Koben en sy Rex word herenig

Koben omhels vir Rex (Foto: Verskaf)

Koben Hofmeyr (16), die jong seun van Louis Trichardt in Limpopo wat sy nekwerwels in ’n rugbywedstryd in Mei beseer het, kon die afgelope naweek van sy rehabilitasiesentrum wegbreek om tuis tyd saam met die sy vriende en sy hond te kan deurbring.

Koben is steeds voltyds by ʼn rehabilitasiesentrum, waar hy goeie vordering maak.

Koben se pa, Trompie Hofmeyr, het aan Maroela Media vertel dat dit gevoel het soos “hemel op aarde” toe Koben tuis was.

“Dit was fantasties. Koben was self baie bewoë en oorstelp van vreugde. Ons was maar almal baie emosioneel; dit was fantasties om hom daar te hê,” het hy gesê.

Koben kon ook sy geliefde bokserhond, Rex, vir die eerste keer sedert sy rugbyongeluk sien. Volgens Hofmeyr was Koben bekommerd dat Rex nie gaan onthou wie hy is nie.

Rex het die hele naweek by Koben op die bed gelê (Foto: Verskaf)

“Dit was sy grootste vrees, want hy is baie lief vir Rex. Mense in die rehabilitasiesentrum het vir hom gesê dat ʼn hond sy eienaar baie keer nie herken nie omdat hy in ʼn rolstoel is en nou ʼn ander vorm aanneem,” het Hofmeyr gesê.

“Maar Rex het Koben dadelik herken. Toe hy vir Koben sien het hy sommer op hom gespring. Koben het vir Rex lank gedruk.”

Koben het vir Rex gekry toe hy nog ʼn klein hondjie was. Die hondjie was verwaarloos en die Hofmeyr-gesin het hom toe aangeneem.

“Koben en Rex het ʼn baie goeie verhouding, hulle is baie lief vir mekaar. Vandat Koben in die hospitaal opgeneem is, het Rex na hom gesoek. Hy het nie geweet wat van sy eienaar geword het nie. As ons die hond gesoek het, het hy op Koben se bed gelê en wag vir hom om terug te kom,” het Hofmeyr vertel.

“Toe ons Sondagaand ná sy tyd by die huis weer Koben se tasse begin pak kon Rex weer agterkom iets is aan die gebeur. Hy het weer op Koben se bed, sommer by hom, gaan lê, want hy kon sien sy baas is weer op pad. Koben vrek oor sy hond, so dis maar baie emosioneel.”

Koben en van sy vriende by sy verrassingspartytjie (Foto: Verskaf)

Daar is ook Vrydagaand ʼn groot verrassingspartytjie vir Koben gehou waar al sy vriende, amper sy hele skool, kinders van ander skole, én kinders teen wie hy in sport deelgeneem het, bymekaargekom het om saam met hom sy beterskap te vier.

“Verder het Koben die naweek saam met van sy nefies en niggies op die plaas rondgery, ʼn bietjie tarentale gejag en ʼn spitbraai gehou. Hy was ook baie bly want hy kon ook bietjie Playstation 2 speel, natuurlik met Rex wat styf teen hom lê. Sondag het ons sommer net lekker saam godsdiens gehou en rustig gewees,” het Hofmeyr gesê.

Hofmeyr het gesê dat Koben verder nog besig is met rehabilitasie, maar dat hy steeds aanhou om goeie vordering te maak.

“Hy kan albei sy hande beweeg en hy kan sy een been self optel. Ons het van die begin af gesê ons kan niks voorspel wat gaan gebeur nie, maar ons kan die Here se krag voel. Dit is wonderlik om te weet daar is ʼn God wat hom help. Ek dink hy gaan ʼn lewende getuie van ʼn groot wonderwerk wees,” het Hofmeyr gesê.

Lees meer oor Koben hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Theresa B ·

Ag dis awesome nuus. Julle moet maar baie liefde vir Rex gee terwyl Koben weg is. Maar dit gaan so voor die wind (alle eer aan die Here) dat Rex nie meer lank alleen gaan slaap nie. Sterkte Koben, bly positief en werk hard. Jy sal weer bo uitkom.

