Koeksisters bied uitkoms, danksy krisisfonds

Susan Ras sit en brei. (Foto: Verskaf.)

Jan en Susan Ras van Uitenhage in die Oos-Kaap het met die hande in die hare gesit toe Jan sy werk as nutsman en opsigter van ʼn plaas verloor het net voordat die landwye afsonderingstydperk in werking getree het. Hy kon ook nie dadelik ander werk soek nie as gevolg van die inperking.

Die gesin het Helpende Hand genader vir ʼn hulp en die Uitenhage-tak kon vir hulle ʼn kospak gee wat hulle twee weke sou hou. Meer kon hulle nie doen nie, al het die gesin ook geld vir elektrisiteit gekort.

Twee vrywilligers by Helpende Hand in Uitenhage kry toe ʼn idee om die Rasse weer op die been te help. Melinda Labuscagne en Lee-Ann Upton bestuur al die afgelope twee jaar ʼn opheffingsprojek, genaamd Shekinah. Labuscagne verduidelik dat die projek daarop gemik is om gesinne uit die gemeenskap op te hef deur inspirerende praatjies vir hulle aan te bied en vir hulle basiese vaardighede aan te leer, soos pannekoek bak en houtwerk doen, sodat hulle vir hulself kan sorg en dalk ʼn inkomste daaruit kan verdien.

Met hul ervaring van dié projek vra hulle toe vir Susan wat haar vaardighede en talente is. Sy brei reeds vir ʼn ekstra inkomste, sê sy, en sy kan ook koeksisters bak.

“Met geld wat die Solidariteit‑krisisfonds aan ons beskikbaar gemaak het, gaan ek toe saam met Susan winkel toe om bestanddele vir koeksisters te koop – eiers, suiker, bakpoeier, gemmer, kaneel en margarien. Olie en koekmeel het sy reeds as deel van haar kospak ontvang,” vertel Labuscagne.

Sy het ook vir Susan met ʼn begroting gehelp sodat sy vir die volgende aankope kon beplan. Nou bak Susan tussen 18 en 25 dosyn koeksisters per week, wat ʼn halwe dag se harde werk beteken. Volgens Luvascagne smaak die koeksisters heerlik – soos die regte, outydse wenresep!

Susan kan koeksisters verkoop wat hulle help om elektrisiteit te koop vir hulle huis. (Foto: Verskaf.)

Die vrywilligers help om die koeksisters te bemark en sover gaan dit baie goed met Susan se onderneming. Die Rasse kan nou self elektrisiteit vir die huishouding koop, hul begrafnispolisse betaal, bestanddele vir koeksisters en ander noodsaaklikhede aankoop.

Navrae van behoeftiges by die Uitenhage-tak het vervierdubbel vandat die Covid-19-pandemie posgevat het; hulle word oorval. “Dis ʼn swaar tyd vir almal,” sê Labuscagne. “Wat my die meeste tref, is om te sien hoe oop almal se harte vir ander is. Mense dra graag by om die nood te verlig, op watter klein manier hulle ook al kan.”

Die Shekinah-projek help nog mense wat in ʼn groef beland het om hul horisonne te verbreed en hoop vir die toekoms te skep. Wanneer hulle ʼn skenking kry, oorweeg hulle altyd of dit nie deel van die opheffingsprojek kan uitmaak nie. Toe hulle onlangs ʼn skenking van materiaal en garing gekry het, kon hulle byvoorbeeld mense bemagtig om maskers te maak.

“Soms voel dit mens bereik nie baie nie, want jy sien nie altyd dadelik resultate nie, maar wanneer jy dan sien hoe mense ontwikkel, kan jy mos nie anders as om trots deel te wees van ʼn organisasie soos Helpende Hand nie,” sê Labuscagne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.