Kom maak Fraserburg weer mooi

Fraserburg in die Karoo, Noord-Kaap. Foto: Facebook via My spore lê op Fraserburg/Daniël Lötter

Fraserburg in die Karoo, Noord-Kaap. Foto: Facebook via My spore lê op Fraserburg/Daniël Lötter

Fraserburg in die Noord-Kaap reël ʼn massa-byeenkoms waar huidige en oud-inwoners van dié Karoo-dorpie die dorp weer mooi en heel gaan maak tydens die sestigste herdenking van die NG Kerk op die dorp.

Daniël Lötter, projekbestuurder, sê die dorp is soos baie ander swaar getref deur die gevolge van droogte, armoede, werkloosheid en ontvolking van die platteland.

“Dis ʼn geskiedkundige dorp met unieke argitektoniese skatte, waarvan die “Peperbus” een van die belangrikste is. Die Perperbus is ʼn uitsonderlike gebou en enig in sy soort in Suid-Afrika. Die enigste ander vorm van hierdie argitektuur staan in Zwolle in Nederland. Die Peperbus is vir geslagte reeds die simbool van ons dorp,” het hy gesê.

Volgens is ʼn Facebook-blad vir Fraserburg, genaamd My spore lê op Fraserburg, geskep om oud- en nuwe inwoners van die dorp saam te snoer met foto’s, stories en herinneringe.  “Die Facebook-gemeenskap is baie aktief met lede wat in Taiwan, Kanada, Ierland en regoor Suid-Afrika woon.”

Hy vertel die strukture van die dorp het oor die afgelope jare erg bouvallig geraak en veroorsaak dat die dorp agteruitgaan. Talle huisies wat leeg staan, het ook vervalle geraak.

“Uit die sosiale media-gemeenskap het die gedagte ontstaan om Fraserburgers te nooi na ʼn saamtreknaweek waar elkeen gaan inklim en regmaak waar hulle kan. Dit is ʼn geleentheid waar elkeen sy herinneringe kom hernu, graaf, troffel en besem gaan vat en skoonmaak, regmaak en mooimaak.”

Dit sluit ook die iedee in om aan dorpenaars die geleentheid te bied om ʼn inkomste te verdien eerder as om op maatskaplike toelaes staat te maak. Almal wat die fees bywoon, word ook gevra om plaaslik te koop, plaaslike ondernemings te ondersteun en terug te ploeg in die gemeenskap.

Die sestigste herdenking van die inwyding van die NG Kerk in die middel van die dorp word ook gevier. Daar is reeds ver gevorder met die elektroniese optekening van die doopregister sedert dorpstigting in 1851. Die unieke rol wat twee dorpenaars, Ds. P. D. Rossouw en Henry Cooper (Samuel Zwaartman) gespeel het in die vroeë ontstaangeskiedenis van die Afrikaanse taal, sal ook gevier word.

Danksy ʼn skenking van R100 000 deur ʼn Kaapstadse finansieringsmaatskappy, word beplan om die “Voetspore vir Fraserburg Aksie” ʼn volhoubare proses te maak wat uiteindelik uitgebrei sal word om vaardigheidsontwikkeling en werkskepping te bevorder. Die onderskeie boereverenigings, landbougenootskap en koöperasie is reeds ten nouste betrokke.

Die viering vind plaas van 28 April tot 2 Mei. Besoek die My spore lê op Fraserburg se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Susan Sinclair Stadler ·

My Oupa en Ouma (Koot Van Schalkwyk) het daar gebly, ons het groot geword, deur elke vakansie daar te gaan kuier. Daar le baie herinneringe, mooies, ek sal altyd terug verlang na daardie dae. Oupa en Ouma het geboer op Amice, en neefs op Kerkplaas. My Oupa het later plaas verkoop en in die dorp kom bly. Dit was absolute wonderlike tye gewees, die hele dorp se kinders het saam gespeel in die grondstrate.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.