Klofies samel sakke se blikkies en baadjies in

waterkloof-hh-pen-grootfm-01

Die leerders van Hoërskool Waterkloof in Erasmuskloof, Pretoria het vroegoggend verlede week die gietende reën getrotseer om gasheer te speel van vanjaar se ‘Blikkie en baadjie vir ʼn maatjie 2019’-projek. Foto: Verskaf.

Die leerders van Hoërskool Waterkloof in Erasmuskloof, Pretoria het onlangs vroegoggend die gietende reën getrotseer om gasheer te speel van vanjaar se Blikkie en baadjie vir ʼn maatjie 2019-projek.

Lindie Strydom van Groot FM bestuur dié gemeenskapsprojek ten bate van Solidariteit Helpende Hand en PEN se middestadbediening.

Leerders het Donderdag sak vir sak klere bymekaar gemaak tot daar later ʼn berg van klere en kos versamel is.

“ ʼn Blikkie en ʼn baadjie wat jy ekstra het, kan vir ʼn ander persoon so baie beteken,” het Lindie gesê.

Sy het met Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand en Janthinus Schrage van PEN gesels oor wat hul organisasies doen. Hulle het ook die waarde van skenkings, die uitdagings van armoede, roeping en die hantering van armoede bespreek.

Hannes, Janthinus en Lindie het stilgestaan by die belangrikheid daarvan om skenkings met die regte gesindheid te gee.

Hannes Noëth van Helpende Hand en Lindie Strydom (tweede van links af) van Groot FM saam met hulle spanne by die ‘Blikke en baadjie vir ‘n maatjie 2019’-projek. Foto: Verskaf.

Hul boodskap aan die leerders was duidelik: “Daar is mense wat minder as jy het. Jou deel van hierdie gawe gee ʼn geleentheid aan hulle wat minder het.”

Die reënwolke het kort ná sonsopkoms gewyk en die Klofies het toe reeds drie bakkievragte en drie sleepwaens vol blikkies en baadjies ingesamel wat oor Pretoria heen versprei kan word. ʼn Ekstra twee voertuie is later ook ingespan om nog skenkings te vervoer.

“Dit is inderdaad meters en meters, sakke en sleepwaens, bakkievragte en nog karre se liefde en omgee, hoop en genade in die vorm van warm wintersklere,” het Lindie bygevoeg.

Ander skole wat wil deelneem aan die Blikkie en Baadjie-projek kan vir Lindie Strydom ʼn e-pos na [email protected] stuur om uit te vind hoe die skool betrokke kan raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blikman ·

Mooi so, Klofies! Hou so aan – julle beïndruk deesdae!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.