Klipkinders swaai beeldhouer se lewe om

Andries se klipkinders is deesdae sy brood en botter. (Foto: Verskaf)

Deur Sarie Marais-Nell

Voordat Andries Dirks ʼn bekende beeldhouer geword het, was sy lewe geensins rooskleurig nie. Dis eers vandat klei sy terapie geword en kleibeelde sy brood en botter verseker het, dat hy kon leer om sy lewensletsels in positiewe lewensbakens te omskep.

Stap ʼn mens te voet deur Riebeek-Kasteel, die Swartlandse dorpie aan die voet van die Riebeekberg, word jy vinnig deur pikante winkeltjies en gesellige restaurante bekoor. In die gewilde Kortstraat (oftewel “Short Street”) tref jy die beeldhouer Andries Dirks tussen sy beelde van Khoi-figure en lewensgrootte hase aan. Prettig, parmantig of lui, elke haas – wegstaan-ore en al – is handgemaak en uniek.

Dié nederige kunstenaar is 48 jaar gelede op ʼn Swartlandse plaas gebore. Hy vertel:

“Met ʼn alkoholis-ma en ʼn pa wat net soms geld stuur, moes my oupa en ouma my grootmaak.

“Ek was die enigste kind op die plaas buite Riebeek-Wes, so ek het dan maar eensaam geraak. Gelukkig was daar klei, en kon ek lekker groot beelde bou. Die beelde het my maats geraak, met báie trane as die reën die ‘maats’ wegspoel.”

As sesjarige het hy soms kleiner beeldjies in sy ouma se broodoond gepak. “Maar wanneer my beelde oopgebars en oor Ouma se broodpanne gespat het, het haar vadoekpunte my bobene behóórlik geraps.”

Toe hulle na ʼn plaas trek waar Andries kon skoolgaan, was hy baie opgewonde om uiteindelik maats te kry. “Maar toe word ek die onderwerp van bespotting. Oor ek nie skoene het nie, oor my broeke te groot is, oor dit tweedehands is … Ek is geboelie en verwerp.”

Baie vinnig ontdek Andries die voordele van stokkiesdraai. As tydverdryf vind hy weer ʼn plekkie in die veld waar daar klei was, met ʼn ontwykende haas wat daar naby woon. “Ek het weke lank die haas probeer vang. Soms, as hy slaap, sou ek hom stádig bekruip. Maar haas-se-kind het hom nooit laat vang nie.”

Intussen beleef Andries daagliks die groot alleen. “Ek het van kleins af weggesmyt gevoel. Soos die uitskoplammetjie wat nie by sy ma melk kry nie, wat dan by ʼn ander ooi melk probeer steel. Daai melkstelery gebeur van die agterbene se kant af, sodat die ooi skrik. Dan’s die lammertjie se kop pal vol stront – dis hoe uitgooilammers op ʼn plaas uitgeken word. Ek het altyd daai strontgevoel oor my kop gehad.”

As tiener het Andries se woedebuie hom gereeld in die moeilikheid gekry. Sedert 17-jarige ouderdom was hy meer dikwels in die tronk as daarbuite; vir aanrandings. Later ʼn moord.

“In die tronk het ek vir die eerste keer in my lewe gevoel ek hoort iewers; dat ek aanvaar word vir wie ek is.”

In gevangeniswerkswinkels het hy baie van pottebakkery geleer – hoe dit gebak en geglasuur word.

Toe Andries in 2005 die laaste keer by die tronkdeur uitstap, was hy bekeerd. Vir die eerste keer skaam oor alles wat hy aangevang het. Begeesterd om sy nuutontdekte talent te ontwikkel.

“Ek het baie gesukkel om ordentlike blyplek te kry. In ʼn tyd toe niemand meer in my geglo het nie, het enkele mense my met bly- en werksplek in hul agterplaas gehelp. Daardie ondersteuning het báie gehelp om met die verlede te breek.”

Na reekse aandklasse kan Andries nou matriek agter sy naam skryf. Hy het ʼn spesiale vrou ontmoet en met haar getrou. Hulle kon ook hul eie huis koop. “Dis klein, maar dis óns plekkie.”

Om ʼn groeiende gesin te voed, kos geld. In tye wanneer sy beelde nie verkoop het nie, moes Andries gereeld uitspring en tuin- of herstelwerk aanpak ter wille van oorlewing.

Intussen het hy deel van Riebeek-Vallei se Solo Studio geword; ʼn jaarlikse kunstefees waar beeldende kunstenaars se ateljees vir besoeke oop is. “Tussen hierdie kreatiewe mense het ek uiteindelik tuis begin voel.”

“Kort voor die eerste ‘lockdown’ het Mike en Lorna Spittel van Pretoria my gehelp om my eie ateljee te bekom. Hier in So Clay word vier beeldhouers se werk verkoop, terwyl ek langsaan my eie werkswinkel het. Sonder hierdie weldoeners wat die huurgeld betaal, sou ek dit beslis nie kon doen nie.

“Vandag heet my beeldhouwerk ‘Klipkinders’ – daardie spotwoord waarmee ek moes grootword.”

Klipkinders is deesdae sy brood en botter. En ook sy passie. “Ek vergeet álles wanneer ek met klei werk. Sommer ook van ‘worries’, rook of eet.

Soms verg ʼn enkele beeld 50 ure se werkstyd voordat hy daarmee tevrede is. Vir sy beelde vermeng hy plaaslike en kommersiële klei; ʼn proses wat hy oor tyd heen verfyn het.

Omdat hy as kind nooit gevoel het hy “behoort” nie, sorg hy nou dat elkeen van sy kinders geborge voel. “Elkeen moet weet hy/sy word liefgehê. In my amper 14 jaar in die tronk het ek darem te veel kere gesien hoe weggooikinders se lewens tronk toe loop.

“Ek glo ‘crime’ begin in die huis. As ouers dom dinge doen en drink, mekaar voor hul kinders aanrand – moet ouers nie beter voorbeelde stel nie?”

Tot dusver kon Andries Dirks feitlik alles in sy lewe tot iets beters omswaai. Maar die lelike tattoeërmerke op sy lyf pla steeds.

“Soos ons kinders groter word, vra hulle my uit oor die lelike woorde en beelde op my liggaam. Die tatoes sal altyd van my foute praat.

“Dan vra ek hulle om eerder te kyk na hoe ek my lewenspyn omgeswaai het – al klou my foute aan my vel vas, is hierdie haas- en Khoibeelde die getuienis van hoe ek my foute omgedraai het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

melW ·

Wat ń fantastiese lewensverhaal! Jesus was ook ń pottebakker, klei gevorm met Sy hande. Geseënd is jy Andries.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.