Kliniek red drie jagluiperdwelpies met keisersnee

Die span by die UP se natuurlewe-kliniek help ‘n welpie om biesmelk te drink. (Foto: Verskaf.)

Personeel van die Universiteit van Pretoria se natuurlewe-kliniek en veeartseny akademiese hospitaal het aan die einde van September behoorlik rede gehad om te geglimlag toe hulle gehelp het om drie jagluiperdwelpies met ʼn noodkeisersnee te red.

Juno, ʼn vierjarige jagluiperd van Cheetah Experience in Bloemfontein, het op Sondag 27 September geboorte aan haar eerste welpie gegee, maar dié kleintjie is doodgebore.

Volgens Liesel Swart, woordvoerder van die universiteit waar die keisersnee gedoen is, het personeel van Cheetah Experience egter later weer beweging in Juno se buik opgemerk en daar is vasgestel dat sy nog ʼn paar welpies het.

Juno is Dinsdag na die kliniek gebring waar dr. Jacques O’Dell, ʼn spesialisveearts van die natuurlewe-eenheid van die fakulteit, haar saam met die reproduksiespesialis, dr. Geoff Brown, ondersoek het. Hulle het vasgestel dat daar geen tekens van obstruksie was nie en haar kondisie was goed. Hulle het met sonar bevestig sy het nog drie springlewendige welpies in haar buik, wat gesond en op volle termyn is.

ʼn Jagluiperdwyfie dra tussen 90 en 98 dae aan haar kleintjies.

Die vraag bly egter staan waarom Juno nie voortgegaan het met die geboorteproses nie?

“Huiskatte is bekend dat hulle die geboorteproses kan onderbreek en dit enkele dae later weer kan hervat. Hierdie verskynsel is nog nie goed by wilde katte bestudeer nie omdat dat moeilik is om die skugter karnivore te monitor.

“Daar is egter in die kliniek besluit om nie die lewens van die moeder en die welpies in gevaar te stel nie en eerder met ʼn keisersnee voort te gaan,” sê Swart.

Juno is na die teater gehaas, waar dr. Roxanne Buck, ʼn spesialis- veeartsenykundige narkotiseur, en haar narkosespan hulself uitstekend van hulle taak gekwyt het om Juno en haar kroos tydens die operasie lewend te hou. Dr. Abdur Kadwa was op sy beurt instrumenteel in die resussitasie van die pasgeborenes.

ʼn Luiperdwelpie se gemiddelde gewig is tussen 250 g en 500 g afhangende van die aantal kleintjies.

Terwyl Juno van die verdowingsmiddel herstel het, het die span verseker dat die welpies die geleentheid kry om aan hulle jagluiperdma te drink. Hierdie eerste paar slukkies melk, bekend as biesmelk, is van groot belang omdat dit teenliggaampies bevat en die immuunstelsel van die kleintjies versterk.

Nadat Juno genoegsaam van die prosedure herstel het, is sy al dieselfde aand huis toe om haar drie kleintjies groot te maak sodat hulle eendag kan bydra tot die genepoel van die jagluiperdbevolking. Cheetah Experience het bevestig dit gaan tans goed met die welpies en die ma.

Die bewaringstatus van die jagluiperd word tans as kwesbaar beskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.