Koppieteefontein: Kom ons wees dankbaar vir saamwees

Jak de Priester (Foto: Maroela Media)

“Wat is die ergste wat kan gebeur?” vra ek myself dikwels af. Van kindsbeen af, was ek iemand wat die berg agter die molshoop kan gaan haal.

Ek kon myself onnodig bekommer. Al is ek 80% ’n positiewe mens, kan ek myself sonder moeite in ’n fiktiewe negatiewe situasie plaas. Is my wynglas half leeg of half vol? Vir my is hy albei!

Veral in 2020 was my glas baie dikwels half leeg en nie half vol nie. Letterlik en figuurlik. Ek moet eerlik erken dat ek daardie eienskap van my pa geërf het. ’n Goeie mens soos wat my vader is, sal hy self erken dat hy ’n topstresser is en tot vandag nog nie gerehabiliteer is nie. Selfs ná sy aftrede.

Ek onthou as kind dat my pa bitter vinnig angsbevange kon word, vir enige situasie, klein of groot. Net om te braai, was stresvol, want die kole gaan te vinnig koud word. En die vleis mag dalk taai wees en ons moet nou onmiddellik eet, want die kos word koud. En o, jinne, die wolke trek saam, hier gaan nou ’n donderstorm losbreek. ’n Onnodige stresvolle situasie, wat eintlik net ’n spanninglose geselligheid moes wees.

Selfs ontspanning en vakansietye was vir my pa stresvol. Wel, so het ek dit ervaar as kind. Om die karavaan gepak te kry, was problematies. Om op tyd weg te trek, was nooit moontlik nie en ’n groot kopseer, want hy wou nooit in die donker by ons vakansiebestemming aankom nie – dit alles het stres veroorsaak. Die hele pad soontoe stres my pa of ons ’n ideale staanplek vir die karavaan gaan kry. Wat as al die goeie staanplekke reeds geneem is? Daar aangekom, is sy grootste vrees gewoonlik bevestig, dan moet ons met die swakste staanplek, (volgens hom) tevrede wees. Om die karavaan af te hak en die tent op te slaan was die volgende stresvolle ding. Dis asof nie een van die ander lede van ons gesin kon insien hoe my pa die karavaan wou draai nie. Dié kant toe, dan daai kant toe, nee, ander kant toe!

Spanning!

My ma moes net altyd die vrede bewaar. Teen die tyd dat ons afgepak was en die tent uiteindelik opgeslaan is, was my pa al skuins voor ’n ineenstorting. Dan bid ek net daar is ’n bad oop wanneer hy met sy bruin vanity-tassie ablusieblokke toe stap om te gaan bad. Hy sal nie die teleurstelling van ’n oorvol ablusieblok op daardie oomblik kon hanteer nie. En weet enigiemand waar is die badprop en die Dettol!?

Dis hoe ek karavaanvakansies onthou. My pa wat stres en dan slaap hy die res van die tyd om van die stres ontslae te raak. En net sodra hy uitgerus en stresloos wakker geraas word deur ons vier kinders wat ook probeer om ons vakansie te geniet, dan is dit weer tyd om die vuur aan te steek om te braai en dan begin al die stres weer van vooraf opbou, want wat van as die kole te vinnig koud word en die vleis taai is?

Dalk is dit die natuur van die mensdom om so baie te stres of dalk is dit die haastige samelewing wat ons so angstig maak? Ek weet nie, maar wanneer ek weer na my moeder kyk, is dit totaal anders. Sy leef amper stresvry. Sy bekommer haarself nie oor iets voordat die probleem haar nie reg in die oë staar nie.

Ek onthou sy’t altyd vir ons as kinders gesê, “Moenie jouself nou reeds bekommer oor iets wat dalk eers môre verkeerd kan gaan nie. Worry eers môre!”

Aan die een kant sal mens redeneer dat dit dalk beter is om jouself lank voor die tyd voor te berei vir die negatiewe wat mag plaasvind, maar aan die ander kant is dit soms so onnodig om jouself reeds te bekommer oor iets wat dalk net ’n 50%-kans het om te gebeur. Hoe dit ook al sy, ek is hul bloedkind en daarom het ek (nie uit eie keuse nie) 50% van my pa se stresgene geërf en 50% van my ma se dit-help-nie-om-nou-al-te-worry-nie-geen.

