Klipkouer-onderhoud: Johan Eksteen – Agricon

johan-eksteen

Johan Eksteen.

Jacques Basson, eienaar van Klipkouers, gesels elke maand met ʼn ander Klipkouer-aanhouer-en-uithouer vir Maroela Media. Vandag se onderhoud is met entrepreneur van die jaar 2016, Johan Eksteen van Agricon.

Vertel ons ’n bietjie meer van jouself.

Ek het in die Oos-Kaap grootgeword op ’n plaas by ’n dorpie met die naam Adelaide. My pa was ’n doktor in Politieke Wetenskap by die Universiteit van Fort Hare. My ma was huisvrou, boervrou en ’n baie goeie ma. Sy het elke dag gesorg dat ons by die skool kom wat so 27 kilometer ver was. Ons moes op ’n grondpad ry. En toe ons in graad agt (destyds standerd 6) gekom het, het ons elkeen ons eie voertuig gekry en dan moes ons self sorg dat ons by die skool en by die huis kom.

So, ons is van kleins af baie onafhanklik grootgemaak. Ek het in Bloemfontein studeer. Ek het eers ’n MSc in Landbou gedoen, daarna tien jaar in die landboubedryf gewerk en toe besluit dat dit nie honderd persent ’n goeie toekoms vir my inhou nie. Ek het ’n MBA gedoen by die Universiteit van die Vrystaat, drie jaar koöperatief gaan werk in groothandelverkope en toe besluit dat ek beter vir myself kan sorg as iemand anders. Ek het toe voltyds in Agricon ingespring hoewel die besigheid al lankal bestaan het. Dit was daarna voltyds my passie gewees.

Gee ons ’n opsomming van die soort besigheid en die bedryf.

Ons vervaardig spesifiek toerusting en as ek praat van toerusting, dan praat ek van ’n totale fabriek wat ons vir jou kan kom opsit. Dus, enigiets wat jou voere kan meng of maal, of vervoerbande van die een plek na ’n ander, ander meulens en pilmasjiene spesifiek wat die hart van die fabriek gaan wees asook verkoelingstoerusting. Letterlik alles wat jy in jou geestesoog sien wat jy in ’n veevoerfabriek of ’n kunsmisfabriek gaan nodig hê om ’n los produk te omskep in ’n pilvorm wat ’n meer gekompakteerde vorm is en natuurlik baie beter eienskappe het omdat jy waarde toegevoeg het tot die produk.

Bou julle die fabriek? Het jy jou eie fabriek en dan bou julle vir ander fabrieke? Onderhou julle die ding of wat presies gebeur daar?

Tot 2006 het ek alles self vervaardig in my besigheid. Ons het letterlik, soos die Engelse sê, “flat metal sheets” – plat staalplate – gelasersny en dan van daar af die masjiene begin bou uit niks uit. In 2006, weens al die arbeidskwessies en die tipe van goed, het ek besef ek werk nou in my besigheid maar nie aan my besigheid nie. Ek het toe gegaan en alles uitgekontrakteer. In hierdie stadium het ons ’n baie mooi verhouding met ’n klomp verskaffers wat vir ons verskillende onderdele van ons masjinerie voorsien. Alles kom by ons saam, ons sit dit aan mekaar en lewer dit af by die kliënt, en ons gee vir die kliënt opleiding en ondersteuningsdienste daarvoor. So ja, ons het ’n fabriek maar baie van ons goed is aan ander fabrieke uitgekontrakteer en dan vervaardig ons fisiek die toerusting wat dan gebruik word deur kliënte om pille te vervaardig.

Baie interessant! Die pille, is dit vir enige soort vee of is daar spesifieke pille of variasies daarvan en vir watter diere?

Dit is vir enige dier, maar die hoofrede hoekom mense dierevoer omsit in pilvorm is doodeenvoudig: Jy bespaar 30% op vermorsing deur die diere en dit is wetenskaplik bewys. Soos wat ’n dier se eetgewoontes is, sal die dier natuurlik met ’n bek vol kos opkyk en dan val die helfte van die kos uit sy bek uit. Daar is ook spoegkontaminasie en windverliese en al die klas van goed. As jy dieselfde los voer vat en jy sit dit om in ’n pilvorm, gaan jy verteerbaarheid met 14,2% verhoog. Die proses noem hulle “gelatinisasie” van die stysel en dit raak vinniger opneembaar vir die dier omdat jy al daardie hitte, wrywing en prosesse daarop toegepas het. Op die ou end bespaar jy 30% op vermorsing en jy kry 14,2% meer uit daardie selfde hoeveelheid voer in terme van vleis of melk of watter energieproduksie jy ook al uit jou dier wil hê. Die konsep het ons nie net in dierevoeding toegepas nie, maar ons het dit verder ontwikkel na kunsmis, kompos en organiese materiale en, natuurlik, hernubare energie. So, in terme van dierevoer is dit die oorspronklike mark en ons moes dit uitbrei na die ander twee ook.

