Kom brei vir borskanker

Die algehele koste van die pakket wat benodig word om een prostese te brei, is R60. (Foto: Verskaf)

Helpende Hand en die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) snoer kragte saam om vir vroue wat hul borste weens borskanker verloor het, borsprosteses te brei.

“Die doel van Helpende Hand se jaarlikse Breinaald-projek is om mense se liefde en vermoë om te brei en te hekel, aan te wend om ʼn verskil in die gemeenskap te maak.

“In 2020 het ons vroetelmoue vir mense met demensie of Alzheimer se siekte gemaak. In samewerking met Kansa en die FroueVonds pak ons vanjaar die Brei-vir-Kansa-projek onder die vaandel van #Boesemvriendinne aan,” sê Benette Welman, projekorganiseerder by Solidariteit Helpende Hand en die FroueVonds. Die FroueVonds (met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie) is in 2019 binne Helpende Hand gestig om vroue te bemagtig.

Welman sê mense kan van nou af tot Oktober saam met flukse Helpende Hand-vrywilligers en seniors landwyd brei dat dit bars.

Die prosteses word gebrei om ʼn verskil te maak in die lewe van vroue met borskanker wat nie silikoonprosteses of borsrekonstruksie kan bekostig nie.

“Hierdie projek lê my na aan die hart. Dit is moeilik om iemand op die vermoeiende, lang pad van borskanker te sien stap. Ondanks al die emosionele en geestelike op- en afdraandes wat met die siekte gepaard gaan, is dit vir ʼn vrou traumaties om haar hare én haar borste te verloor. Ons wil die pad makliker maak en die lyding verlig met ʼn straaltjie van hoop in die vorm van ʼn gebreide borsprostese. So ploeg ons terug om aan vroue met borskanker ʼn stukkie van hul vrouwees, en natuurlik ook hoop, terug te gee,” sê Welman.

Gerda Strauss, hoof van dienste by Kansa, sê hulle is trots om deur hierdie “wonderlike inisiatief” met Helpende Hand ʼn vennootskap te vorm om pasiënte met borskanker sodoende te ondersteun.

“Elke prostese wat ons aan ʼn borskankerpasiënt skenk, word opreg waardeer en herstel hierdie vroue se waardigheid,” sê Strauss.

Die algehele koste van die pakket wat benodig word om een prostese te brei, is R60. Dit bevat sintetiese wol, vullingsmateriaal asook die patroon om die prostese te brei of te hekel. Hierdie pakkies word dan versprei na enige vrywilliger of lid van die publiek wat saam wil brei.

Lesers kan betrokke raak deur finansieel by te dra tot die projek en Helpende Hand in staat te stel om die pakkette aan te koop en te versprei. ʼn Eenmalige skenking kan by Helpendehand.co.za/donasie met BREIKANSA as verwysing gemaak word.

Vir meer inligting oor die projek of om saam te brei of te hekel, stuur ʼn e-pos na [email protected]

Helpende Hand gaan in Oktober, wat ook Borskankermaand is, die prosteses by Kansa-kantore landwyd oorhandig om dit aan vroue te versprei wat dit benodig. Die prosteses maak ʼn verskil in die lewe van vroue met borskanker wat nie silikoonprosteses of borsrekonstruksie kan bekostig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johanna ·

Wonderlike initiative. Waar kan ons die standaard brei patroon kry asb.
Ek het verlede jaar 8 moutjies vir Alzheimer mense gebrei. Stuur vir ons die brei patroon van die prostese aan. asseblief. Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.