Dit bring ’n gedurige toutrekkery tussen die twee pole in my lewe. Die een oomblik sien ek die afgrond, ek twyfel, ek bekommer myself dood, ek slaap nie en voel naar, ek visualiseer die ergste wat kan gebeur, presies soos my pa… en dan sonder dat ek weet hoe dit gebeur het, sien ek weer die lig. Dan dans ek soos my ma met ’n glimlag en druk die afgrond ’n put. Die een oomblik stres ek myself gedaan oor iets negatiefs wat dalk kan gebeur, en die volgende oomblik worrie ek glad nie.

Soos ek hier sit en skryf, berei ek myself voor vir die ergste, want môreoggend 04:00 vertrek my ma en pa uit die Vrystaat om vir ons te kom kuier vir die eerste keer vandat ons in die Kaap woon. My ma sê my pa stres al van gister af dat hy net genoeg slaap sal inkry voordat hulle die langpad aandurf, want die pad Kaap toe is darem vrek ver en hy hoop net hulle het alles gepak en niks vergeet nie. En hy stres oor hoeveel trokke op die pad gaan wees en of die pad te besig gaan wees, want eintlik kan hulle nie regtig stop langs die pad as hy moeg word nie, want dis lewensgevaarlik as gevolg van Covid-19 en op sy ouderdom sal hy nooit oorleef as hy nou die virus moet optel nie en wat as Cyril Ramaphosa die strande weer toemaak, maar dalk is dit beter, want mense volg mos nie die reëls nie, sê hy en hy hoop net nie die petrolpryse styg in die volgende twee weke nie, want hoe gaan hulle weer terugkom by die huis as die petrol skielik te duur is en hy hoop mens kry droë hout in die Kaap, want hoe braai mens met nat hout en wat as die wind heeldag waai, wat doen mens dan?

Ek dank net die Here ons gaan nie kamp met ’n karavaan nie! Nog een tent se opslaan saam met my pa sou die einde beteken. Nie my of my pa se senuwees sal dit oorleef nie.

My ma lag net. Sy kan nie wag nie. Sy sien al so lank uit om te kom kuier in die Kaap, al moes sy kaalvoet deur die Karoo loop, sal niks of niemand haar keer om hierdie vakansie by ons in die Kaap te kom kuier nie. Sy stres oor niks. As die wind waai, dan kuier ons lekker by die huis of ry êrens heen en as dit ’n mooi, sonskyndag is, vat ons al die kinders strand toe en as Cyril Ramaphosa die strande sluit, dan gaan stap ons in die berg en ons geniet net die tyd saam met mekaar.

My ma se laggende stem en my pa wat bereid is om die langpad Kaap toe aan te durf, het my laat besef dat hierdie Desembervakansie een van die belangrikste vakansies nóg sal wees vir samesyn. Vir families om bymekaar te wees. Om ’n ongelooflike, onaangename, verwoestende 2020 af te sluit in die naam van liefde en familie.

Saamwees. Saam lag. Saam sing. Saam bid. Saam eet.  Die grootste deel van hierdie jaar was families in meeste gevalle verpligtend geskei van mekaar. Ouers wat planne gehad het om vir hul kinders in die buiteland te gaan kuier, maar nie kon nie weens die epidemie. Selfs van een provinsie na ’n ander. Maande lank was daar net die hunkering na mekaar. Kinders het na hul ouers verlang en ouers na hul kinders.

En dit het my laat besef dat hierdie feesseisoen belangriker en meer spesiaal as ooit tevore sal wees. Ter wille van die saamwees.

Dus, hier waar ek sit en skryf het ek ’n besluit geneem dat my wynglas hierdie feestyd heeltyd vol gaan wees.  Nie net halfvol nie, maar propvol. Letterlik en figuurlik. Ek gaan almal se geite hanteer en aanvaar. Selfs my eie. My pa hoef nie te braai nie, hy kan net eet. Hy hoef nie te bestuur nie, hy kan net saamry. Wanneer hy wil rus, kan hy gaan lê en as hy wil stres is dit ook fine… Elke ou moet net homself wees, maar die belangrikste is om saam te wees.

Môre gaan ek droë hout soek. Genoeg. En wyn. Genoeg. En ek gaan vir elkeen ’n geskenkie koop. Niks groots of uitspattig nie, net ietsie wat sê dat ek hulle lief het net soos hulle is, kom wat wil – ’n lockdown, ’n virus, hoogtepunte en laagtepunte, val en weer opstaan, ons as familie moet dankbaar wees vir die tye wat ons saam kan wees.

As 2020 my iets kon leer, is dit die volgende: Saamwees is ’n voorreg. En soms kom dit saam met ’n bietjie stres, maar ons almal is net mense.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kompas ·

So lekker artikel om te lees. Dankie Jak. Ek sien myself hierin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.