Dit is fassinerend. Die 14,2% wat jy sê beter verteer, beteken dit die dier word vinniger versadig weens daardie beter vertering? Met ander woorde, eet hy minder as gevolg daarvan?

Die oumense het altyd mielies in water geweek, dan het dit lekker uitgeswel en dan voer hulle dit vir die varke. Hulle het nie rêrig geweet hoekom nie, maar die varke het dan minder heel mielies uitgeskei en die varke het vetter geword. Die rede daarvoor is: Die styselselle swel op en omdat dit ’n baie dik wandsel het, is dit dan makliker vir die dier om te kou. Die masjien doen dit vir ons en as gevolg van hitte, drukking en wrywing wat jy toepas, laat bars jy al daardie styselselle en dan raak die stysel en proteïene wateroplosbaar in plaas van olie-oplosbaar. Die dier se verteringsappe hoef nie eers die styselsel af te breek en dan kan hy dit begin opneem nie (en voordat hy alles klaar kan opneem, word dit uitgeskei). Nou, onmiddellik nadat die dier dit opgetel en geëet het, neem sy liggaam dit baie vinniger op en dieselfde hoeveelheid voer gaan meer energie in die vorm van vleis- of melkproduksie lewer.

Afgesien van die besparing ten opsigte van vermorsing, die verbeterde vertering en die toename in produksie, watter ander probleme los jou besigheid op?

Ons sê altyd ons voeg waarde toe tot ’n produk, met ander woorde, ons verhoog sy verteerbaarheid, afgesien van die vermorsing wat ons beperk of selfs bykomende waarde skep. Ons het, byvoorbeeld, kliënte in Malawi wat tabakfabrieke het. Nou, uit die tabakproses kom daar omtrent so 25% tabakstof. Ek weet nie of jy nog kan onthou die snuif wat die mense desjare altyd so gesnuif het nie?

Ek onthou ek het dit ’n paar keer probeer en amper my longe uitgehoes.

Nou ja, daardie selfde stof wat jy uit die tabakfabrieke kry, was ’n groot omgewingsprobleem. Hulle het dit gestort en die goed het in die water beland en kontaminasie veroorsaak en as die wind gewaai het, het almal se oë getraan. Ons het toe ons verpillingsmasjiene so aangepas dat dit hierdie goed kan kompakteer – 10 maal kompakteer – met ander woorde, die volume is 10 maal verminder en ons moes gaan kyk wat wat kan ’n mens met die pil doen. Omdat tabak baie hoog in voedingstowwe aangevul word, met stikstoffosfaat (MPK met ander woorde), is die materiaal klaar baie hoog in MPK. Dus het ons voorgestel dat hulle die pille gebruik en in die grond sit met die aanplanting van mielies, pampoene en wat ook al, en kyk wat die reaksie is.

Die reaksie was dat die mielies, waar dit gewoonlik heuphoogte gestaan het, onmiddellik in die eerste seisoen bokant jou kop uitgegroei en twee of drie koppe gemaak het in plaas van een kop mielie. Die grondstatus het opgebou, want jy het die MPK wat stadig vrygestel is uit die pil uit. Natuurlik het die nikotien in die tabakstof ook die goggas weggehou. So, jy het ’n insekweerder en ’n kunsmisstof gehad wat jy toegedien het vanuit ’n omgewingsprobleem wat jy nie kon oplos nie. Dit is waar ons onsself sien, naamlik dat ons waarde skep uit afvalstowwe. Daar is baie sulke voorbeelde, soos rooibostee en so aan.

Jy het nou iets genoem van rooibostee, brei ’n bietjie daarop uit?

Wel, ons het gesien daar is ’n geleentheid, net soos met die tabakstof, met rooibostee aangesien teefabrieke baie stof het wat letterlik deur die teesakkies syfer en dit maak ’n gemors in jou teekoppie. Hulle sif dit uit en sit dit eenkant en verkoop dit teen ’n baie lae prys. Ons het na hulle gegaan en gesê ons kan vir hulle ’n pil maak van 2,2 mm, ’n baie klein pilletjie, ons sny dit kort af dan lyk dit soos ’n korrel wat jy kry met koffie. Ons het die pille gemaak en gestuur en die eerste oproep wat ek gekry het, was nie om te sê hoe goed my pille is nie, maar hulle vra my of ek kan melkpoeier maak. So het dit gekom dat ons die melkpoeierpille gemaak het en toe ek agter die kap van die byl kom, toe verstaan ek wat hulle wil doen. Jy kan dan ’n pilletjie tee en ’n pilletjie melkpoeier in jou koppie gooi, dit oplos en dan is die antioksidante baie hoër, want jy werk met die teestof wat nie ’n aftreksel is nie, maar ’n emulsie in jou teekoppie en dit is soveel gesonder. Dit sal seker een van die dae op die mark wees en dit is die tipe waarde wat ons toevoeg met ons produk. Dit is daardie standaardprodukreeks met al die toepassings wat ons het en dit is wat ons so uniek maak.

