Kom geniet natuurgeluide in jou ore

Foto ter illustrasie. (Foto:
Kazuend/Unsplash.)

Die Wêreldwye Natuurfonds (WWF) het vroeër vandeesmaand die projek “Bring Nature Inside” van stapel gestuur, wat Suid-Afrikaners die kans gee om na natuurgeluide van verskillende streke in die land in die gemak van hul eie huis te luister.

Die WWF Suid-Afrika se speellys bevat die unieke klanke van Afrika se natuurlike erfenis en sluit streke soos die Soutpansberg, die Hoëveld, strande en nasionale parke in.

“Ons wil almal die kans gee om die natuur te geniet, terwyl ons steeds dalk nie altyd in sekere streke kan uitkom met die voorgesette Covid-19-inperkingsmaatreëls nie,” het Justin Smith, hoof van sakeontwikkeling by die WWF SA, gesê.

“Die WWF se lys van snitte vang die klankbeelde van ons pragtige natuurlewe vas en terselfdertyd bevat dit ook inligting van die projekte waarby die WWF aktief betrokke is.”

Smith het gesê hulle wou mense die geleentheid gee om die rykdom van die natuur te ervaar.

“Baie mense voel oorweldig en dit was vir ons noodsaaklik om te help om mense se geestelike en emosionele welstand te ondersteun. Die natuur bied nog altyd die perfekte ontvlugting van stres en druk. Hierdie natuurlike ontvlugting is presies wat mense nou in hierdie tyd nodig het,” meen hy.

Die klankopnames het die betowerende geluide van die verskuiwing van renosters vasgelê. Luisteraars kan ook luister na die kalmerende agtergrondklanke van ʼn vryvloeiende rivier of die ritmiese klanke van die Atlantiese Oseaan geniet.

“Elke klankbaan bevat outentieke, meesleurende klanke wat die skoonheid en belangrikheid van ons natuurlike hulpbronne beklemtoon. Terselfdertyd is dit sommer ook nog ʼn vertoonvenster van die werk wat die WWF doen om Suid-Afrika se natuurlike erfenis te bewaar.”

Smith het gesê die 10 ure van klankbeelde kan in enige omgewing geniet word – by die werk, terwyl jy oefen, kook, tuinmaak of selfs net ʼn blaaskans op die rusbank neem.

(Foto: WWF Suid-Afrika.)

Besoek www.wwf.org.za om die WWF SA Soundscape-speellys af te laai of kliek op die onderstaande skakels:

  1. Soutpansberg
  2. Hoëveld
  3. Visvang
  4. Renosters
  5. Strande
  6. Bye
  7. Suikervoëltjie
  8. Nasionale Parke
  9. Windplase
  10. Weivelde

Die speellys is ook op ʼn verskeidenheid van musiekstromingsdienste beskikbaar. ʼn Persentasie van die tantieme wat verdien word uit die stroming van die speellyste, sal gebruik word om die WWF SA te ondersteun met die bewaringswerk wat die organisasie doen. Dit word gedoen teen geen koste vir die gebruikers van die stromingsplatforms nie.

“Ons is opgewonde om hierdie klankbeelde met ons gehoor te deel. Afstand en distansiëring beteken nie ontkoppeling nie en ons hoop om met hierdie platform ʼn mate van vertroosting en vrede aan mense in hierdie buitengewone moeilike tye te bring.

“Die WWF wil benadruk dat die natuur steeds saak maak en ons moet aanhou om dit te bewaar sodat almal dit weer saam in die toekoms kan geniet. Onthou elke keer as iemand na een van die speellyste luister, verdien ons broodnodige geld om ons organisasie se bewaringspogings voort te sit,” het Smith bygevoeg.

  • Kom luister na die klanke van ʼn rivier in die Soutpansberg-omgewing in dié video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae