Kom vier Erfenisdag by Voortrekkermonument

Die Voortrekkermonument. (Foto: Nico Strydom)

Die 24ste September is ’n dag waarop jy jou erfenis kan herdenk en vier. Wat kan nou ’n beter plek wees om dít te doen as die Voortrekkermonument?

Mense kan uitsien na feestelikhede soos die FAK-Polsslagkosfees, die Antiek- en versamelaarsmark, asook ’n laer waar voorstellings gehou gaan word van hoe die Voortrekkers geleef, kos gemaak en patrone vervaardig het.

Daar sal ook ’n messeskou in die Voortrekkersaal wees.

Die monument se nuwe Transvaalkamer word geopen saam met die familie van die voormalige administrateurs van die Transvaalse Provinsiale Administrasie.

As jy ’n stukkie melktert wil hê, dan moet die fees in jou kalender ingepen word. Die langste melktert in die geskiedenis sal voor die monument gemaak word. Hulle beoog om ’n 12 m lange melktert te maak wat 9 vk. m groot is. So, pak jou soettand in. Die Voortrekkers se Polsslag-kommando saam met hulle graadeen-, graadtwee- en graaddrie-Voortrekkers pak die projek aan. Die melktert sal om 09:30 gesny word, kom dus vroeg.

Die Pioniersentrum bied ook ’n leerprogram vir die jongspan aan tussen 09:00 en 11:00. Aktiwiteite sluit in broodbak en botterkarring op die pioniersmanier, en die saambou aan ’n miniatuur-hartbeeshuisie. Die program kos R100 per kind.

Vir dié wat meer avontuurlustig is, is daar laser tag-speletjies op die terrein. En wat sal Erfenisdag dan nou sonder lekker boeresport wees?

Daar is natuurlik geen tekort aan vermaak nie. Die Jakaranda Boereorkes speel van 17:00 tot 21:00. Daar sal Volkspele wees van 11:00 af en Phillip Kotze en Vriende sal die gehoor van 14:00 tot 17:00 vermaak.

Lekker FM is ook die dag op die terrein en sal van 15:00 tot 18:00 vanaf die monument regstreeks op 98.3 FM uitsaai.

Erfenisdag is soveel meer as net ’n pretdag. Daar is verskeie gemeenskapsprojekte wat jy ten bate van ’n goeie doel kan ondersteun.

’n Goeie daad op Erfenisdag

Die tydskrif Lig se bedieningsgroep samel skoolskoene, skooltasse en skryfbehoeftes in vir minderbevoorregte kinders.

Hannah Grobler se Charity & Empowerment Foundation sal ook by die monument wees om komberse, klere en niebederfbare produkte vir minderbevoorregte kinders in te samel.

Die sangeres Corlea se Genadesak-projek staan vroue by. Jy kan ’n handsak of twee met damesbenodighede skenk; dit gaan alles vir vroue wat mishandel is en trauma beleef het.

Wil jy dalk iemand se lewe red? Ondersteun die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens waar jy op die Voortrekkermonument se terrein bloed kan skenk.

Jy kan ook ’n simbool van hoop wees vir siek mense. Kansa, die organisasie wat mense bystaan wat kanker het, verkoop kolwyntjies op 24 September en doen ’n shavathon. Jy kan jou hare afsny of kleur en ’n skenking maak wat siek mense sal bystaan.

Moenie Erfenisdag misloop nie. Kom geniet goeie kos, vermaak deur verskeie groepe en kunstenaars, asook ’n erfeniservaring soos min.

Alle Covid-19-maatreëls sal streng gevolg word en die hekke open 08:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.