Johan ·

Koben, baie baie sterkte aan jou. Lees bietjie die storie van Ollie Terblanche wat sy C6 en C7 nekwerwels beseer het in wedstryd van SWD teen WP en verlam gelaat is. Lees oor sy vordering en wat hy al vandag kan doen teenoor daardie tyd. Gebede, hoop en met familie se ondersteuning kan dinge nog verander. As jy in rehab sentrum hier in Pretoria is, daai mense weet van Ollie. Baie sterkte aan die familie ook.

Gesiggie ·

Wat n pragtigge verhaal… ja n hond ken sy baas en ek kan sommer sien dat Rex baie lief is vir Koben.. kan net dink hoe die arm hond verlang na sy baas – so bly dat Koben ook n lekker naweek saam sy ouers en vriende kon spandeer, dit sou hom ook beter laat voel. Sterkte met die herstel Koben, hou moed God sal jou aanraak en jou genees sodat jy gou weer saam jou familie Rex en vriende kan wees,,, onthou Oubaas jou hond is lief vir jou en wag elke dag vir jou…. als wat mooi is.

Wilma ·

Sjoe hu loop my trane. Dankie Vader Vir U Genade en Wonders. Rex gee soveel liefde en dit op sighelp sy maat om te herstel

Jaco ·

Wat n great storie! Rex lyk nes my bokser baba, dis die liefdevolste honde ooit en sal hul nooit hul base kan vergeet nie! As ek siek en in die bed is lê myne ook altyd styf teen my om seker te maak ek is ok…Koben, baie sterkte vir jou!

Hannelie ·

Ai hoe laat MM nou trane in my oë. Dis so mooi en ek glo dat God se Hand in Koben se genesing is. So ‘n mooi foto ook waar die Rex en Koben mekaar omhels. Vandag was dit die een stukkie mooi positiewe nuus. Dankie Maroela Media. Sterkte Koben met jou herstel, ons bid, glo en vertrou.

SNEL ·

Wat n wonderlike berig. So bly om te hoor dit gaan so goed met jou en dat jy so mooi vorderdering maak. Mag die Here jou volkome genees en jy gevoel en beweging in jou hele liggaam terug kry. Wat n pragtige hond, mens kan sommer sien hy is baie lief vir jou. Kan dink dat julle mekaar baie gemis het. Baie sterkte met die herstelproses.

Nettie ·

My ma was onlangs vir omtrent 3 maande in die hospitaal. Ek het elke aand gebel en toegelaat dat “Ouma” met die honde-kinders oor die telefoon ‘praat’ – hul reaksies was iets om te aanskou!

‘n Hond wat baie liefde en aandag kry, sal NOOIT OOIT OOIT sy baas vergeet nie. Twee jaar terug het my broer sy erg-beseerde baba-Rottweiler vir my gegee omdat sy erg deur sy ander honde gebyt is; tot vandag toe nog as hy by ons huis kom, wil daardie hond die piep kry oor haar “baas”.

C6-C7 ·

Koben ek glo nie jy sal hier lees nie maar ek gaan probeer.
Op die ouderdom van 21 het ek n C6-C7 ontwrigting gehad en die sport wereld het ook aan my voete gele. Wees geduldig want jou herstelpad gaan baie lank wees, die verbetering waarna jy smag sal moontlik nie die verbetering wees wat jy kry nie maar wees net geduldig en se dankie vir elke dingetjie wat bykom.
My gestremdheid is nou al vir 30jaar deel van my persoonlikheid, dit is nou my normaal en ek soek dit geen ander manier nie, ek glo nie ek sal sonder my gestremdheid kan cope nie maar ek glo jy sal baie beter as ek herstel. Niks in jou lewe het verander nie, net die manier wat jy dinge doen en oor die weg kom is nou anders.
Ek staan vir geen man vandag terug nie en ek boer die stof uit die grond uit. Ek ploeg en plant self, maak self my trekkers reg met hande wat nie wil vat nie. Ek het my plaas gekoop, bewerk en ook klaar betaal. Ek en my vrou doen alles self en het geen werkers nie.
Jy gaan dit ook doen, ek sien dit sommer.

CK ·

Sjoe wat ‘n inspireerende storie. Sterkte aan die jongman en sy gesin. Hoop jy herstel volkome. Sterkstaan in jou geloof.

Amy ·

Ek lees die berig, en is bly en bewoë op dieselfde tyd. Daar is só ‘n spesiale vriendskap tussen die twee, dit gee my hoop vir die toekoms.

Koben, ek hoop jy herstel vinnig, en Rex; jy is ‘ n yster.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.