Kongres vir kerke wil gemeenskappe bevorder

Hannes Noëth by 2019 se Helpende Kerke-kongres (Foto verskaf)

As daar een saak is wat Covid-19 opnuut bevestig het, is dit die belangrike rol wat die kerk in die samelewing speel.

Daarom skop Solidariteit Helpende Hand 2022 op ʼn hoë noot met die Helpende Kerke-kongres af, wat vanjaar vir die tweede keer sedert 2019 aangebied word. Die tema van vanjaar se kongres is “gemeenskappe in geloof”.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, sê die doel van die kongres is om ʼn platform vir rolspelers te skep om saam te dink, saam te praat en saam te beplan oor die samelewing se opdrag om na mekaar om te sien, mekaar lief te hê en mekaar te versorg.

“Solidariteit Helpende Hand se fokus is gemeenskapsontwikkeling, en ons is terdeë bewus daarvan dat dit nie moontlik sal wees om gemeenskappe te ontwikkel sonder om die rol van die kerk te beklemtoon en bevestig nie,” sê Noëth.

Die kongres vind op 23 Februarie tussen 08:00 en 15:00 by Leriba Lodge in Centurion plaas. Toegang is R350 per persoon vir belangstellendes wat die kongres wil bywoon, en die koste sluit ʼn ligte ontbyt en middagete in. Indien meer as vier kaartjies deur dieselfde instansie op een slag aangekoop word, sal die koste slegs R300 per persoon beloop. Belangstellendes kan ook die kongres regstreeks aanlyn kyk teen slegs R50.

Die program beloof baie insiggewend te wees en gaan fokus op die kerk en kinderhuise; die kerk en bejaardes; die kerk en die jeug; die kerk en gestremdes; die kerk en pastorale kwessies; die kerk en gesinne; die kerk en gemeenskapsorganisasies; en die kerk en toekomsverwagtinge.

Verteenwoordigers van die AGS, Hervormde, Gereformeerde, Doxa Deo, NG en AP-kerke gaan onder meer ook hul uitdagings, sowel as positiewe aspekte rondom gemeenskapontwikkeling kom deel.

Slegs ʼn beperkte aantal plekke is beskikbaar. Die kongres is ideaal vir kerke se voorsitters, kerkraadslede, leraars, pastore, diakonieë, welsynsgroepe of enige ander belanghebbendes.

“Kom deel in ons dag oor roeping, fokus, strukture, rooi ligte en vreugdes in die bou van ʼn gemeenskap,” sluit Noëth af.

Vir meer inligting, stuur ʼn e-pos na [email protected], of registreer aanlyn by www.helpendekerke.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.