Wen: Gee saam met ons ʼn wasmasjien weg!

 wasgoed_draad_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

In die meeste huise is ʼn wasmasjien ʼn vanselfsprekende stukkie toerusting – nie ʼn luukse nie, maar bloot ʼn vanselfsprekendheid.

Só neem ʼn mens aan, tot jy die inskrywings sien wat ingestroom het vir die kompetisie waarin Maroela Media en die vervaardigers van die Afrikaanse film Vuil wasgoed onlangs ʼn wasmasjien weggegee het.

Lesers kon iemand in hulle lewe wat ʼn wasmasjien nodig het, vir die prys nomineer. Nominasies het gewissel van enkelma’s wat lang ure werk en snags met die hand moet wasgoed was, tot tehuise en versorgingsentrums wat na behoeftiges en gestremdes omsien en bloot nie ʼn luukse soos ʼn wasmasjien kan bekostig nie.

Ná baie kopkrap het Maroela Media en die Vuil wasgoed-span uit die inskrywings wat ontvang is, tien finaliste aangewys. Nou is dit jou beurt om ons te help om uit dié finaliste ʼn waardige wenner te kies. Lees hier onder hoe jy kan deelneem:

Maar hoe gemaak met die nege finaliste wat nié ʼn wasmasjien gaan kry nie?

“Ons weet ons lesers het oop harte en hande. Daarom hoop ons dat sommer nog ʼn klomp lesers ons gaan laat weet hulle het ʼn ekstra wasmasjien wat iewers rondstaan, en wat hulle wil skenk vir een van die finaliste wat dalk naby hulle woon,” sê Annelize Brits, projekbestuurder by Maroela Media. “As jy ʼn ekstra wasmasjien het waarvan jy ontslae wil raak, en jy woon in dieselfde omgewing as een van die finaliste wat ʼn wasmasjien nodig het, laat weet ons. Ons sal jou en die persoon of instansie wat die wasmasjien nodig het, in kontak sit met mekaar. Wie weet, dalk gee jy ook nog ʼn wasmasjien vir Kersfees weg,” sê sy.

bouwer-en-bennie-vuil-wasgoed

Foto: Die twee hoofkarakters, Bennie Fourie en Bouwer Bosch. Vuil Wasgoed is van 8 Desember landswyd in teaters te sien. Foto verskaf.

Volgens Bennie Fourie, vervaardiger van Vuil wasgoed, gaan die kompetisie juis nie net oor een wasmasjien nie, maar eerder daaroor dat mense se nood raakgesien word. “ʼn Mens kan skaars glo dat iets so eenvoudig en klein soos ʼn wasmasjien ʼn reuseverskil in iemand se lewe kan maak,” sê hy. “Soms sit ʼn mens met soveel potensiaal in jou huis wat ander mense se nood kan verlig. Jy kan werklik ʼn groot impak op iemand anders se lewe maak sonder dat jy dit eens besef.”

Hier is die tien finaliste se stories – stem gerus vir jou gunsteling deur onderaan die artikel te kliek op die finalis wat volgens jou die wasmasjien as ʼn prys moet kry:

