gesê.

“Baie Suid-Afrikaners neem deel ter ondersteuning van ’n geliefde wat met kanker saamleef of wat as gevolg van kanker gesterf het. Vrywilligers en personeel is opgewonde en gereed om weer eens hierdie geleenthede aan te bied.”

Een van die geleenthede vind by die Castle Gate-inkopiesentrum in die ooste van Pretoria plaas. Die Voortrekkers van die Klapperkop-kommando is aan die stuur van dié geleentheid.

Herman Claassens, lid van dié kommando, het vir Maroela Media meer oor die geleentheid vertel.

“Ons wil uiteraard soveel mense moontlik daar hê. Nie net wil ons hulde aan kankeroorlewendes bring nie, maar ook aan diegene wat hul stryd verloor het.”

Claassens moedig mense aan om poniesterte van 25 cm of langer te skenk wat later deur Kansa gebruik word om pruike vir kankerlyers te maak.

“Ons vra gewoonlik vir mense wat aan die Shavathon kom deelneem waarom hulle daar is. Sommige se antwoord is bloot omdat hulle wou deelneem, ander het persoonlike ervaring met kanker.”

Vir meer inligting oor die Shavathon besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.