Kom kuier by dié Kersmark in Gelofteweek

Foto ter illustrasie. (Foto: Tiard Schulz/Unsplash)

Kersmarkte betower; dit is net liggies, Kersprodukte, kleurvolle Kersboompies en Kersmusiek wat alles herinner aan die verhaal van Christus wat mens geword het.

Elke Kersmark is uniek. Oor die wêreld heen skep gemeenskappe ʼn eie Kersmarkkultuur. In Duitsland, byvoorbeeld, het Kersmarkte ʼn unieke Kersfeesbeker wat met of sonder Glühwein gekoop kan word. Hierdie bekers is versamelaarsitems.

Tydens Gelofteweek van 8 tot 16 Desember 2022 is daar ʼn Kersmark in die Krugergalery by die Voortrekkermonument. Ook hierdie Kersmark spog met ʼn unieke, spesiaal ontwerpte Kersfeesbeker. In Suid-Afrika vier ons wel ʼn Somerkersfees, daarom is ʼn slukkie Glühwein darem nie nodig om die koue te verdryf nie.

Kom ondersteun Die Dameskring se Kersmark wat ook spog met ʼn eie teetuin en ervaar die hartlikheid en warmte van die organisasie waar hulle jou sal bederf met ʼn gratis koppie tee.

Hierdie Kersmark is ideaal vir daardie laaste Kersinkopies voor julle die woonwa haak en see toe vertrek.

Is jy dalk bekommerd oor die Kerskoeke wat nog nie gebak is nie? Kom kry sommer ʼn klaargebakte een by die mark.

As jou ma, ouma, vrou of suster ʼn onderwyser is, is ons Juffrou-hoekie ʼn móét vir oulike geskenke vir onderwysers en hul klaskamers. ʼn Unieke omgeebord is ʼn ideale geskenk vir ʼn vriendin of familielid wat moeilike omstandighede ervaar. Boonop kan die ontvanger van so ʼn omgeebord dit dan later weer aangee vir iemand anders wat omgee nodig het.

Kom maak kennis met ʼn eg Afrikaanse kenmekaarspeletjie – ʼn stel kaartjies sorg sommer vir baie pret en jy sal waarskynlik jou swaer, vrou, neef of skoonma beter  leer ken. Daar is ook vir die braaiers in die familie ʼn reeks spesiale geskenke beskikbaar. Die Kersmark bied ʼn wye verskeidenheid van uitstallers met geskenke om van te kies en keur.

Kersfees is ʼn tyd van gee en uitdeel. Daarom sal 100 mense elke dag ʼn gratis geskenk van die Kersmark ontvang.

Kom kuier by die Kersmark en word deel van ʼn unieke belewenis waar die liefde en warmte van Kersfees ervaar kan word.

(Grafika verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.