Komedie met kar se vroegoggenddiens

motor-herstelwerk-kar-probleme

Foto ter illustrasie. (Foto: Fancycrave/Pexels)

Dié keer het my motor se vroegoggenddiens behoorlik in ʼn onding ontaard, en vir die een of ander rede rol my kilometers só dat die diens altyd in die koue Kaapse winters val, wanneer dit nog donker is.

Vanjaar se winter, wat hoofnuus maak vir gietende reën wat vir dae lank val en temperature wat jou hande rooipers maak, eis sy tol op mens en dier. Vloedskade beloop miljoene en dié winter staan maar nog in sy babaskoene.

So breek diensdag-Dinsdag aan en die vrolike deuntjie van die sesuur-wekker klink soos ʼn tandarts se geboor hier langs my oor. Almal weet hoe vroeër jy inklok en jou motor in die ry kry, hoe vinniger het jy weer wiele. So ek spring in eerste rat. Daar is nie tyd om al die ligte aan te skakel óf te wag vir die kraanwater om warm te word nie. Die yskoue water op my gesig blaas darem al die nagnewels dadelik weg en ek gryp ʼn denim, T-hemp, tekkies en ou trui. Woerts-warts is ek in my klein swart buksie in die donker, op pad af dorp toe na die Stellenbosch-tak van die Let’s go places-handelaar.

Daar gekom kronkel die uitlaatgasdampe van die vyf voertuie wat my voorgespring het deur die Bolandse mis. Die wag raak lank want ʼn vrou met ʼn knyperbord luister geduldig na elke motor se skete, terwyl sy noukeurig notas maak. Ek klim na ʼn rukkie uit en staan die “fabriekslyn” en betrag, terwyl ek die elf grade uit my hande probeer vryf.

So staan en dink ek aan ʼn motordiens, so ʼn dekade of twee gelede, wat ook so ʼn vroegoggend-gejaag in die donker en in nat, koue weer was.

Die Kaapstadse tak van dié motorhandelaar is egter baie groter as sy mater in Stellenbosch en daar was ʼn string karre agter my vir die vroegoggend inklok.

Ek het ook tydens die wag vir my beurt uit verveeldheid uitgeklim en die slakkepas-vordering staan en bekyk. Dit was regtig ʼn tydsame affêre en ek kon doodluiters (met my motor wat luier) in die ontvangskamer ʼn koppie kitskoffie gaan kry.

So stap ek ewe rustig terug kar toe, in volle aansig van al die motors wat wag, nog met hulle ligte aan hier voor sonsopkoms.

En hier kom dit nou: ek gaan staan ewe lekker teen my karretjie en vat ʼn teug (sonder-skop) koffie toe ek die tikkie op my skouer voel. “Ekskuus, mevrou,” sê die man effens koponderstebo, “Jammer om te pla, maar daar hang iets by u broekspyp uit.”

Hy verdwyn soos mis voor die son.

Ek kyk af. Tot my skok en skaamte sien ek die bruin knielengte sykous wat by my denim se linkerpyp uithang en uiteraard nog heeltyd lustig agter my aanwapper – ten aanskoue van al die bestuurders agter my in die ry…

Die dapper viertrekman wat die petalje betrag en maar die woord kom doen het, sit toe reg agter my. Ek vang sy oog en knik uiters selfbewus my kop as “dankie”. Hy knik ewe sedig terug maar ek kan sien die lag lê vlak.

Hier in die hede, met die vroutjie-met-die-knyperbord wat nader stap, voel ek sommer weer van vooraf die warm gloed van verleentheid by my kiewe opstoot.

Uiteindelik staan sy reg voor my en groet vriendelik. Ons stap saam om my motor, waar ek hier en daar iets uitwys en toe ons weer tot stilstand kom sê sy ewe nonchalant: “Mevrou, jou trui is verkeerdom aan.”

Ek vat-vat so agter my en wraggies, ek voel die etiket en binnesome wat na buite uitbult. “Toemaar, die oumense sê mos as jy jou klere omgedop dra kan jy ʼn geskenk verwag,” grinnik sy. Ek registreer so met die lag dat dit nogal presies is wat my ma altyd gesê het.

En toe vertel ek haar van my sykous-skandes en sy skúd van die lag!

Hoewel ʼn ou verkeerdom-trui nie naastenby soveel verleentheid veroorsaak soos ʼn sykous wat ten aanskoue van die wêreld by jou broekspyp uithang nie, troos ek my in elk geval met ʼn aanhaling wat gretig êrens in my kop vir sulke tye wag: “My oomblikke van verleentheid is ʼn klein bydra tot die wêreld van vermaak.”

Maar in dieselfde asem gesê, sal my volgende motordiens in die somer wees.

Helder oor dag, en my klere sal reg lê.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.