Koben nie kwaad vir rugby ná besering

Koben is terug en gelukkig by sy skool (Foto: Facebook)

“Koben se toestand is net ʼn wonderwerk, dis ʼn bewys van die wonderlike God wat ons dien.”

Só het Trompie Hofmeyr Woensdag aan Maroela Media gesê, sowat ʼn jaar nadat sy seun, Koben (16), in ʼn ernstige rugbybesering sy nek gebreek het en verlam gelaat is.

Aanvanklik het Koben ná die besering geen gevoel in sy bors af ondertoe gehad nie, maar gevoel en funksionaliteit in sy lyf het stelselmatig teruggekom. Vandag kan Koben reeds self uit sy rystoel opstaan en ʼn paar meter ver loop.

“In die huis loop hy soos ʼn dronk mens rond, want hy loop so van muur tot muur, anders loop hy met sy krukke. Hy kan ook al seker ʼn goeie vyf meter op sy eie stap, as iemand net bystaan ingeval hy sy balans verloor. Ons as familie druk hom maar om so min moontlik die rolstoel te gebruik, en dit help hom om al hoe beter te raak,” het Hofmeyr gesê.

Koben se fisioterapeut het ook bevestig dat elke spier in sy liggaam weer aktief is. Dit beteken dat al Koben se spiere weer werk.

“Sy blaas en maag is die laaste spiere om reg te kom, maar hy voel dit al en dit vat maar net tyd. Ons beweeg stadig maar seker vorentoe en die gebed vir volkome herstel is al baie naby,” het Hofmeyr gesê.

Koben, wat die kaptein van Hoërskool Louis Trichardt se o.16-rugbyspan was toe hy die besering opgedoen het, het gesê hy is nie kwaad vir rugby nie, maar dat hy nou ander sportsoorte beoefen.

“Koben skiet nou luggeweer by die skool, en hy het al ʼn hele paar goue medaljes daarvoor gekry. Hy het sommer in trane uitgebars toe hy weer vir die eerste keer ná die ongeluk ʼn medalje kry. Hy het nie gedink hy sal ooit weer sport kan doen nie, hy het gedink die besering was die einde daarvan. Hy het gesê daardie medalje was die een waarop hy die trotsste is,” het Hofmeyr gesê.

Koben (Foto: Facebook)

“Dit is sy volgende lewe en dit is wat hy daarvan maak. Hy het dit reggekry om van ʼn groot minus ʼn plus te maak.”

Hofmeyr het gesê dat daar tog iets goeds uit die ongeluk gekom het, en dat hulle nou verstaan hoekom God dié besering laat plaasvind het.

“Ek vra nou die dag vir Koben: ‘Seun, as jy jou gesonde liggaam voor die besering kon terugkry, en dieselfde mens kan wees wat jy toe was, sou jy dit verruil vir wie jy nou is?’ Koben sê toe nee, hy sal niks verander nie, want geestelik het hierdie besering hom verander. Dit het ons gesin baie nader aan mekaar gebring, dit was ʼn fantastiese jaar saam met die Here vir ons.

“Koben was altyd ʼn mooi kind; hy het die mooiste bene, maagspiere en lyf gehad. Nou is hy nie meer daai kind nie, maar sy geesteswêreld is tien keer mooier as wat sy uiterlike destyds was,” het Hofmeyr gesê.

Koben gaan op die herdenking van sy besering, op 19 Mei, sy getuienis by die NG Moedergemeente Louis Trichardt lewer.

Koben skiet nou luggeweer by die skool as sy sport (Fotot: Facebook)

“Mens wonder baie keer hoekom so iets met jou gebeur, maar die Here se planne is groter as óns planne. Dit is ook vanjaar Koben se aannemingsjaar by die kerk, en hy het so ʼn lang pad met die Here gestap die afgelope jaar. So, alles kom eintlik mooi bymekaar. Al weet ons nie altyd hoekom die goed gebeur nie, moet mens maar net aanvaar, vorentoe beweeg en glo,” het hy gesê.

Koben het direk ná sy rehabilitasie weer skool toe begin gaan. Daar is plek-plek vir hom opritte gebou vir sy rolstoel, maar Hofmeyr het gesê daar waar hy nie kan gaan met sy rolstoel nie, tel sy vriende hom sommer op en sit hom neer waar hy moet wees.

Koben ontferm hom ook oor Dano Swart (18), ʼn matriekleerder van Hoërskool Brandwag in Uitenhage in die Oos-Kaap, wat ʼn week gelede ʼn soortgelyke besering in ʼn rugbywedstryd opgedoen het en tot dusver nie gevoel in sy onderlyf het nie.

“Ons wil daardie gesin bystaan, want hulle is nou waar ons ʼn jaar gelede was, en dis ʼn diep donker gat. Maar mense moet weet wonderwerke gebeur nog, in enige omstandighede. Die Here is nog hier, Hy luister en Hy staan ons by,” het Hofmeyr gesê.

STEPPING into 2019 like…???? Truly a blessed new year!????Ons STAP in 2019 in! ???? Waarlik 'n geseënde nuwejaar!????

Posted by Koben Hofmeyr Fonds / Fund on Wednesday, January 2, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Mrs.B ·

Sjoe, hoe rol die trane nou na ek die video gekyk het. Seun, jou yster, jy lyk so trots op daardie paar tree wat jy gevat het. Dank die Here dat Hy jou gedra het to hier waar jy nou is. Sterkte vorentoe, jy sal volkome hierdeur kom.

Gallie ·

Aan ons dierbare Here al die eer. Dankie Here dat U hierdie seun en sy familie bygestaan en ondersteurn het.

Odette ·

Seker die mooiste wat ek vandag gesien het. Baie sterkte vorentoe Koben en dankie dat jy so ‘n pragtige getuie is vir wat die Here in jou lewe gedoen het. Ons hier op Uitenhage, Dano Swart se tuisdorp glo ten volle dat die Here hom ook hier gaan laat uitkom waar Koben vandag is. Ons aanbid ‘n ongelooflike God waarby niks onmoontlik is.

Jannie ·

Dank die Here vir jou goeie vordering. Ek dink dit sal so baie vir Dano en sy familie beteken as julle hulle kan bystaan. Om te sien daar is hoop. Daar is ‘n pad uit daai donker gat. Ons moet net bly glo en bid vir hulle.

Nettie Gilfillan ·

Koben, ek bewonder jou vir die mens wat jy is. Báie trots op wat jy al in hierdie jaar bereik het. Jy is werklik ‘n inspirasie!
Trotse Triegie-oudonnie.

Gesiggie ·

My hart jubbel… Stunning Ouers wat hom so mooi bystaan. Julle het sopas my dag gemaak. Alle Eer aan ons Hemelse Pappa….

Rugby ma ·

Baie dankie vir die opvolg artikel. Ons is saam jul dankbaar vir die goeie vordering, sterkte vorentoe.

Christelle ·

Van een oud-Triegie aan ‘n ander – Welgedaan Koben! Ek wens jou alle voorspoed en spoedige herstel!

anon ·

Ek wil net vir jou moed gee, my man het in n ongeluk sy nek gebreek, hy is vandag BAIE aktief sny gras werk normal in sy beroep wat baie aktief is, hy sit min stil en bly net elke dag die HERE prys vir die voorreg om weer te kan loop na amper n jaar wat hy van sy nek af verlam was, hy het wel so bietjie stremming aan sy linker kant maar hy laat nie toe dat dit hom kort wiek nie, hou aan oefen gym en motifeer jouself om aan te gaan, hy het begin loop en moeg geword en sommer daar waar hy is neer geval, te moeg om self op te kom, maar wou nie toelaat dat iemand help nie, self weer na n ruk op gestaan. Jy kan en moet jou self net gemotifeerd hou. GOD IS GOOD

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.