  1. “My ma het al die jare ʼn klomp kinders en kleinkinders se wasgoed met die hand gewas. Ek het haar altyd so jammer gekry as ek sien hoe sy moes wasgoed was met die jongste op die rug. Ja, ek dink met ʼn klompie jare se kinders en kleinkinders, asook nou agterkleinkinders, kan sy doen met ʼn luukse soos ʼn wasmasjien, wat haar in staat sal stel om agteroor te kan sit en ontspan terwyl die masjien die werk doen.” [Touwsrivier]
  1. “Maria* is my huishulp. Sy werk al twee jaar vir my en is deur ʼn moeilike tyd in haar lewe. Sy moet na haar kleinkinders kyk, en versorg ook haar eie kinders. Sy is geskei van haar man wat haar vir jare lank aangerand en geslaan het. Sy is deur baie! Ek self kan nie vir haar ʼn wasmasjien koop nie, maar weet sy het een nodig. As dit reën of iets, kom was sy ʼn paar goedjies by my. Sy is al 45.” [Daniëlskuil]
  1. “Ek weet almal trek swaar, en daar is so baie mense wat graag ʼn nuwe wasmasjien sal wil hê, maar ek wil my ou moedertjie nomineer. Ons was die afgelope naweek by haar in Leeudoringstad. Dit is ongelooflik droog daar, en dit het my hart net verder gebreek. Moedertjie was nou maar met die hand, aangesien haar ou wasmasjientjie besluit het om finaal te groet. My man het vir Pa probeer help om te red wat hulle kon, maar haar ou jaar-voertsek-model wasmasjien het sy laaste draai gewas voor hy besluit het: tot hier en nie een bondel verder nie. Ek glo die liewe Vader weet wie hierdie wasmasjien die meeste nodig het, en daarom laat ek dit by Sy voete en glo Hy sal moedertjie raaksien, hetsy deur Maroela Media of op ʼn ander manier.” [Leeudoringstad]
  1. “My ma is een van die mees hardwerkende mense wat ek ken. Sy versorg my bejaarde stiefpa wat nou grootliks aan sy bed gekluister is. Dit is glad nie ʼn glamorous taak nie, en my ma moet alle vuil wasgoed met die hand was. Sy kla nooit nie. Sy is ʼn diabeet met fibromalgia en verduur daaglikse pyn. Ons kinders is nie in staat om vir haar ʼn wasmasjien te koop nie, en sy is afhanklik van ʼn staatspensioen. Dit sal wonderlik wees om ʼn bietjie verligting in haar lewe te kan bring, veral omdat sy altyd alles vir ander doen en gee, en nooit iets terug verwag nie.” [Worcester]
  1. “Ons is ʼn ouetehuis (nie-winsgewende organisasie) hoofsaaklik vir afgetrede verpleegkundiges waarvan sommige se ouderdom in die laat 80’s of vroeë 90’s is. Ons huisves 40 bejaarde dames. Ons was daagliks die inwoners se wasgoed, asook alle wasgoed van die siekeboeg-eenheid, wat beteken die twee masjiene werk voldag. Ons het gereeld probleme met die masjiene aangesien hulle redelik oud is en reggemaak moet word. Dit bemoeilik die wassery as een masjien staan of buite werking is. Dit kan die werklas heelwat verlig as ons een nuwe masjien het.” [Northcliff]
  1. “Riempies*, soos ons hom ken, werk al tien jaar vir my – hy is altyd betyds en altyd hardwerkend. Hy sorg alleen vir sy meisiekind: sorg dat daar altyd kos is, dat hulle blyplek altyd skoon is en dat hulle altyd netjies lyk. Dit vat hom elke Sondag amper die hele dag om hulle klere met die hand te was en te stryk. Ek glo as hy ʼn wasmasjien het, kan dit vinniger gaan met die klere was sodat hy meer tyd saam met sy dogter kan hê.” [Bloemfontein]
  1. “Martie Groenewald* het ʼn 9-jarige seun en tweelingseuns van 3 jaar oud. Haar man het haar gelos ná die tweeling se eerste verjaarsdag. Martie verdien hierdie wasmasjien! Sy sukkel deur elke maand om al die uitgawes te dek. Sy werk by ʼn klerewinkel. Om drie seuns vrou-alleen groot te maak, is nie maklik nie. En vier mense se wasgoed in haar huishouding kan nie maklik wees nie. Ek gun haar en haar seuns ʼn lewe sonder bekommernisse.” [Hoopstad]
  1. “Carina* is my sussie en ek ken nie iemand wat sterker staan ten spyte van wat met haar gebeur nie. Sy kla nooit nie. Haar wasmasjien is stukkend, maar sy het ʼn plan gemaak en weet presies hoe en waar om die masjien met die hamer by te kom dat hy kan werk. Verder moet sy haar seuntjie oppas en elke dag help oefeninge doen. Hy het [die funksies van] sy linkerbrein verloor nadat hy ʼn skaars soort epilepsie ontwikkel het. Carina kan vreeslik hard werk, maar ek dink sy kan liewer tyd met haar seuntjie deurbring as om wasgoed met die hand te was as haar masjien uiteindelik breek.” [Kempton Park]
  1. “Rock of Hope is ʼn plek van veiligheid vir kinders en babas. Mientjie kyk gemiddeld na nege en meer kinders. Hulle wasmasjien was onlangs weer stukkend en moes herstel word. Daar word BAIE wasgoed gewas om die kinders skoon te hou. Help hulle, asseblief!” [Montana Park]
  1. “Die eienaar van Kielievoetjies-dagsorg* het ʼn skooltjie met kinders van ouers wat op die lande werk. Daar is meer as een kleuter wat sommer drie dae met dieselfde broekie of hempie skool toe kom. Ek neem aan dis om tyd te spaar. Die mammas kan net oor naweke wasgoed was. Dit sal ʼn aanwins wees om ekstra geldjies ook in te samel sodat van die mammas kan betaal om hul wasgoedjies self by die skooltjie te was.” [Swellendam]

* Skuilname

Stemme vir die wasmasjien-kompetisie sluit Donderdag om 08:00. Die wenner word op 8 Desember aangekondig.

Indien jy ʼn ekstra wasmasjien het wat jy wil weggee en jy woon in die omgewing van een van die finaliste, stuur vir ons ʼn e-pos by [email protected].

Vuil Wasgoed is van 8 Desember landswyd in teaters te sien.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.