Kom, praat jou taal in dié plattelandse koffiewinkel

French Toast in Standerton
Foto: Maroela Media

ʼn Koffiewinkel op ʼn plattelandse dorp is iets met ʼn eiesoortige karakter.

Die belangrikste “bestanddeel” van ʼn plattelandse koffiewinkel is waarskynlik die eienaar (wat gewoonlik ook die bestuurder is). Dis dikwels haar (soms sy) geliefde familie-erfstukke wat ʼn staanplek voor die koffiewinkel se kaggel kry, en haar ouma se versameling Afrikaanse boeke wat op die boekrak staan, wagtend om deur ʼn besoeker afgehaal en gelees te word.

Sy ken ook elke besoeker wat die voordeurklokkie laat klingel. As hulle voor die venster (wat op die hoofstraat uitkyk) verbystap, staan sy nader om te groet, en uit te vra oor die kinders en hoe dit op die plaas gaan.

Só ʼn koffiewinkel het nie klante soos in die stad nie; dit het besoekers. Mense kom kuier hier. Hulle kom sit heel oggend en koffie drink en knoop geselsies aan met ander besoekers, of kom sit voor die kaggel met ʼn boek en bestel teen teetyd ʼn stuk wortelkoek met tee.

Jo-Ann Boer van French Toast in Standerton Foto: Maroela Media

Op Standerton ontdek ons onlangs só ʼn koffiewinkel. Die naam buite-op die venster is French Toast, maar as jy deur die voordeur stap, is dinge heeltemal Afrikaans. Jo-Ann Boer, die eienares en bestuurder, kom groet en maak seker ons kry ʼn lekker sitplek en ʼn koppie goeie koffie met room. Van die spyskaart met sy keurige Afrikaans bestel ons tradisionele hoenderkerrie en ʼn hamburger met skyfies. Elke skyfie, verseker Jo-Ann ons, word vars voorberei. Die aartappels het sy self vanoggend gaan koop. En die geheim van die tamatie- en basiliekruidsop, verklap sy, is dat sy die basiliekruid eers byvoeg wanneer die sop gaar is sodat die geur van basilie sterker deurkom. Basilie uit haar skoonma en vriende se kruietuine, natuurlik.

Want in party dorpies is platteland steeds platteland. As jy jou weg vind rondom die slaggate en onthou om drinkwater in vyfliterbottels te koop, kan jy op ʼn plattelandse dorpie nog ʼn tuiste vind soos in die ou dae; waar mense tyd het om stories te vertel en na mekaar se stories te luister, om rondom kos te kuier.

Net soos Maroela – ʼn tuiskomplek op die internet; net so ʼn onwaarskynlike tuiskomplek soos ʼn koffiewinkel in ʼn hedendaagse plattelandse dorpie se hoofstraat.

Dis dié dat ons saam met Jo-Ann besluit het om vir die eerste keer Maroela Media se lekker, eg Afrikaanse en kreatiewe produkte soos blikbekers, T-hemde, ketties en bordspeletjies, op ʼn rak in ʼn regte egte winkel te koop aan te bied.

“Hierdie is ʼn eksperiment vir ons én vir French Toast,” verduidelik Christo Brits, digitalebesigheidsbestuurder van Maroela Media. “Ons kry dikwels navrae van ons lesers wat sê hulle is dol oor ons oulike winkelprodukte wat in ons e-winkel, Die Koöperasie, te koop is, maar hulle wens soms hulle kan gou by ʼn winkel indraf en op die rak loer na die produkte om vir iemand ʼn geskenkie te koop.”

Jo-Ann stem saam. “Ek het voorheen Afrikaanse produkte in die koffiewinkel te koop aangebied,” vertel sy. “Maar dis regtig moeilik om Afrikaanse produkte te vind wat nie by elke tweede stalletjie by ʼn vlooimark beskikbaar is en wat waarskynlik iewers in China vervaardig is nie – spelfoute en al. Ek het dus ʼn tyd gelede ontslae geraak van alle geskenkies en produkte in die koffiewinkel. Maar toe ek Maroela se oulike Afrikaanse produkte op hulle e-winkel, Die Koöperasie, sien, het ek dadelik gedink dít kan nou lekker werk op ʼn geskenkrak in my koffiewinkel!”

French Toast in Standerton
Foto: Maroela Media

Uitgesoekte Koöperasie-produkte is sedert 1 Augustus by die French Toast-koffiewinkel in Standerton te koop, en van die produkte verkoop reeds soos soetkoek, vertel Jo-Ann. “Veral iets soos die lekker tradisionele, handgemaakte ketties is iets wat die dames wat hier kom kuier en koffie drink, sommer graag so met die uitstap vir ʼn kleinseun of buurseun as ʼn geskenkie koop!”

Indien die samewerking tussen French Toast en Maroela Media vir die verkoop van die Koöperasie se produkte goed werk, sal hulle kyk na ander koffiewinkels met dieselfde tipe karakter in ander dele van die land ook, sê Christo. “Dis vir ons belangrik dat die karakter wat ons op die Koöperasie en met die Koöperasie se produkte skep, weerklank vind in koffiewinkels wat die produkte verkoop – soos French Toast in Standerton. Die slagspreuk van Die Koöperasie is ‘Kom, praat jou taal,’ en French Toast is inderdaad ʼn koffiewinkel waar mens met vrymoedigheid ‘jou taal’ kan praat.

“Terselfdertyd moet ons seker maak dat ons die infrastruktuur-uitdagings te bowe kan kom voor ons uitbrei na ander koffiewinkels,” verduidelik hy. “Die Koöperasie is van die begin af beplan as ʼn e-winkel en ons is goed ingerig om as ʼn e-winkel te funksioneer. Maar ons besef dat dit vir ons lesers lekker is om by hul gunstelingkoffiewinkel op die platteland in te draf en ʼn Afrikaanse Maroela-produk op ʼn winkelrak te sien, want Maroela is net so deel van hul lewe soos hul plaaslike koffiewinkel.”

As jy volgende keer deur Standerton ry, of dalk in die dorp of die omgewing woon, gaan loer gerus in by French Toast in Beyers Naudestraat. Drink ʼn koppie koffie, bestel een van die spesiale aanbiedings op die swartbord teen die muur, en snuffel deur die Koöperasie-rak om ʼn ietsie vir elkeen in die gesin aan te skaf voor jy huiswaarts keer.

  • French Toast is in Beyers Naudestraat in Standerton. Hulle is weeksdae van 07:00 tot 17:00 oop en Saterdae en openbare vakansiedae van 08:00 – 14:00 (die restaurant is egter gesluit op Sondae en Christelike vakansiedae). Die koffiewinkel hou een keer ʼn maand ʼn restaurant-aand, sluit gerus by die Facebook-blad aan vir meer inligting hieroor of stuur ʼn e-pos aan Jo-Ann by [email protected]. Alle Maroela-produkte wat in French Toast te koop aangebied word, is ook steeds op Maroela se e-winkel, Die Koöperasie, te koop.
  • French Toast verkoop ook plaaslike kunstenaars se werke en hulle is gereeld op soek na uitstallers van omliggende dorpe – kontak hulle gerus!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CK ·

Ons het ook so ‘n koffiewinkel op ons dorp, maar ons vriende familie is. Lilly’s Poetry.

Lenett Bibbey ( Boer) ·

Wat ‘n lekker lees storie
Susan Lombaard verstaan duidelik van Plattelanders se liefwyse!
Op Jo-Ann se French Toast ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.