Kom studeer sosiale wetenskappe in Afrikaans by AP Akademie

AP Akademie (Foto verskaf deur die APA)

Die Afrikaanse Protestantse (AP) Akademie sal van 2024 af ʼn unieke Afrikaanse Baccalaureusgraad in Sosiale Wetenskappe (BSocSci) aanbied. Daarmee wil die private Christelike hoëronderwysinstelling die toekomsweë vir nog meer studente oopsluit.

“Ons is verheug dat die registrasie van hierdie nuwe program goedgekeur is,” sê prof. Gerrit Smit, die vise-kanselier en rektor van die AP Akademie. “Dit is ontwikkel vanuit die  groot behoefte aan afgeronde, funksionele individue wat ‘n noemenswaardige rol kan speel in die ontwikkeling van ons gemeenskappe in velde soos sielkunde, filosofie, sosiale wetenskappe, ekonomie, onderwys, politiek, joernalistiek, kommunikasiekunde en tale.”

Die beoogde kwalifikasie spreek behoeftes aan van die nywerhede, onderwys en ander sektore deur die voorsiening van gegradueerdes wat in Suid-Afrikaanse gemeenskappe kan uitblink, dienste gebaseer op toegepaste kennis en vaardighede kan verskaf in ‘n immerveranderende wêreld asook die benutting van kritieke probleemoplossings- en etiese leierskapsbevoegdhede.

“Wat die BSocSci-kwalifikasie by die AP Akademie besonders maak, is dat die leer- en onderrigtaal Afrikaans is, en dat dit uniek en uitsonderlik vanuit ʼn bepaalde klassiek-Christelike grondslag aangebied word. Ons is die enigste hoër onderwysinstelling wat hierdie graad op so ʼn manier aanbied,” sê Smit.

“Hierdie kwalifikasie sal gegradueerdes onvermydelik vooruitsigte bied om direk toegang tot geleenthede in die wêreld van werk te kry. Verrykte individue sal in staat wees om tot ‘n ontwikkelende ekonomie met geleenthede vir almal by te dra, deur die benutting van oordraagbare vaardighede, onafhanklike- en kreatiewe denke. Sodoende verkry die Suid-Afrikaanse gemeenskap afgeronde individue met bevoegdhede om tot die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling in die algemeen by te dra.”

Jong leiers met ‘n aanleg in geesteswetenskappe, met onder andere kommunikasie- en kreatiewe skryfvaardighede, asook kritiese en strategiese denkvaardighede sal by uitnemendheid by dié kwalifikasie baat. Gegradueerdes van hierdie kwalifikasie sal in staat wees om in beroepe en velde soos sielkunde, onderwys, taalpraktyke, arbeidsverhoudinge en die ekonomie te werk, om maar net ‘n paar te noem.

Leerders wat tipies toegang tot hierdie kwalifikasie sal soek, sal ‘n Nasionale Senior Sertifikaat, of ‘n gelykwaardige kwalifikasie op vlak vier van die NKR met ʼn vereiste puntetelling benodig.

Meer inligting oor die Baccalaureusgraad in Sosiale Wetenskappe sal binnekort op die webwerf verskyn, maar belangstellendes kan die AP Akademie nou reeds by 012 344 3960/1/2 skakel om meer uit te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Begin by laerskool en vorder na nagraads en maak dan seker dat daar werk is vir die studente sodat hulle kinders weer die proses kan volg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.