Kom doen Kersinkopies by dié gemeenskapsmark

Van die produkte by die weeklikse Familiemark wat Saterdae by die Voortrekkermonument plaasvind. (Foto: Forum Nuus)

Is jy nog op soek na die ideale Kersgeskenk vir ʼn geliefde, onderwyser of kollega? Of wil jy net heerlik ontspan terwyl jy Kersmusiek en lekker kos geniet?

Maak dan ʼn aantekening op jou kalender want die volgende Centurion-gemeenskapsmark vind Vrydag by die NG-kerk Doornkloof op Die Hoewe, Centurion, plaas.

Die gemeenskapsmarkte in Centurion is nie net ʼn wonderlike geleentheid vir gesinne en vriende om weer in die buitelug bymekaar te kom nie, maar bied ook aan ʼn klomp mense die geleentheid om ʼn inkomste te verdien.

Dit was ook juis die doel van die eerste mark; om mens wat in die uitdagende pandemie hulle inkomste verloor het ʼn kans te gee om die pot aan die kook te hou.

“AfriForum is een van die borge van die gemeenskapsmark en is ʼn voorstander van sterk, selfstandige gemeenskappe. Inperkings vir die Covid-19-pandemie het nie net ʼn uitwerking op mense se maatskaplike welstand gehad nie, maar ook nog ʼn knou aan die plaaslike ekonomie gegee met die werkloosheidsyfer wat reeds voorheen so hoog was,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Bräsler sê markte soos hierdie vorm deel van dié burgerregteorganisasie se selfbestuurstrategie vir gemeenskappe. Markte gee entrepreneurs ʼn kans om hulle produkte en dienste aan hulle eie gemeenskap te bemark, wat ook sommer help om ʼn hele gemeenskap minder van die staat afhanklik te maak.

As mense binne gemeenskappe self hul eie inkomste kan skep, kan hulle ook selfstandig ʼn toekoms bou, en dit bied hoop, meen sy.

Driné de Bruyn, van Time2Thrive en organiseerder van die mark, het die nood in haar gemeenskap raakgesien en die eerste mark in Maart by haar huis aangebied. Die eerste mark het 60 stalletjies gehad.

Hierdie mark was so ʼn groot sukses dat dit vinnig uitgebrei het na die Doxa Deo-gemeente se terrein in Raslouw en daarna het  dit deel geword het van ʼn weeklikse familiemark wat by die Voortrekkermonument op Saterdae aangebied word. Duisende mense het al die mark besoek.

“Die vorige markte was in die weste van Centurion en verder noord by die Voortrekkermonument gehou. Dit is gepas dat ons hierdie keer die mark na die ooste van Centurion skuif. As ʼn mens lyne sou trek tussen die punte waar die mark al aangebied is, vorm dit ʼn kruis met die monument, wat as baken van hoop dien,” sê De Bruyn.

Besoekers wat al een van die vorige markte bygewoon het, sal goed weet van al die lekkernye, handgemaakte items en eetgoed wat hier te koop aangebied word.

Met die feestyd om die draai sal Kersliedere by 26 November se mark in Doringkloof gesing word. Hekke open reeds om 15:00 en die mark sal om 20:00 klaarmaak. Toegang is gratis. Forum Sekuriteit sal saam met AfriForum se buurtwagte seker maak besoekers en hul besittings is veilig.

  • Hierdie artikel is met die vergunning van Forum Nuus geplaas.

(Grafika: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.