‘Kokkedoor’-man bak vir ʼn vale melkterte vir sy seun

Le Roux saam met CJ (Foto: Facebook)

Hy was oortuig sy deelname aan die kykNET-werklikheidsreeks Kokkedoor was die meeste druk wat hy nóg in sy loopbaan ervaar het, maar die koskenner en televisiepersoonlikheid Leroux van Vuuren sê sy jongste projek – waarvoor hy bykans 60 melkterte per dag bak – span die kroon.

Die kranige bakker se jongste projek is om sy hoërskoolseun, CJ (15), saam met ʼn groep van altesaam 30 leerders na Nieu-Seeland te stuur vir ʼn oorsese rugbytoer.

Van Vuuren vertel Vrydag aan Maroela Media hy het nie ʼn oomblik gehuiwer om dié groot projek vir sy seun aan te pak om sodoende geld vir die oorsese toer in te samel nie.

“ʼn Ouer sal mos maar enige ding doen vir sy of haar kinders,” vertel hy. “Ons sal dit sommer van die huislening of van ʼn kredietkaart af gaps. Maar ek het gedink dis ʼn oulike geleentheid om vir hom te wys dat mense regtig hard kan werk vir iets wat hul graag wil hê.”

Hy het aanvanklik gehoop om ʼn paar duisend rand in te samel, maar dié projek het intussen in ʼn dawerende sukses ontluik. “Dit gaan so goed met die bakkery dat ek die afgelope paar weke my régte werk elke dag opsy moes skuif. Ek staan soggens ongeveer 04:00 of 05:00 op en dan begin ek bak. Dis alles groot pret en ek bak tussen 40 en 60 melkterte per dag. Maar so teen die einde van die dag begin ʼn mens skuins kyk; dan lyk alles soos melktert,” terg hy.

Die oorsese toer gaan sowat R60 000 kos. Van Vuuren sê hy benodig in dié stadium nog R19 000 om die res van die toer te finansier.

Leroux se melktert (Foto: Facebook)

“CJ is in sy skik dat hy wel saam met die res van die span Nieu-Seeland toe sal kan gaan,” sê hy. “Dis ʼn ongelooflike geleentheid, amper 3 000 leerders het aan die proewe deelgeneem en dis maar ʼn klein groep van 30 wat gekies is. Maar hy is maar soos die meeste seuns; melktert bak is nie die coolste ding ever nie.”

Lede van die publiek is welkom om van dié Kokkedoor-kok se melkterte te koop. Een melktert in ʼn foeliepan kos R60 en ʼn melktert in ʼn blikbord kos R75. Aflewerings geskied Maandae tot Vrydae by die Patriot Teater-restaurant in Pretoria tussen 16:00 en 18:00.

Van Vuuren bied ook eerskomende naweek ʼn langtafelete in Centurion en later vanjaar in Stellenbosch aan. Kaartjies is nog beskikbaar en kan bespreek word deur ʼn e-pos te stuur na [email protected] of 082 899 6377 te skakel.

Leroux se melkterte (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Voorspoed ·

Sterkte… jou pa gaan dit maak, pak solank jou tas vir die toer, geniet dit.
Mtert-en pannekoekbak is kanniedoodplan het al ‘n kerksaal, skoolswembad of enig iets befonds.

Gesiggie ·

Jou Seun kan Trots wees op n Pa soos jy- Well Done Meneer, jy sal enige iets doen om jou Seun se wens te bewaar- en jy bedel nie?? jy verdien die geld deur al jou harde werk.. Good Morning Angels… HELP sodat die Seun die res van die geld kan kry en op Toer kan gaan…maar ek weet binnekort het jul al die geld, want almal sal hul hart en beursies nou vir jou oopmaak na die berig… Geniet die Toer CJ – En wees elke dag Dankbaar vir so n Pa

Marie N ·

Wat n wonderlike gebaar. Harde werk, maar jy gaan in jou doel slaag.
Ken n wonderlike persoon wat ook met gebak, veral koeksisters, die huisgesin aan die lewe gehou het. Ek bewonder soveel moed en deursettingsvermoe. Jammer tog dat daar blykbaar so min mense met die eienskappe is.

Netso ·

Nog nooit in my lewe so ñ melktert gesien nie! Waars die Ma?

Marliaan ·

Ek is self gekies vir n New Zealand toer einde Sept / begin Okt !! Ons uitspele was in George , dalk is ons by selfde plek gekies.

Ek is gekies vir netbal en my ouers gee ook nie net nie. My ma doen naaldwerk as n lewe en ek het al al wat n serp is gemaak en ons maak daagliks fudge en brownies en het al loodjies verkoop en you name it ! Party kinders kry met en ek voel dit is bete rom self te help werk , dan mors jy nie daar op die toer nie dan wardeer jy alles !!

Hans ·

Glo my geen span nie, ons almal ken Le Roux, en op die stadium het hy sy eie lewe op hou gesit om sy seun te help, die geld word ook nie deur Le Roux self ontvang nie dis in ‘n rekening wat deur ‘n derdeparty bedryf word. Pleks daarvan om negatiewe kommentaar te lewer, sien die wonder van hoe ver ‘n ouer sal gaan om sy kind te help.

Johan ·

Lekker Le Roux. Bak maar voort dit is baie lekker melkterte. Groetnis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.