Knysna-olifant op foto vasgelê

‘n Foto van die laaste Knysna-olifant is Saterdag in die Karatara-gebied in die Knysna-bos geneem. (Foto: Oubaas Fourie/Facebook)

Dit is iets waarvan baie mense nog altyd net droom: om ʼn Knysna-olifant in sy natuurlike omgewing te sien.

Oubaas Fourie, ʼn eienaar van ʼn plaas in die Karatara-gebied in die Knysna-bos, het Saterdag nie net die geleentheid gehad om vir meer as 10 minute na dié olifant te kyk nie, maar het ook nou ʼn foto as bewys van die reusedier se besoeke aan die plaas.

“Die olifant kom maak al die afgelope vyf jaar ʼn draai op die plaas, maar dit is die eerste keer dat sy so lank hier by ons is. Gelukkig het ek nou ʼn foto want ek glo daar is baie van my vriende wat dink ek vertel ʼn ou wit leuentjie as ek sê die olifant was weer hier,” het Fourie aan Maroela Media vertel.

SANParke het in 2019 foto’s van ʼn olifant gepubliseer wat vermoedelik die laaste olifantkoei in dié bos is. Daar word al vir ʼn geruime tyd navorsing gedoen om te probeer vasstel hoeveel olifante daar steeds in die Knysnabos is.

Volgens SANParke kon al die kamerastrikke oor die jare bloot net foto’s van die een koei neem, en sy was altyd alleen.

Sy is dadelik Oupoot gedoop, wat die bekende olifant in Dalene Mathee se Kringe in die bos is.

Fourie het die foto Saterdag met ʼn paar vriende gedeel en die foto het daarna vinnig op sosiale media versprei.

“Almal wil die olifant graag sien en daar is nou groot opgewondenheid daaroor. Ons wil maar nie te veel besonderhede oor ons plaas deel nie, dit is belangrik om haar veiligheid te verseker.”

Fourie vertel ʼn kontrakteur, wat soms op die plaas werk, het die olifant vroeër die maand gewaar. “Hy het nog so gekyk, toe staar die olifant hom reg in die gesig.” Sy het hom gevolg tot teen aan ʼn elektriese heining nadat hy in sy bakkie geklim het en teen die wal van ʼn dam uitgery het.

ʼn Paar dae later was werkers besig om hout te kap op die plaas, toe hulle die olifant in daglig gewaar het. Dit is toe dat Fourie gelukkig genoeg was om ʼn foto van dié olifant te kry.

“Sy was baie rustig en lyk of sy in ʼn baie goeie kondisie is; ons het lank na haar gestaan en kyk.”

Die Fouries het al in Februariemaand olifantmis en spore in een van die boonste kampe op die plaas opgemerk. Die olifant het ook ʼn houtstellasie wat daar gebou is, vernietig. Hy sê sy keer dikwels goed om waaraan mense gevat het. “Sy het op ʼn keer ʼn byekassie van my stukkend gestoot.”

SANParke het Fourie laat weet die olifant is in die omgewing, maar sy is gewoonlik vernuftig en word nie sommer raakgesien nie. Op een van die verskuilde kameras van ʼn aangrensende plaas kon hulle sien hoe sy elke keer wanneer daar ʼn voertuig aankom, in die bosse verdwyn. Sodra die voertuig klaar verby beweeg het, kom sy weer te voorskyn.

Fourie sê die boonste kamp van sy plaas is haar gunsteling‑ jaarlikse kuierplek. Dit is sowat ʼn kilometer van die plaasopstal met ʼn verskuilde dam in die gebied, sowat 150 meter van die natuurlike bos af. Daar is ook aangeplante raaigras en hawer wat welig groei, wat genoeg kos vir die olifant verskaf.

Knysna se kwynende olifantbevolking

Olifante het sowat 350 jaar gelede vrylik al langs die Suid-Afrikaanse kus rondgeswerf. Vir 200 jaar lank is hulle genadeloos vir ivoor gejag – tot net twee klein kusbevolkings teen die vroeë 1900’s oorgebly het: een by Addo en die ander in die Knysnabos van die Tuinroete Nasionale Park. Nadat hulle amptelike beskerming gekry het, het die Addo-bevolking floreer, terwyl die een by Knysna net verder gekrimp het.

Alhoewel alle betrokke partye verheug sou wees as nog ʼn olifantjie in Knysna gebore sou word, meen navorsers en olifantkenners van SANParke dit is nie ʼn eenvoudige besluit om nog olifante na die omgewing te verskuif nie.

In 1994 het die departement van bosbou wél probeer om drie weesolifante uit die Krugerwildtuin in die Knysnabos in te bring. Dit was ʼn mislukking. Een van die olifante het gevrek kort nadat hulle uit die boma vrygelaat is en die ander twee het buite die park, op private grond, rondgeswerf. Hulle is later na Shamwari verskuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
FM

Baie dankie vir hierdie heerlike, positiewe berig. Geniet daardie spesiale kuiergas wat uniek aan jul plaas is. Ek hoop dat sy nog baie jare veilig kan lewe.