Dit is fantasties. Julle fokus nie net op die gerief van die rooibostee en melkpoeier – gerief en spoed – nie, dit is nou sommer gesonder ook. Gewoonlik is daar ’n prys wat jy betaal vir gesonder of vinniger wanneer dit by kos kom.

Ja, dus is my antwoord op jou vraag, watse probleem los ons besigheid op, dat ons waarde toevoeg en boonop ook waarde skep. Nog ’n voorbeeld: Met kompos moet ek letterlik drie bakkievragte op my grasperk kom uitgooi, maar as ek pille gebruik, dan is dit twee sakke pille. Die rede daarvoor is, jy het ’n 10-maal-kompaksieverhouding. So jy het 10-maal-volumereduksie, maar dit is steeds dieselfde gewig. Dit is net swaarder maar op ’n kleiner volume. Die voordeel daarvan is: Soos die reën die pille laat uitswel, vind ’n stadige vrystelling van die natuurlike organiese materiaal plaas. Dit is nie dat dit wegloog met die eerste reënval wat jy kry nie. Weereens het jy waarde geskep, maar jy voeg ook baie waarde toe.

Wat maak jou besigheid anders as jou kompetisie? Dit klink vir my jy het ’n fondament hier wat jy net in verskillende rigtings herhaal?

Ja, ek dink baie mense wonder hoe maak jy om ’n “scrap heap” te begin, maar vir my gaan dit daaroor dat jy te veel bestanddele moet vermy. Dit weet ek van my restaurantdae af! Ek het teruggekom van Uganda af en wou ’n restaurant oopmaak met ’n spyskaart so lank soos my lyf, maar toe besef ek hoe minder bestanddele jy het, hoe minder vermorsing het jy op die ou end, want die goed gaan af. So, as jy ’n basiese konsep het en jy kan daardie basiese konsep se mark uitbrei, sover moontlik, dan het jy ’n absolute wenner. En dit is wat Agricon is. Een masjien kan toegepas word – en presies dieselfde masjien – om veevoer, rooibosteestof, tabakstof of wat ook al, asook kunsmis, kompos of selfs hernubare energie te vervaardig. Dus hoef iemand nie alles te verkoop en weer oor te begin as hy van veevoer na iets anders wil gaan nie. Aan die einde van die dag gee ek vir die ou verskriklik baie waarde, en hy besef die waarde. Dit is hoekom hy belê in wat ons doen.

Wat ons ook anders maak, ons verkoop nie meer ’n produk nie. Ons verkoop ’n diens en ons diens behels dat ons vir jou alles in ’n pakket kan verduidelik. Ons gee basies vir jou ’n sakebeplanning en sê: “Weet jy wat, as jy energie en dryfkrag het en lus voel om ’n besigheid te ontwikkel, hier is die toerusting wat jy kan gebruik.” Dus is ons soos ’n mentor vir mense in daardie opsig en natuurlik kom die produk agterna. Die verkope gaan maar normaalweg aan.

Het julle kompetisie?

Nee wat. Kom ek sê vir jou so, my benadering in die lewe is: Ek kompeteer met niemand nie, want as jy kompeteer, gaan jy in ’n stadium tweede kom. Jy kan nie altyd wen nie. Die enigste manier om te kompeteer, volgens my, is om jou eie ding te doen. Jy moet letterlik ’n markleier wees. Jy moet uniek wees met iets wat ander mense heeltyd wil probeer navolg en najaag. As ek al my konsepte moet patenteer, sal ek die res van my lewe daaraan toewy, asook geld wat ek nooit bymekaar sal kry nie, om al daardie patente te registreer. Die enigste manier vir my is om kort-kort ’n nuwe patent of produk vry te stel op ’n gebied waar my mededingers jare agter is, vir hulle om te probeer na-aap.

Wat dink jy kan jy nog beter doen in die besigheid?

Die wêreld is groot en verspreidingsnetwerke is maar ’n probleem. Mense het ’n verskriklike probleem – “human capital”, soos hulle dit noem – om die regte mense in die regte posisies te kry. Ons sit in ’n wêreld waar mense nie meer ’n passie of integriteit het nie. Dus kry jy ’n ou wat wonderlik is, jy lei hom op en binne drie maande dink hy dat hy ’n groter spesialis as jy is en begin sy eie besigheid. Die ander ou wat nie daardie inisiatief het nie, is so sleg dat jy hom by jou voordeur wil uitskop. Dit is baie moeilik. Ek is nie ’n mense-mens nie. Ek is ’n “go-getter” en mense sukkel om by te bly by my. ’n Mens moet leer om ’n model op te stel waarmee jy mense kan oplei en behou in jou besigheid en dan, bygesê, die regte mense.

Maak kontak:

Ons webwerf het ’n skakel: www.agriconrsa.com
Persoonlike e-pos: [email protected]
Telefoon: +27 (0)71 877 3324

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae