Koben ontmoet Springbokke op Loftus

Koben op Loftus Versfeld (Foto: Verskaf)

Koben Hofmeyr (17), die seun wat verlede jaar tydens ʼn rugbywedstryd ʼn ernstige nekbesering opgedoen het wat hom verlam gelaat het, het Vrydag die geleentheid gekry om van sy grootste ikone te ontmoet.

“Koben was in die hemel; hy het gesê dit is sy beste dag ooit,” het Trompie Hofmeyr, Koben se pa aan Maroela Media gesê.

Die geleentheid vir Koben om die Springbokke te ontmoet is moontlik gemaak deur Chris Burger en Petro Jackson van die Player’s Fund, wat rugbyspelers wat ernstige beserings opgedoen het, ondersteun.

Hofmeyr het gesê die groot spelers in die rugbywêreld se betrokkenheid beteken vir Koben ongelooflik baie.

“Jesse Kriel is Koben se held, en hy het destyds by Koben in die hospitaal kom kuier. Jesse is senter en Koben het ook senter gespeel, so ek dink hulle het ʼn konneksie daaroor. Hulle gesels gereeld op WhatsApp ook. Mense soos Victor Matfield en Bakkies Botha is nie altyd in die kollig nie, maar hulle is daar vir Koben, en dit beteken vir hom baie,” het Hofmeyr gesê.

Tydens die ontmoeting met die Springbokke het Koben met die span gesels oor hul voorbereiding vir Saterdag se kragmeting teen die All Blacks op Loftus.

Koben en Jesse Kriel (Foto: Verskaf)

“Hy het met al die spelers gesels: Pieter-Steph du Toit, Schalk Brits, Faf de Klerk, Jesse Kriel, almal van hulle. Hulle het hom maar net betrokke gemaak by die beplanning vir die wedstryd. Jesse het hom ook voor die wedstryd laat weet dat dit lekker was om ‘jou yster’ te sien,” het Hofmeyr gesê.

Koben se suster, Aninke, kon vir Koben in sy rolstoel voor Saterdag se wedstryd op die rugbyveld stoot. “Dit was ʼn hengse ervaring vir hom. Hierdie tipe goed hou so ʼn kind positief, hy voel weer deel van die spel en of hy iets werd is. Dit is belangrik vir hulle wat so gekrenk is,” het hy gesê.

Hofmeyr het ook gesê dat Koben steeds vordering maak “te danke aan die Here se genade”.

“Sy boudspiere is sterker, en dit is belangrik omdat hy hulle nodig het om te loop. Ons het net nou die dag vir mense gevra om te bid vir sy blaas en sy maag en gister het ons weer ʼn wonderwerk beleef. Koben kon self sy maag voel en self badkamer toe gaan,” sê hy.

“Dit is ʼn persoonlike ding om oor te praat, maar ons wil hê mense moet weet van elke klein dingetjie wat verbeter, sodat hulle kan weet daar ís ʼn God, en wonderwerke gebeur steeds. Ons het van die begin af vir mense gevra om saam met ons te bid oor elke liewe vinger, elke liewe toon, en ons het nog elke keer wonderwerke sien gebeur, ” het Hofmeyr gesê.

Lees vorige berigte oor Koben hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SjN ·

Wonderlike gebaar maar ek stem nie saam dat hul ikone is nie, hul is maar net gewone mense met n uitsonderlike talent.

CK ·

Dis wonderlik om te sien dat ons sporthelde terug gee. Hulle het ‘n groot impak op ons kinders vandag, hulle bly steeds mens, maar ons kinders bewonder hulle. Wonderlik om dit te sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.